CLASSICAL MUSIC
Amerika via die Wynland
Produksie: American Rhythms – Wynland Filharmoniese Orkes
Skrywer: Naudé van der Merwe
Foto’s: Mark Cloete
Die Amerikaanse komponis Aaron Copland sê in sy 1939-boek What To Listen For in Music: “Is there a meaning to music? My answer would be, yes. And can you state in so many words what the meaning is? My answer to that would be, no.”
Copland se Appalachian Spring, wat Sondag 29 September met oorgawe deur die Wynland Filharmoniese Orkes uitgevoer is, getuig hiervan. Dié stuk klink soos beelde van landelike Amerika rondom die Tweede Wêreldoorlog. Maar hoe klink Amerika? Hoekom vereenselwig ’n mens dikwels die vlaktes van die Noord-Amerikaanse Weste met die soort musiek wat Copland gekomponeer het? Hoekom het baie van die komposisies vir flieks oor cowboys en crooks aan die een kant en ruimte-verkennings aan die ander voortgebou op hierdie soort klankwêreld? En hoekom klink dit soos hoop en verlange?
Hierdie is alles vrae met uiteenlopende antwoorde en waaroor vele boeke al geskryf is. Dieselfde kan gesê word van George Gershwin se Rhapsody in Blue: Dit klink soos New York, maar is dit omdat ’n mens dit met Woody Allen se fliek Manhattan vereenselwig of omdat dit ’n mens se verbeelding ’n sekere tyd in die geskiedenis oproep?
Hoe ook al, dit is heel gepas dat hierdie produksie American Rhythms heet. Die Wynland Filharmoniese Orkes met Reghardt Kühn as dirigent het hiermee die diverse klankwêreld van Noord- en Sentraal-Amerika verken. Dié orkes, wat in 2022 deur Kühn gestig is, bestaan hoofsaaklik uit amateur- en semi-professionele musici. Dit word so in die programnotas genoem, en in albei konserte wat ek nou al van dié groep bygewoon het, is dit ook vooraf aangekondig. Die nie-professionele musikante word vooraf gevra om op te staan en dan is daar ’n verwagting dat die gehoor vir hulle moet hande klap omdat hulle rekenmeesters en dokters en ingenieurs is wat ook kan note lees. Dit skep ’n verwagting dat dinge dalk hier gaan ontspoor. Dit vertroebel die vertroue wat ’n mens in die hele projek het. Vooraf word boonop gesê die gehoor “moenie perfeksie verwag nie”. Só ’n uitlating doen afbreuk aan die eindresultaat, want perfeksie is relatief, en die orkes speel goed! Dis dus meer as genoeg om in die program net te sê die orkeslede is amateurs.
Voorafaankondigings ter syde, die program was ’n uitstekende keuse vir ’n konsert by ’n fees: ’n samehangende tema wat deurgevoer is selfs tot by die encore (’n verwerking van Kander en Ebb se tema uit New York, New York, aanvanklik gesing deur Liza Minelli en verewig deur Frank Sinatra).
Wang laat die musiek asemhaal. Die wonderlike – en terselfdertyd vreesaanjaende – gedagte is dat hy net nóg beter gaan word.
Die program het met woema begin met die Mexikaanse komponis Arturo Márquez se Danzón No. 2. Kühn was deurgaans in beheer en die spelers het ’n begeesterde uitvoering gelewer. Die hoogtepunt was egter Gershwin se Rhapsody in Blue, met Zining (Mike) Wang, ’n matriekleerling aan die Hoër Jongenskool Paarl, as solis. Wang het al menigte kompetisiepryse losgeslaan, as solis met die Kaapse Filharmoniese Orkes opgetree, en ook al begin om internasionaal naam te maak. ’n Mens verstaan waarom. Hy is nie net tegnies uiters vaardig nie, maar neem ook sy tyd om werklik uitdrukking te gee aan wat hy met die musiek wil oordra. Hy laat die musiek asemhaal. Die wonderlike – en terselfdertyd vreesaanjaende – gedagte is dat hy net nóg beter gaan word. Ek het Rhapsody in Blue al ’n paar keer gehoor waar die orkes en solis mekaar wil-wil verloor, maar hier het dinge glad verloop.
Ná pouse het Copland se Appalachian Spring die spelers tegnies uitgedaag. ’n Mens kon soms die moeite hoor – dis baie blootstellend vir al die seksies van die orkes, en ook soms uitdagend om na te luister. Maar uiteindelik spoel van die dissonansie oor in die bekende Shaker-melodie “Simple Gifts” wat ’n tasbare gevoel van verbondenheid in die gehoor kweek. Om hierdie wa deur die drif te trek is nie eenvoudig nie, maar saam het hulle die mas opgekom.
American Rhythms het nie net as ’n musikale verkenning geslaag nie, maar ook as ’n viering van wat bereik kan word wanneer passie en toewyding bymekaarkom.
Geen verdere shows.