THEATER
’n Intieme gesprek oor tyd heen
Produksie: Veelhoek
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Verskaf
Jana Cilliers doen wat sy bitterlik selde doen – sy praat oor haarself. Haar eie lewe en emosies. Sy maak haar hart oop en vertel vir die wye wêreld presies hoe sy gevoel het ná haar man, Bill, se skielike afsterwe. Sy bied grepies aan van haar tyd as kind in die hospitaal toe sy polio gehad het, ’n gegewe wat ’n mens waarskynlik nooit in ’n Sarie -artikel sou lees nie. Sy bied ’n intieme blik op hoe sy voel oor die lewe, maar ook oor die groot onafwendbare: die dood.
Veelhoek is die naam van ’n debuutbundel wat die bloedjong digter daarvan nooit in sy hande sou vashou nie. ’n Motorongeluk knip sy lewe en talent kort. Jana Cilliers onthou dié “enigmatiese skimfiguur” net vaagweg. Daardie digter, Barnard Gilliland, was haar neef.
Die gelyknamige toneelstuk, Cilliers se debuut as dramaturg, is ’n intens persoonlike gesprek tussen neef en niggie. ’n Vraag én ’n antwoord. Die neef, vertolk deur Ludwig Binge, is steeds vasgevang in die vroeë jare sestig en wroegend oor sy beste vriend se dood. Die niggie, Jana, in die hede, met haar blik op die verlede en peinsend oor krisismomente in haar lewe en haar eie verganklikheid.
Gilliland se praatvers “Skipbreukelinge”, wat geïnsipireer is deur die Gilgamesj-epos en hoe hy sy beste vriend se selfdood probeer verstaan, het Jana van kleins af geboei: “[‘en] waar ek my voet sit, is water’, ’n refrein wat my net nie wou los nie”, skryf sy. Uit dié oogpunt bekyk sy nie net hoe vervlietend tyd is nie – as jy klein is het jy geen benul hoe lank drie weke in afsondering in ’n hospitaal kan wees nie – maar ook die verskillende hoeke waaruit sy die dood van nabye geliefdes ervaar en verwerk het. Haar ma se heengaan was sag; sy was reg om te gaan. Oor Bill se dood sê sy: “My hel is in hierdie winter.”
Cilliers se debuut as dramaturg is ’n intens persoonlike gesprek.
Vir iemand wat haarself nie roem as skrywer nie, is dié teks besonder sterk. Dit sluit naatloos aan by Gilliland se epiese vers, en met die vaardigheid en briljansie van Marthinus Basson as regisseur word die gesprek tussen hede en verlede lewendig; dit bly nie bloot ’n gedagtereis nie. Voeg daarby David Wolfswinkel se ekonomies-treffende musiek en jy kry ’n incredible stuk teater. Dit roer ook op al die regte plekke – die gehoor was deurgaans tjoepstil, iets wat ’n mens nooit by ’n feesproduksie as ’n gegewe kan aanvaar nie.
Iewers nader aan die einde van die stuk wonder Cilliers presies wat dit dan is wat sy haar lewe lank van haar neef soek; hoekom hy so aanhou om met haar kop te smokkel? Sy was dan net 10 jaar oud toe hy dood is. In “Veelhoek” kom sy waarskynlik so naby aan ’n antwoord op haar eie vraag as wat sy ooit sal kan.
Veelhoek
4 OKT 15:00, 5 OKT 17:00, 6 OKT 14:00
60 min | Adam Small-laboratorium
R190 | R220 by die deur