THEATER

Boom van kennis van goed en kwaad

Produksie: Stinkhout
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Philip Rademeyer is pas bekroon met die 2024 ATKV-Woordveertjie vir Beste Dramateks vir Goed wat wag om te gebeur, ’n hartverskeurende familiedrama waarin besin word oor watter karakterfoute oorerflik is, wat aangeleerde gedrag is en op watter tydstip die sondes van die vaders die kinders gaan besoek. Sy veelbekroonde Klippe wat val was eweneens ’n familiedrama, een met politieke ondertone, waar ’n donker geheim onafwendbaar uitloop op die tragiese gebeure wat in die titel vervat lê.

Dit is dus seker nie ’n verrassing nie dat Rademeyer se jongste werk, Stinkhout, ook met familiedinamika omgaan en daar uiteindelik meer vrae as antwoorde is.

Elf jaar het verloop sedert Louw (Wilhelm van der Walt) laas op die familiegrond was. Nou is hy terug uit Londen vir die begrafnis van sy jonger broer, Schalk. Albei seuns se verhouding met hulle pa, Gert (Frank Opperman), was van kleintyd af troebel. Hulle ma, Amanda, is die een wat liefde betoon het, hulle betrek het by haar kompulsiewe blomplantery in goedversorgde beddings langs ’n reusestinkhouboom wat jare lank oor geslagte se doen en late gewaak het.

Soos die gehoor weldra agterkom, het die stinkhoutboom egter nie net skuiling gebied nie; daar is ’n meer sinistere kant daaraan. Amanda se stryd met depressie en angs kry uiteindelik die oorhand en sy hang haarself aan die boom op. Die twee seuns kom op haar af, ’n gebeurtenis wat die draaipunt in die verhaal verteenwoordig. Louw los vir Schalk net daar en hardloop weg. Daardie feit steek vas.

Die gesprekke tussen pa en seun is aanvanklik stotterend en stram. Dis duidelik dat die verwyte en verskille aan elke kant onkruidhoogte staan. Gert probeer die ongemak met sardoniese humor en alledaagse nuus verbreek, maar sy woorde slaan telkens vas teen Louw se nukkerigheid, verwytende stiltes en voornemens tot sogenaamde vernuwing, oftewel “gentrification”. Versoening en aanvaarding is afwesige geregte op hierdie smorgasbord van misverstande. Alles op die plaas lê bedek onder ’n stowwerige jas van armoede, verwaarlosing en verlies.

In die tyd voor die begrafnis én daarna word die agtergrond tot die gebeure ingekleur deur die onderonsies tussen Gert en Louw. Só hoor die gehoor (en Louw) omtrent die verslawing waarmee Schalk geworstel het en wat uiteindelik tot sy dood gelei het. Hulle hoor ook hoe moeilik die aanpassing was ná Amanda se dood en hoe Gert vergeefs by sy pa wou weet: “Hoe de hel moet ek hulle alleen grootmaak?” Hy was nie toegerus daarvoor nie.

Ten einde groter konteks te skep vra Rademeyer as die skrywer en regisseur van sy akteurs om meer as een rol te vertolk, onder wie Gert se hardvogtige pa en Schalk en Louw as kinders. In die terugblikke vertolk Opperman die rol van Schalk as kind, en Van der Walt is om die beurt die jong Louw en dan weer sy oupa.

Dié keuse van Rademeyer werk myns insiens nie. Dit breek die spanningslyn, tot jy as gehoorlid die keuse maak om dit maar so te aanvaar – by gebrek aan ’n ander opsie. Die skuld kan nie voor die deur van die akteurs gelê word nie. Dis aan hulle ondervinding en vaardigheid te danke dat die gehoor uiteindelik daarby berus en hulle aan die verhaal oorgee. ’n Mens kan nie anders nie as om te wonder of daar nie ’n beter oplossing is nie.

Sowel Opperman as Van der Walt lewer deurgaans meesleurende en genuanseerde spel. Rademeyer weet hoe om sy akteurs te kies om sy beeldskone woorde en beelde vleuels te gee.

Die gesprekke tussen pa en seun is aanvanklik stotterend en stram. Dis duidelik dat die verwyte en verskille aan elke kant onkruidhoogte staan.

Rademeyer dwing ook bewondering af met sy innoverende stelontwerp waarin die reuseboom van diggevlegte toue ’n ereplek inneem, net soos dit sentraal tot die storie staan. Ewe slim is die “blomme” oftewel ligte wat aan die boom se takke vas is. Die boom blom net twee keer: met Amanda se dood en dan weer met Schalk s’n. Die seuns het juis geglo hulle mamma was lank gelede ’n boom en het met haar dood daarheen teruggekeer. Andi Colombo se beligtingsontwerp verras en tref veral met dié insidente. Die liggies verlig skielik die hele werf en jy sit kiertsregop in jou stoel. Dit herinner ook aan Gert wat vir Louw sê: “Blomme sal blom. Jy moet net geduldig deur die winter kom.”

Ongelukkig is dit in Stinkhout dalk net te veel gevra vir die pa en seun. Die winter was lank en die liefdeloosheid en pyn van die verlede bly oorweldigend. Wanneer Gert op Schalk se lewelose liggaam afkom, vat hy aan hom om seker te maak hy lewe nie meer nie. “Die koue gevoel van die dood is iets waaraan jy nie gewoond raak nie,” bieg hy later teenoor Louw.

“Wat nou?” is die vraag wat ná alles in die lug bly hang. Gaan Louw op die plaas bly en dit omskep in iets lewensvatbaars, of gaan hy weer vlug en sy pa daar los, nes hy met Schalk gemaak het ná sy ma se dood? Indien wel, wat gaan van Gert word op die plek waar hy altyd die boom sal hê as herinnering dat hy sy hele gesin kwyt is? ’n Mens wil nie die einde verklap nie. Gaan kyk dit eerder self… en hou jou hart styf vas.

Stinkhout
5 OKT 14:00 en 17:00, 6 OKT 13:00
90 min | HMS Bloemhof-skoolsaal
R200 | R230 by die deur
OB 16 (T)

Facebook
Twitter
LinkedIn