COMEDY
Mel laat die jonges omtrent jil!
Produksie: Dik deurmekaar
Skrywer: Herschelle Benjamin
Foto’s: Verskaf
Kyk, niemand verwag dat ’n Maandagaand op ’n natterige fees ’n heerlike en warm belewenis kan word nie – veral nie in ’n stampvol Eendrag-teater waar daar nie plek vir ’n muis is nie.
Dit is natuurlik te verstane, want die eregas en komediant van die vertoning, Mel die Storieverteller (Melanie Welgemoed), is hipergewild. Só gewild dat sy nou al meer as 120 vertonings reg oor die land gehad het en met meer as 60 000 Instagram-volgelinge spog. Dis die meisie van Middelburg, Mpumalanga, wie se nostalgiese staaltjies en geaardheid net moeiteloos snaaks is! Sy kom steek die draak en besin oor al die dinge in haar groot sak.
Gewildheid op die internet het my nog nooit eintlik beïndruk nie. Maar dis waar dat selfs ek soms mense se video’s (ek sukkel nog met die woord “content”) verskriklik geniet. En dit bring ’n sekere vervoering om kortstondige vermaak so ombliklik op jou selfoon te kyk. Tog is nie almal op die internet snaaks nie, en soms is dit net vreemd hoe ons toelaat dat ander mense wat jy van g’n kant af ken nie, jou oprui. Ja, ek’s nie ’n maklike volgeling nie, maar ek verstaan die redes waarom almal anders so maklik mense min of meer verafgod.
Dit is nie die geval met Dik deurmekaar nie. Ek ken Mel die Storieverteller se werk nou al ’n ruk lank en is beslis een van haar volgelinge oppie Insta. Maar ek het nog nooit enige van haar verhoogvertonings gesien nie.
Haar aanlyn kortvormvideo’s is nog altyd op ’n snaakse dog nederige en onpretensieuse manier gedoen. Dus was dit heerlik om te sien hoe sy steeds haar spesifieke humor en plat-oppie-aarde-styl na die verhoog bring. Dit was nie opgesmuk nie, maar met ’n goeie struktuur het sy die meeste note reggeslaan.
Daar was baie van haar aanlyn volgelinge – sy het bestek geneem van mense wat haar vir die eerste keer kom sien – en daarom moes jy goed op jou tone wees en daarteen waak om deur die gehoor se vrygewige genot beïnvloed te word. Soms is nie alles vir almal snaaks nie…
Veral omdat sy teruggaan na haar kinderjare in die 80’s, was daar baie van die verwysings wat ’n jonger geslag dalk nie kon verstaan nie, en dus ook nie die grappie vang nie. Tog verduidelik sy goed en help die kids. Maar die punt bly staan: In die era van fandoms moet ’n mens deeglik bewus wees van die maklike invloed op jou eie subjektiwiteit.
Die vertoning is goed gestruktureerd en haar staaltjies van onskuld, onkunde as kind en die reis van ’n unieke lewe word op komiese wyse oorvertel. Die gehoor skater vir al die manewales en gee welverdiende applous. Daar is wel ruimte om meer met haar fisikaliteit te speel, maar dis ’n nietigheid.
Die gehoor skater vir al die manewales en gee welverdiende applous.
In hierdie spesifieke vertoning was daar ’n buitegewone insident: ’n 17-jarige gehoorlid moes in trane deur haar ma uit die teater geneem word nadat Mel haar komies uitgevra en bespiegel het waarom sy nie saam met haar kêrel by die vertoning is nie. Wat is die kans dat ’n komediant nie weet hulle is nou besig om sout in die wonde te vryf nie…
Dit was niemand se fout nie, maar sulke dinge het die vermoë om ’n demper op die vertoning te plaas. Maar Mel die Storieverteller het dit met fyn opregtheid hanteer en gekeer dat almal van balans af gegooi is.
Dik deurmekaar
2 Oktober 20:00
70 min | Eendrag-teater
R160 | R190 by die deur
Geen o.14 (T)