THEATER

Fel politieke inslag bevlek Shakespeare

Produksie: Othello
Deur: Willem Bester
Foto’s: Gys Loubser

In sy inleiding tot die Royal Shakespeare Company se uitgawe van Shakespeare se volledige werke haal Jonathan Bate vir Ahmed Kathrada aan: “Somehow Shakespeare always had something to say to us.” Hoë lof deur ’n apartheidstryder, dus. Sulke pryswoorde – ’n blote druppel aan die spreekwoordelike emmer – beteken seker egter nie Shakespeare-tekste moet as heilige skrif gehanteer word nie: Groot kuns nooi tog altyd herbesinning uit. Of ’n betrokke hervertolking suksesvol is, is natuurlik ’n ander vraag.

In Lara Foot se aanpassing van Othello word die aksie verplaas van die Republikeinse, kosmopolitaanse Venesië en Mediterreense Ciprus na ’n Imperialistiese, verkrampte Berlyn en stowwerig droë Duits-Suidwes-Afrika, vermoedelik in die doodsnikke van die sogenaamde “scramble for Africa”, toe sowat 90% van Afrika formeel deur Europese magte gekoloniseer is en die landsgrense van Afrika – wat tot vandag toe staan – in bloed op die kaart getrek is.

Die eponieme Othello word ’n swart generaal in diens van die Duitse magte en is veronderstel om die plaaslike mense in bedwang te bring. Iago en Rodrigo word Boere-Afrikaners wat hulle lot by die Duitsers ingegooi het. Dit is ’n verplasing wat in alle opsigte behoort te werk… maar in die aanpassing is daar baie wat nie heeltemal pluis is nie. Die produksie is aanvanklik in 2022 by die Düsseldorf Schauspielhaus in Duitsland aangebied. ’n Mens verstaan dus hoe en waar die sterk antikoloniale ondertoon staan in huidige politieke debatte in Duitsland. Die vraag is egter hoe dit veronderstel is om te lees vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor: Die bloedsonde van en vergrepe gedurende ’n mandaat ná 1918, wat ná 1966 onwettig voortgesit is?

Foot se teksbyvoegings en -aanpassings is nie subtiel nie, maar subtiliteit was kennelik nie die bedoeling nie. Die kwessie is onder meer hoe so ’n sterk histories-politieke inslag setel in die bestaande teks. Een probleem is dat die hele aard van klassieke tragedie ondermyn word: Othello is nie meer ’n tragiese held nie – daar is weinig sprake van ’n fatale fout wat tot sy ondergang lei. Hy word eerder die beliggaming van die Afrikaan wat as speelding deur die koloniale gode misbruik, gebreek en verneder is. Shakespeare was veel subtieler. Omdat dit ’n skepsel van sy tyd was, het hy heel moontlik in die term “Moor” meer religieuse as raskonnotasies gehad. Hoewel daar strekkings van Die Ander was, het die Islamitiese wêreld vir Elizabethaanse Engeland ook geleerdheid en beskawing gesimboliseer, iets wat nie strook met die koloniale begrippe in die huidige produksie nie.

Iago se primêre beweegrede word dikwels as suiwer kwaad gelees, sy jaloesie ’n blote masker om sy onberedderbare boosheid te verdoesel. In dié weergawe kom hy meer eendimensioneel voor, as bloot ’n onverkwiklike rassis, en, uiteindelik, ’n moordenaar. Hy is veronderstel om die opperste poppespeler te wees. Hy fluister en insinueer, maar sy hande bly sonder bloed. Dat hy dus in Foot se weergawe die een is wat Desdemona om die lewe bring, is ’n ongemotiveerde dwarsklap en beteken daar kan geen katarsis wees nie (want hoewel Othello dink hy het Desdemona self vermoor, wéét die gehoor dit is nie so nie). Dit kan net ’n hedendaagse politieke strekking hê.

Uiteindelik kom die aanpassing voor soos ’n sop van metaforiese oorskietbestanddele. Hoe, byvoorbeeld, is ons veronderstel om die wit en bruin akteurs te kodeer? Is die prominente kopbeenontwerp in die eerste bedryf ’n vooruitwysing na Nazi-Duitsland? Waarom is Iago met ’n swart vrou getroud?

Othello is nie meer ’n tragiese held nie … Hy word eerder die beliggaming van die Afrikaan wat as speelding deur die koloniale gode misbruik, gebreek en verneder is. Shakespeare was veel subtieler. Omdat dit ’n skepsel van sy tyd was, het hy heel moontlik in die term ‘Moor’ meer religieuse as raskonnotasies gehad.

Die gebruik van Afrikaanse, Duitse en Xhosa-dialoog het ook afbreuk gedoen aan die oorspronklike Engelse poëtiese taal. Pleks van boustene vir karakteridentiteit het dit eerder as klankeffek oorgekom, vermoedelik geplaas op die veronderstelling dat die gehoor nie oral alles sal verstaan nie. Dít het weinig plek in Shakespeare. Die ekstra alleensprake wat in Othello se mond gelê word, steur die spelritme en laat geen ruimte vir subtiliteit nie, maar met so ’n fel politieke inslag is dit ook nie verrassend nie.

’n Mens gee wel toe dat die produksie op tegniese vlak goed daar uitsien. Die spelruimte is behoorlik gebruik, en die ontwerp deur Gerhard Marx het beslis tot die sukses bygedra. Kyle Shepherd se musiek verdien besondere vermelding, insgelyks vir die sensitiewe onderbou tot die narratief as werklik geïnspireerde komposisie.

Foot het ’n gedugte span akteurs bymekaargemaak, wat insluit Atandwa Kani, Albert Pretorius, Carla Smith en Faniswa Yisa, Carlo Daniels en Wessel Pretorius. Kani het uitstekende spel gelewer as die naamkarakter, hoewel ’n mens tog gedink het sy akteursvernuf is nie genoeg vrye teuels gegee nie.

Albert Pretorius was ’n goeie keuse vir dié weergawe van Iago, onverbeterlik in die rol van ’n sekere soort Afrikaner. Smith was eweneens goed geplaas as Desdemona, gelyk broos en onskuldig, maar met die nodige ruggraat wanneer sy haar huwelik met Othello verdedig. Yisa het vir ’n eersteklas Emilia gesorg, haar passie en smart ewe skroeiend. As Cassio het Daniels goed gevaar as die een karakter wat steeds sy tragiese ondergang gegun is. Wessel Pretorius het geskitter met sy komiese inslag as die patetiese, beenaf Rodorigo.

Gegewe dié talent, laat dit ’n mens weer eens met die kwessie van waarom jy ietwat bedroë voel. Kathrada slaan die spyker op sy kop: Shakespeare het altyd iets om vir ons te sê. Maar die moraliserende inslag van dié Othello is nie Shakespeare nie. As jy wil preek, skryf liewer jou eie stuk.

Hierdie was die laaste show.

Facebook
Twitter
LinkedIn