OPINIE

As die dag ander planne het…

Foto’s: Nardus Engelbrecht, AB Jantjies, Natalie Gabriels 

As jy vir ’n feespublikasie skryf, soos Ilza Roggeband al baie jare doen, moet jy beplan. Minute, soms selfs sekondes, kan ’n verskil maak. Maar soms kan die beste beplanning in ’n omslagtige gedoente verander.
’n Ware poespas.

poes·pas s.nw. [versamelnaam] (weinig gebruik)
snaakse mengelmoes; omslagtige gedoente; deurmekaarspul; hutspot

Donderdagoggend is ek vroeg op. Ek gaan sit en werk in my pajamas in die kombuis by die huis wat ek met drie ander INK-joernaliste deel. Ek wil my werk klaarkry, want om 10:00 moet ek Hedda Gabler gaan kyk.

Net om te verduidelik: As jy vir ’n feespublikasie skryf, is daar ’n indeling, amper ’n hiërargie. Marina doen die groot dramas; Herschelle is goed met die jong stemme; van politiek en diskoers kan jy vir Jo-Ann min vertel; boeke en toneel is Johan se ding; klassieke musiek is Wayne, Naudé en Willem se terrein; en Nadine ken haar storie wanneer dit by kontemporêre musiek kom. Maar dit sê nie enigeen van ons kan nié oor enigiets anders skryf nie. Ons wil natuurlik graag sien wat in die ander genres aangaan.

Dus, om ’n lang storie kort te maak: Hoewel ek nie oor Hedda Gabler, Speelgoed van glas of ’n Begin gaan skryf nie, gaan ek alles in my vermoë doen om dit te siene te kry. By die laaste twee kon ek uitkom; nou is dit nog net Hedda – en dan is dit duim vashou dat Kruispad of die legende van die goue vis en Albatros in die toekoms op die planke is.

Terug by Donderdagoggend: Om 08:22 kry ek ’n WhatsApp van ’n vriend wat elders woon, maar vir ’n paar dae by die Woordfees is. Dis sy laaste dag by die fees.

“Is jy nog iewers?” vra hy.

“Ná 12:00. Hoe laat ry jy?” vra ek.

“Halfelf is ek weg,” sê hy.

“Tot ons mekaar weer sien. Kom volgende keer langer,” antwoord ek.

Ek probeer nog smeek, maar besef ek is besig om daai mens te word vir wie ek min ooghare het – die een wat laat is en dan almal in die teater se aandag aftrek

EK STORT en trek aan. Teen 09:40 is ek en Johan, met wie ek die huis in Paradyskloof deel en wat soggens ’n lift saam met my kry, op die dorp. Ek moet nog ’n kaartjie vir Hedda kry, maar besluit ek gaan nie by Erfurthuis koop nie; ek vat sommer dadelik ’n Woordfeesbussie Renish toe en koop dit daar by die deur.

By Renish is dit stil, maar ek ploeg moedig voort. “Tannie is by die verkeerde venue. Hedda is by die Adam Small,” sê die vriendelike jong vrou by die deur.

Poespas.

Ek stap uit, sien ’n Woordfeesbussie van Bloemhof se kant kom en wuif. Klim in en vra of hy my vinnig by die Adam Small kan kry. Ek is laat, minute laat. Ek probeer nog smeek, maar besef ek is besig om daai mens te word vir wie ek min ooghare het – die een wat laat is en dan almal in die teater se aandag aftrek net omdat hulle nie beter beplan het nie.

Daar is ’n gesprek van die Taalkommsissie oor Afrikaans in die Seminaarkamer by die Adam Small en ek stap op. Sit lank genoeg om verskeie waarhede en mooi goed oor Afrikaans te hoor.

“Variëteite in Afrikaans is nie afwykings nie.”

“Ons kry navrae oor hoeveel woorde daar in Afrikaans is, en die kort antwoord is ons weet nie. Neem byvoorbeeld ‘woord’. Sit ‘fees’ daarby en dit word ‘woordfees’. Ons in nou in ’n lokaal; dus is dit ‘woord + fees + lokaal’. En so kan ons aan en aangaan.”

“In die woorde van George Weideman: Net omdat woorde nie in woordeboeke is nie, beteken dit nie dat hulle nie bestaan nie.”

“In die Overberg is ons nie hartseer nie; ons is huilerig.”

“Een van die nuutskeppings wat ons gekry het, is ‘hondtrovert’, met ander woorde iemand wat eerder by hulle honde as ander mense wil wees.”

Hoe mooi.

SKUINS VOOR 11:00 verskoon ek my saggies en haas my na Oude Leeskamer vir ’n gesprek oor kunsversameling, aangebied deur Strauss Co. Google Maps is op my foon en ek suiker af Dorpstraat toe. Iewers moet ek links, maar ek regs en kom eers later my fout agter. Ek gaan sit seker so 11:10 op ’n stoel in die agterste ry.

Poespas.

Die kunsgesprek is fassinerend en ek is bly ek het deurgedruk. Die aanbieders, Karel Nel, kurator van die Norval-stigting, en Hayden Proud, kurator van historiese versamelings by die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad, vertel onder meer van die enorme inlvoed wat mense soos Linda Goodman, Esmé Berman en Nell Erasmus op die Suid-Afrikaanse kunslandskap gehad het. Die Peter Stuyvesant-versameling wat iewers verlore gegaan het as gevolg van een maatskappy wat deur ’n ander oorgeneem is. Hoe ’n Pierneef in 1971 vir die enorme bedrag van R8 000 verkoop is en ’n Irma Stern vir R3 200. (Stern se Children Reading the Koran is in 2023 vir R22,3 miljoen verkoop, en Pierneef se “Hoëveldlandskap” op ’n veiling, ook in 2023, vir R8 miljoen…)

Ná die tyd gaan kyk ek na die uitstalling op die grondvloer van werk wat op 12 November op ’n regstreekse aanlyn veiling in Johannesburg verkoop gaan word.

Daar is ’n Picasso, ’n Tretchikoff, verskeie Kentridges, ’n Anton van Wouw-beeld en ’n fabelagtige hoenderhaan deur Neil Rodger.

My dagprogram is weer op dreef. Tweeuur die middag klok ek in vir Ian Roberts wat praat oor sy biografie. Ek laat my boek teken en lyk soos ’n skaam tienermeisie wat die eerste keer vir Sloet ontmoet. Vroegaand drink ek ’n glas wyn saam met ’n vriendin en haar man en vertel van my vele hoogtepunte die afgelope paar dae.

Later stuur die vriend ’n boodskap: “Ek het na Frieda van Heever geluister op Spotify. Lanklaas iets so goed en mooi in Afrikaans gehoor. Dankie.”

’n Mens kan dalk beplan so goed jy kan, maar soms het ’n dag ander planne. Selfs in ’n poespas, ’n omslagtige gedoente, ’n deurmekaarspul, kan jy leer en beleef.

En nog ’n dissipel werf vir Frieda.

Ns. Ek gaan vanaand om 20:00 Hedda kyk. Ek sal sorg dat ek betyds daar is.

Facebook
Twitter
LinkedIn