VISUAL ART
Op soek na skoonheid in die strate
Produksie: Kuns op straat
Skrywer: Johan van Zyl
Fotograaf: Verskaf
Hoe stal ’n mens agt brose keramiekkunswerke in die buitelug uit? Jy los die beelde liefs in ’n galery, maar neem ’n beeldskone foto van ’n stukkie detail van elk – net genoeg om die belangstelling te prikkel en te wonder wat de hel is dié. Dan vergroot jy die foto’s en stal dit in reuse-rame uit wat oor die historiese middedorp versprei is met die hoop dat dit nuuskieriges na die galery sal lok.
Die Stellenbosch-buitelugbeeldhoutrust (beter bekend as die Stellenbosch Outdoor Sculpture Trust) bied sedert 2012 jaarliks ’n gratis openbare kunsuitstalling in die middedorp aan. Vanjaar s’n is getiteld (Un)Earthed: Exploring Contemporary Ceramic Art in South Africa onder kuratorskap van Maryke van Velden en Pule Dlothi, wat saam met Hanlé Hill ook een van die gidse van die staptoer is.
Ons klein saambreelbende het weggetrek by Erfurthuis in Ryneveldstraat, afgekronkel in Kerkstraat en uiteindelik ingedraai by die stegie na die SMAC-galery. Ons het aangestap deur die geskiedkundige Meulstroom tot in Birdstraat en vinnig op Meulplein stilgestaan by Strijdom van der Merwe se kunsinstallasie: ’n yster-replika van Nieuwe Molen, die derde koringmeul wat in 1749 op Stellenbosch ingewy is. Slaan ook jou oë op na Jaco Sieberhagen se prettig-politieke “The carnival (no dogs allowed)”, alombekend as “Karnaval van die diere”, teen die fassade van die Cluver Markotter-gebou en kyk of jy vir oudpres. Jacob Zuma gewaar.
Van hier af mik jy skuins oor die Braak af in Markstraat, draai links in Hertestraat en weer links in Dorpstraat tot jy eindig by die Voorgelegen-museum waar die agt ware jakobs van (Un)Earthed, geborg deur Private Clients deur Old Mutual Wealth, wag. Vanjaar se deelnemende kunstenaars is Wim Botha, Githan Coopoo, Madoda Fani (met die vergunning van Southern Guild), Ceramic Matters, Lucinda Mudge, Ben Orkin (met die vergunning van Whatiftheworld), Marlene Steyn (met die vergunning van SMAC) en Maryke van Velden, die hoofkurator, wat keramiekskerwe vergaar wat uitgespit is gedurende opgrawings vir die dorp se veselkabels.
Die tentoonstelling – en die skaal van die regte werke – is ’n wonderlike verrassing. Ook maak die misterieuse reuse-lokfoto’s op straat skielik sin én dit voel terselfdertyd soos nuwe kunswerke.
Daar is báie kuns in Stellenbosch se strate te sien. Al word die die meeste van dié kunswerke ná ’n jaar verwyder (anders sal die dorp later soos ’n kunsbasaar lyk!), loop ’n mens op die toer tog etlike “oorblyfsels” raak van vorige jare se projekte, onder meer bronsbeelde van Dylan Lewis, Wilma Cruise se “Monkey Business” wat deel gevorm het van die Reflections-uitstalling in 2015, ’n bankie of twee van “Kom sit” (2014) en fietsrakke van “Stand” in 2017.
Bespreek met ’n geruste hart vir Sondag se laaste staptoer. Ons het almal meer skoonheid in ons lewe nodig – en jy kan dit alles pasella kry in die strate van die Boland se kunsmekka.
- Besoek stellenboschtriennale.com vir meer inligting.
Kuns op straat
6 OKT 09:30
90 min | Ontmoet by Erfurthuis
R155