THEATER
Die antwoord… die dood
Produksie: Die stoele
Skrywer: Willem Bester
Foto’s: Llewellyn de Wet
’n Ou man en vrou sit en wag in hulle vuurtoring op gaste wat sal arriveer. Die geleentheid is die openbaarmaking van die ou man se lewensfilosofie, iets waaraan hy al dekades lank slyp. Die gaste kom van heinde en ver – selfs die president is op pad. Die ou man sal egter nie self aan die woord wees nie: Hy het ’n spreker gereël om namens hom te praat.
Vir al die gaste is daar natuurlik sitplek nodig. Al hoe meer stoele word ingedra en -gesleep… al kan die gehoor die gaste glad nie sien nie. Hoewel die ou man (Chris van Niekerk) en vrou (Antoinette Kellermann) die heeltyd mét mekaar praat, praat hulle ook verby mekaar. Een storie blyk ’n daaglikse ritueel te wees, en verder is daar teenstrydige gesprekke, onder meer oor of hulle kinders het. Die ou vrou figureer ook gelyk as moeder en as eggenoot. Wanneer die groot oomblik van die openbaring aanbreek, blyk daar net een uitweg te wees: Uit by die venster… na hulle dood. Die spreker kom einde ten laaste aan die beurt, maar dié kan geen verstaanbare woord uiter nie, en ’n gekrabbel teen die muur sê nog minder.
Die groot afwagting het gekom tot niks.
Dit is merkwaardig dat sowat 90 minute van bykans niks so kan boei en fassineer. Maar absurditeit is immers die essensie van Eugène Ionesco se meesterstuk Die stoele.
Al soek ons daarna, is die lewe sonder betekenis, wil hy sê, net soos Camus, Sartre en Beckett.
Alles is illusie en kom uiteindelik tot niks.
Maar anders as Camus, wat in Le mythe de Sisyphe rebellie teen die absurde oorweeg, volstaan Ionesco hier met die dood as ooglopende antwoord.
Dit klink na die resep vir ’n depressiewe teaterervaring, maar in Marthinus Basson se bekwame hande lê die humor naby aan die oppervlak, gretig om deur te bars. Dit was van meet af aan duidelik waarom dié produksie, ’n vertaling deur Nerina Ferreira, vroeër vanjaar met die louere weggestap het as beste produksie by die KKNK.
Daar is soms die soort fisieke spel wat veel jonger mense sou laat les opsê. Dit is ouskooltegnieke op hulle beste, dinge soos goeie projeksie, fyn tydsberekening en natuurlike ruimtebegrip.
Van Niekerk en Kellermann is ook bekroon, as beste hoofspelers. Hulle is fenomenaal in hulle instelling op en interaksie met mekaar en speel deur die omvang en uiterstes van primale emosies. Kellermann verander in ’n handomdraai van amper hulpbehoewende eggenoot in ’n moederkarakter of koket, en Van Niekerk krimp ná grootgebaar-grootpraat ineen, soos ’n kind wat seergekry het. Daar is soms die soort fisieke spel wat veel jonger mense sou laat les opsê. Dit is ouskooltegnieke op hulle beste, dinge soos goeie projeksie, fyn tydsberekening en natuurlike ruimtebegrip.
Die rol van Basson se stel in die sukses is onmiskenbaar. Hoewel aanvanklik amper vervalle en toiingrig, raak dit later glimmend onder Nicolaas de Jongh se eenvoudig dog meesterlike beligting, die tekstuur in die hout soos iets wat jy in ’n Frank Lloyd Wright-woning sal aantref. Met net twee akteurs en ’n klomp stoele op die verhoog is die geroesemoes van die onsigbare gaste tasbaar.
As ’n mens ondanks die humor en vernuf op die verhoog ná die tyd ietwat afgerem voel, is dit omdat dit alte maklik is om die mense in jou lewe in die stuk te sien wat op die een of ander manier vasgehaak het. Daar is tog iets universeels aan die sprake van onvervulde talent en verloopte lewens.
Die stoele
4 OKT 20:00, 5 OKT 13:00, 6 OKT 19:00
90 min | Rhenish Girls’ High School
R200-R300 | R230-R330 by die deur
Geen o.10