THEATER
Mag ATKV-Tienertoneel nog lank ’n kweekhuis wees
Produksie: ATKV-Tienertoneel se nasionale wenproduksie – Vir Spot
Skrywer: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Reeds van die begin word daar gewaarsku dat hierdie ’n produksie is wat moontlik herinneringe aan kleintyd-trauma gaan oproep. Wie het immers nie al ’n hond aan die dood afgestaan nie?
Die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes is vanjaar as die wenner van die nasionale ATKV-Tienertoneelkompetisie aangewys. Twee van Vir Spot se spelers, Francois Retief (beste akteur in ’n hoofrol) en Sebastian van Niekerk (beste akteur in ’n ondersteunende rol) het twee van die groot pryse gewen, en die produksie het ook die prys vir beste regisseur vir Darryl Spijkers besorg. Die Hoërskool Parel Vallei se produksie 99 Luftballons was in die tweede plek.
Spot (op Engels uitgespreek) is ’n liewe hond en alles in Sebastian se lewe. Spot ondersteun ook Sebastian se huiwerige plan om by die dramagroep aan te sluit. In ’n ware hondjie-halsbandjie-situasie, wil Sebastian aansluit aangesien hy sy oog op op die mooi Jané in die dramagroep het.
Wanneer Spot hondehemel toe gaan, is dit uiteraard vir Sebastian moeilik om te aanvaar. Maar tyd – en ’n meisie met blink oë – heel die wonde.
Die stel is slim ontwerp met houtstrukture op wieletjies wat alles van hondehokke tot strandhuisies word, asook houtseemeeue met bewegende vlerke wat deur van die kinders gemanipuleer word. Die tema van verlies is dalk swaar, maar daar is meer as genoeg humoristiese oomblikke om die gehoor te vermaak. Die kinders speel hulle harte uit en geniet hulle self duidelik gate uit onder die verhoogligte.
Welgedaan aan elkeen betrokke. En mag die ATKV, wat vanjaar vir die 60ste keer Tienertoneel aangebied het, dit aanhou doen en jong talent koester, mentor en kanse gee.
5 OKT 17:00 | 6 OKT 09:30
55 min | Rhenish Girls’ High School
R100 | R130 by die deur