CLASSICAL MUSIC
Klavierontploffing
Produksie: Klavier-ekstravaganza
Skrywer: Naudé van der Merwe
Foto’s: Mark Cloete
“Moderation is a fatal thing. Nothing succeeds like excess.” As Oscar Wilde Donderdag se klavierkonsert in die Endler sou kon bywoon, sou hy waarskynlik wéér met hierdie woorde vorendag gekom het.
Die hele gedoente het dalk effens matig begin, met 4 hande op 1 klavier. Maar met elke stuk is nog ’n klavier op die verhoog gestoot… en teen die einde het dit gevoel soos ’n klavierontploffing, met 20 hande op 10 klaviere. Daarby is toe sommer ’n orrel, simbale én ’n bastrom bygegooi. Want waarom nie?
Mense het saamgeklap, opgestaan en foto’s geneem, gegil en gesing. Die atmosfeer was meer soos dié van ’n rockkonsert as een met klaviere.
Op die program Brahms, Lutoslawski, Tchaikofsky, Mozart, De Falla, Rossini en uiteindelik Stars and Stripes Forever van John Philip Sousa. Dis min dat ’n mens wil lag in ’n klavierkonsert. Ja, daar is die rare geleentheid dat jy wel wil lag as iets onverwags skeefloop, maar hier was dit omdat jy nie eintlik kan glo wat jy sien en hoor nie. Mense het saamgeklap, opgestaan en foto’s geneem, gegil en gesing. Die atmosfeer was meer soos dié van ’n rockkonsert as een met klaviere.
Nina Schumann, wat die hele ding aanmekaargesit het, het ook moontlik ’n loopbaan as ’n stand-up-komediant in haar toekoms. Who knew?
Met Nina Schumann, Esthea Kruger, Francois du Toit, Elna van der Merwe, Megan-Geoffrey Prins, Pieter Grobler en die studente Christoff Joubert, Theresa van der Merwe, Joshua Pietersen, Chanda Lupambo, Caleb Thomas, Cara Kitshoff, Cara Snyman, Braydon Kilroe, Rayno Booysen, Hannah Guthrie, Alida Esterhuizen, Bryce Crockart, Dieulen Achilles en Peter Clark.
Geen verdere shows