VISUAL ART

Nardus herskep Tinarie se grootste oomblikke

Produksie: 10Karakters10Characters met Tinarie van Wyk Loots deur Nardus Engelbrecht
Skrywer: Jo-Ann Floris
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Snags lê ek en soek en sê halfvergete woorde op
uit tien of twintig toneelstukke waarin ek gespeel het,
alles deurmekaar, en ek kom by niks anders uit nie.
Al sukses wat ek ooit behaal het, was op die
verhoog, maar as die gordyne sak en die décor word
afgebreek, dan is dié stukkie lewe weg, iewers-heen,
en dan? Wat is ek dan? Wat het dan van my geword?

Of is ek saam met die voetligte afgeskakel?
Hou ek eenvoudig dan op met lewe tot daar weer
eendag ’n gordyn oopskuif oor dieselfde toneel of ’n
ander?

Al sekerheid wat ek het is die vermetelheid van
gememoriseerde woorde.

– Orgie, A.P. Brink

Elke toneelstuk waarin sy ooit gespeel het, het iets in haar agtergelos. Maar hierdie woorde uit Orgie is een van die toneelstukke wat vir Tinarie van Wyk Loots uitstaan, juis omdat dit soveel raakpunte met haar lewe as aktrise het. Die stuk is ’n verwerking van André P. Brink se gelyknamige roman, oor vervreemde minnaars en hul soeke na iets meer.

Nou, jare ná die rol, is dit en ander hoogtepunte weer herverbeel en verewig deur Nardus Engelbrecht in sy portretprojek 10Karakters10Characters wat Tinarie se loopbaan karteer. Teen die mure van die Adam Small-teater se foyer kyk die foto’s met ’n uitdagende air vir die mense wat daar sit en rondstaan voor vertonings.

“Kom, I dare you to look,” praat Tinarie met jou. Die foto’s is onapologeties.

Tinarie en Nardus werk sedert 2019 aan die projek, ’n uitvloeisel van die jare wat hul paaie gekruis het van verskillende kante van die verhoog. Covid-19 het dinge deurmekaargekrap, want weens die inperking het die land tot stilstand gekom. Toe begin die terugtog van mense na teaters nadat die pandemie se beperkinge opgehef is, en die projek herleef ook weer.

Daar moet ’n besonderse verhouding tussen akteur en fotograaf wees om iemand so naby toe te laat dat hulle jou op jou weerloosste kan vasvang. Vir Tinarie en Nardus was dit ’n beginpunt om daardie vertrouensverhouding te vestig toe hy gevra het om akteurs af te neem in hul kleedkamers in daai minute voor die gordyn lig, voor die kostuum aan is en die grimering op is.

“Die teater is ’n veilige plek, dit word ’n heilige spasie. Enigeen wat ’n kaartjie koop, gaan ’n kontrak aan met jou dat hulle daai ruimte gaan respekteer, so om ’n foto sonder toestemming te neem en te versprei waar jy jouself blootlê, verbreek die kontrak,” sê Tinarie. “Daarom is dit belangrik om iemand genoeg te vertrou, want tussen fotograaf en akteur is daar ook die kontrak van wedersydse respek.”

Elke rol verg baie van haar, maar dis ’n fix wat haar siel en gemoed voed.

“Ons en die gehoor het mekaar nodig om te co-exist.

“Covid was moeilik, want jy het daai affirmation, erkenning van die gehoor, they bore witness to what you did. Hulle het dalk gehou van wat jy gedoen het, dalk het hulle dit gehaat. Maak nie saak nie, hulle loop nie onaangeraak daar uit nie.”

Vir Nardus was dit nie eens ’n opsie om iemand anders as Tinarie as die onderwerp van die projek te kies nie.

“Jy gaan nie maklik iemand kry wat kan doen wat sy doen nie. Daar sal nog ander soortgelyke projekte wees, maar Tinarie moes die eerste een wees.

“Tinarie is baie privaat, maar sy het my toegelaat in haar huis, haar ruimte. Dit is die beste manier wat ek aan kon dink om hulde te bring aan iemand se loopbaan.”

Die pad wat die uitstalling geloop het, vertel sy eie storie.

“Ons moes alles reimagine, want dis gedoen lank nadat die produksies al gedoen is,” verduidelik Nardus. “Dis juis hoekom hierdie vir my so ’n belangrike projek was. Maak nie saak hoe briljant die stuk is nie. As dit klaar is en die gordyn sak, dan is dit verby. Ek wil daai vlietende oomblik verewig.”

Die idee was altyd ’n uitstalling, maar toe kom Covid en dit word ’n aanlyn uitstalling. Nardus het aan verskeie deure geklop ná die inperking om die uitstalling te hou, en by die Vrystaat Kunstefees het feesdirekteur Michael Garbett vir hom die geleentheid gegee om die uitstalling op so ‘n groot skaal te druk. Die uitstalling het vanjaar daar in Bloemfontein geopen.

Tinarie moes besluit op 10 karakters wat vir haar na aan die hart lê, en toe begin die werk om die karakters te herverbeel en in portrette vas te vang. Hulle het alles self gedoen, van kostuums tot die dramatiese grimering.

“Tou, papier en lap. O, en daai is my kombuismes,” beduie sy na die een foto om te verduidelik hoe alles gedoen is met wat in die huis was.

So is die bloed en guts toe ’n mengsel van koffie en stroop – alles slim aangewend vir effek.

Om nou na die foto’s te kyk, herken sy die tye wat sy swaargekry het, emosioneel. En dit is hoekom sy jonger akteurs aanmoedig om na hul geestesgesondheid te kyk.

“Ons beroep is veeleisend, elke karakter los iets by jou, maar dit kan jou verswelg.

“Ek het ’n harde skeidslyn getrek toe my ma siek raak, en ek moes prioritiseer – doen ek ’n show of spandeer ek tyd met my ma. Nou is my ma weg, en ek sal nooit daai tyd kan terugkry nie. Mens moet tyd maak.”

Fly at once, he said, all is discovered, is een van haar tatoeërmerke. Dit kom uit ’n gedig waar ’n jong dogtertjie elke keer wanneer sy bietjie die pad verloor, deur ’n seekoei-spook herinner word met dié woorde om weer haarself te vind.

So kyk die foto’s na haar, en sy kyk terug. Dan vind sy weer die pad na haarself.

*
Die uitstalling is nog tot Maandag 7 Oktober in die Adam Small-teater se foyer te sien.

Facebook
Twitter
LinkedIn