TOYOTA MUSIC FESTIVAL
’n Wonderwêreld van woorde
Produksie: Worldplay
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: AB Jantjies
So ry ek weer Daisy Jones toe, nes laasjaar min of meer dié tyd, om te gaan kyk na Worldplay* met Toast en daai dude van Bittereinder, en as ek reg gekyk het, is Jolyn ook vanjaar daar om te slam en sing en my kop deurmekaar te maak met hulle baie, baie woorde. Ek volg dieselfde roete, ek sit op dieselfde stoel en ek drink weer ’n whisky, nes laasjaar, want daai aand was ’n mooi aand en ek probeer my bes om te onthou. Ek onthou ek het vroeër die dag foto’s van jakarandas uit Pretoria gekry, maar die jakarandas blom dalk nooit weer nie en die Whatsapp-lyn is stil, stil soos die Daisy Jones met Worldplay nooit is nie. Buite sit mense en eet pizza en binne begin die musikante die mood set vir die aand en ek dink – nee, ek weet – net soos laasjaar gaan ek weer wonder oor my eie state of mind en state of being, want dis Woordfees en die jaar is nou reeds sewe weke te lank. Jaco begin deur my voete onder my uit te slaan, want hy quote my review van laasjaar.
Ek het toe al gewonder of ek hoog is en of ek droom, en weet jy, Jaco van Bittereinder – dis sy naam – ek dink dis ’n bietjie van albei, as ek eerlik moet wees, al is ek amper wakker en het ek niks gerook nie, ek sweer. Want hulle doen weer dieselfde ding, hulle maak die ligte net weer so en hulle maak musiek wat in jou binnekant vibreer en sonder te veel omhaal van woorde – dis ’n leuen; daar’s baie woorde – maak hulle weer so, hierdie selfde slam poets van die nag. Hier is weer kinders met donker gedagtes wat pryse vir poetry gewen het, en daar is Modise se pyn in die hart en verlos-my-van-die-wêreld-pleidooi aan die Here of iemand, hy is nie seker nie, want dit kan enigiemand regtig wees.
Allow me a sweet collapse, sug hy verder en ek voel dit saam met die musiek aan my binnekant inmekaartuimel. Bronwen en Jotam en die Winterwelpie val net weer in waar hulle laas opgehou het met hulle drome en tromme en trompies en kitare en ander snare, en die Koning Jerome, die man van die huis, rap sy hart uit met die mooiste smile en die fyn bedrading van woorde. Jolyn se walvisdroom kom klim in my kop en Toast, jy is reg, soos altyd is jy reg, ons is bonatuurlik en vreemd en onvermydelik verwikkeld. Skuins agter my sit Danie en sy Lea en hy kyk my mis want hy fokus op wat die slam poets sê, want hy poet ook mos in die suiwerste aksent van melancholie en ek wou hom nog vra of hy ook so ’n bietjie voel soos ’n junkie vol woorde, maar ek het toe nooit daarby uitgekom nie. My heart has seen one too many holes en myne ook, Modise; I carry my heart in a suitcase maar myne is weggebêre, Toast. Ek voel ’n fokken veer, nes Jaco, maar ek weet ek jok nie net vir julle nie maar eintlik die meeste vir myself. I felt this warm glow. Laat daar lig wees, en ek glip uit en klim in my kar en ry gastehuis toe en dink ek gaan hierdie jaar nie weer soos ’n regte, egte slammer ’n ding probeer skryf soos hierdie nie maar dalk eerder ’n properly structured haiku of kwatryn of sonnet, maar toe ek my weer kom kry, is hierdie die beste wat die droom en die high en die musiek kon optower. Want die dag en die jaar is nou reeds sewe sad weke te lank.
* Die Worldplay-sessies word aangebied in die styl van ’n speletjiesprogram waarin digters en musikante voor ’n gehoor saamspan. Some of South Africa’s most diverse poets take turns to set words and hearts on fire, synthesising with innovative musicians and sound designers in real time. Hierdie betowerende sessies is een van die opwindendste kunsvorme wat ’n blik bied op die Suid-Afrikaanse psige. Met Toast Coetzer, Jaco van der Merwe, Jolyn Phillips, Modise Sekgothe, Jerome Rex, Jotam Schoeman, James Robb, Louwrens Ferreira, Bronwen Clacherty, Ronald die Winterwelpie.
Geen verdere shows by die Woordfees.