THEATER
Namakwalandse kuier soos wiegelied vir die gemoed
Produksie: Skatkis vol stories
Skrywer: Jo-Ann Floris
Foto’s: Golda Simmers
Doerie jare toe jaag hulle mos die kinders uit die voorkamer uit as die grootmense gesels. Dit was ’n straf erger as ’n pak slae, of ’n uitskel, of ’n kos-afvat. Want dit het beteken mens mis al die lekker skinder en stories wat gedeel word oor ’n koppie koffie of tee en natuurlik ietsie soets.
Dié keer was anders, want Danneline Ramsden het jou saam laat sit in die voorkamer, al die stories laat inluister en ’n leeftyd van onthou geskink saam met die tee, of brousel, soos sy dit noem.
In haar Skatkis vol stories loop mens binne die eerste paar minute sommer al terug in grootwordjare, en met net twee karakters op die verhoog raak hulle die stem van ’n hele bekende gemeenskap.
Sy kry ’n kuiergas uit haar hartswereld, Namakwaland, wat net soos sy op ’n ander plek stof op hul voete moes kom kry. Mich é van Wyk is die regte aanvulling vir Ramsden se groot persoonlikheid.
Tussen die twee vlieg die onthou, die tongval, die Namakwalandse daisies in volle blom.
Dalk het dit te doen met die bekende wat ’n snaar geraak het, en die Namakwalandse aksent wat soos ’n wiegelied op die oor en gemoed val.
Wat eintlik ’n onderhoud moes wees – Van Wyk met Ramsden – word toe eintlik net ’n gesels-kuier oor ’n brousel en ’n stowwerige fotoalbum.
Hulle span die kuier om die koppie slim in, want dis hoe daar “doerie tyd saam gekuier is”. So, onmiddellik is daar die bekende, die nostalgiese, amper.
Kyk, almal wat in ’n groot huishouding grootgeword het ken daai storie van skelmpies die ketel probeer aansit, want die oomblik as die huismense hoor iemand gaan tee maak, sing hulle soos ’n koortjie “vir my ook”.
Dan moet jy nog onthou ook wie drink dit hoe, en in watse koppie.
Dan prewel mens maar so saggies ’n dankie dat die grootmense soms so vasgevang was in hul stories dat hulle skoons vergeet het van die kleine muisies met antennas vir ore wat die stories opslurp, want hoe ander sou dit weer vir ’n volgende geslag vertel kon word?
Die titel beloof skatkis, en noem dit gulsigheid, maar daar is ’n honger na nog stories. Dalk het dit te doen met die bekende wat ’n snaar geraak het, en die Namakwalandse aksent wat soos ’n wiegelied op die oor en gemoed val.
Ek wens sy kon nog stories deel, want sy het liggies geraak aan haar grootword, skool, ouers. Maar die lekkerste deel was die spreekwoorde, die sêgoed wat blom waar saad nooit sal wortelskiet nie, iets waarvan mens net nog en nog wil hoor.
Alles moet natuurlik binne ’n uur geskied, so daar is begrip. En miskien is dit deel van die magic van die vertoning, dat jy nie daar uitloop so ooreet dat jy ongemaklik voel nie. Eerder dat daar ’n gaatjie is wat nog gevul kan word met jou eie onthou.
Skatkis vol stories
6 OKT 16:00
Drostdy-teater, 60 min
R140 | R170 by die deur
Geen o.10