THEATER

Meta-epiese Monsters hou gehoor aandadig

Produksie: Monsters
Skrywer: Herschelle Benjamin
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Daar is ’n kleine blou reënjakkie op die verhoog wat saggies belig word. Spelers lees, vertel, vertolk verskillende persone in en rondom mekaar. Spraak word reëlmatig en wydverspreid bo-oor en onderliggend gestem. Die verhoog is gestroop, klanke is minimaal en die gehoor ten alle tye belig. Die vierde muur bestaan nie – gehoorlede is nétso deel van dié tentoonstelling. Die verhaal deurdring alle vlakke van ongemak en verontskuldiging…

Dis hoe Monsters as opsetlike (onge)dramatiseerde stuk geslaagd voldoen aan sy doel. Daar is min toneelstukke waarin die regisseur en spelers so baar as moontlik ’n taak verrig. Mens sou wonder wat is eintlik die taak? Wat probeer die stuk dan nou eintlik vir my sê of vra? En hoekom word dit juis op hierdie wyse voorgelê? Dit is juis in hierdie vrae waarin die geslaagdheid van Monsters in ’n mate bewys word.

Teater kan ontvlugting bied deurdat daar sekere aspekte ingespan word om ’n dramatisering van ’n stuk op ’n gekose tyd en spesifieke manier te laat gebeur – daar is reëls waaraan die regisseur en spelers verbonde kan wees. Ander kere, en soos myns insiens hier, kan juis daardie vernuftigheid verslaan word om ’n anderste uitkoms te gee. Dit kan anders ingespan word, en deur dit te doen, word die gehoor uitoorlê… nie vir die grap nie, maar om te dink. Om dieper te delf en daarin juis ’n eie perspektief oor die saak te kry. Die tematiek besmet jou en g’n wasmasjien kan die vlek uitwas nie.

…hoe is dit moontlik dat enige mens hul hande in onskuld kan was? Is ons die monsters – en wanneer kom die boosaardigheid van ons wese te voorskyn?

In Monsters word die transkripsie van die ondervragings van twee tienjarige seuns nadat ’n tweejarige seuntjie vermoor is, op ’n emotiewe en intellektuele wyse verbeeld. Dit hou die gehoor aandadig wanneer daar kinders is wat kinders moor – en op wie berus die verantwoording. Soos in die stuk bepeins word: Is dit maar net die morele stand waarin ons tans verkeer? En hoe is dit moontlik dat enige mens hul hande in onskuld kan was? Is ons die monsters – en wanneer kom die boosaardigheid van ons wese te voorskyn?

Die veelbekroonde Tinarie van Wyk Loots is as regisseur aan die stuur van sake, met ’n gedugte rolverdeling van Michele Burgers, Elton Landrew, Ntlanhla Kutu en René Cloete. Almal lewer ’n uitklophou met dié interessante en weldeurdagte stuk. G’n wonder dis weer by vanjaar se Woordfees nadat dit in 2023 gedebuteer het en vroeër vanjaar ’n draai by die KKNK gemaak het nie. Ek moet bieg dat ek die stuk wel vir die eerste keer in die Klein-Karoo gesien het, en daarom was dit ook indrukwekkend hoe die span hul hand ferm kon hou op die ensemblespel.

Laastens, en dalk ietwat onvanpas, maar verskoon my indrukke pas nadat ek die eerste vertoning op die eerste dag van die Woordfees in Stellenbosch gekyk het: Inaggenome die onlangse polemiek rakende ’n universiteitskoshuis en die ewig-bespreekte kwansuise “kwesbaarheid” van die stand en toekoms van Afrikaans… is dit ongelooflik dat ’n stuk met meertaligheid en verskeidenheid van liggame op die verhoog, dit regkry om inklusiwiteit in die kunste te herverbeel. Dalk is dit net my projeksie daarop, maar indien jy die stuk gaan kyk, wees attent hierop en as jy dit ook soos ek waarneem, waardeer dit. Dit gebeur selde… en weinig geslaagd.

Monsters
29 SEPT 13:30
1 OKT 16:00
75 min | Adam Small-laboratorium
R180 | R210 by die deur
OB 13 (G)

Facebook
Twitter
LinkedIn