THEATER
Perdekoop is beslis makliker
Produksie: Trou Koek/Tert
Skrywer: Nadine Petrick
Foto’s: Verskaf
Troues is nie meer soos toe ek klein was nie: Jy daag op by die kerk, trek gesigte vir die blommemeisietjies en huil vir die I do’s. Daarna gaan jy na een of ander onopgesmukte saal (wat darem deur die bruid se ma en haar vriendinne opgetert is met ’n paar delicious monster-blare en aronskelke uit die tuin) en kry ’n droërige velletjie skaapboud en ewe droë malvapoeding te ete. Dan wag die slegte troukoek met marsepein om en ’n netsakkie met pienk en wit versuikerde amandels as ’n thank you en koebaai. En niemand was slegter af nie. Baie van daai eenvoudige troues se I do’s hou steeds.
Deesdae lyk sake anders. Wanneer jy so gelukkig is om die liefde van jou lewe en die bewaarder van jou hart te ontmoet, dan is trou uiteraard die regte ding om te doen – en ook so gou doenlik. Dit maak nie saak of jy jou ridder net ses maande lank ken en jy nie eens weet wat sy gunstelingkleur is nie. Die liefde, blyk dit, is ’n bysaak, want jy het immers reeds jou vyfjaarplan in die sakkie en op skrif. En die uitspattige duur venue in die wynland.
Margo Kotze en Elmé Oosthuizen vertolk onderskeidelik ’n siniese strooimeisie met ’n sagte hart en ’n stralende bride-to-be in hierdie heerlike two-hander wat die trousaak van twee heel verskillende perspektiewe af beskou. Of doen hulle regtig?
Strooimeisie glo lankal nie meer aan die instelling van die huwelik nie – sy is ’n Africa Burner met ’n permanente staanplek, ’n Urbanol-voorskrif en ’n ernstige propensity vir reëlings en probleemoplossing. Geen krisis of common skoonma by ’n bachelorette of bloeiselbekakking van enige aard gaan haar stuit in haar taak nie. Sy sal selfs die bruid se rok vir haar rek en origamiduiwe vou as dit dan nou moet. Maar tog, dalk sou sy dit wél waardeer het om ’n plus one vir die troue te kon bring. Sy het immers al duisende rande gespandeer op ’n troue wat nie eens haar eie is nie. Nie dat sy mos wíl trou nie, jy weet?
Strooimeisie glo lankal nie meer aan die instelling van die huwelik nie – sy is ’n Africa Burner met ’n permanente staanplek, ’n Urbanol-voorskrif en ’n ernstige propensity vir reëlings en probleemoplossing.
Bruid, aan die ander kant, is ekstaties oor “haar seisoen” van troureëlings. Sy het dadelik geweet sy wil trou met Adriaan wat sy op Koer ontmoet het. Hy pas dan so perfek in by die familie? En, bonus, hy rook nie! Kug-kug. Maar iewers tussen die voorhuwelikse berading, die kitchen tea en die bachelorette party word ook die bruid ontnugter. Is haar geld op die regte perd?
Trou Koek/Tert is ’n heerlike stukkie sosiale kommentaar wat die spot dryf sonder om té sardonies met die huwelik om te gaan. Ons almal kén daai skoonma; daai bruidjie. Ons het al die troufoto’s met die matching kamerjasse gesien. Ons verstaan die angs en die vertwyfeling, en die verwagtinge van wat miskien kan. Bowenal verstaan ons die instink om af te paar, want die liefde en verliefdheid, is, nés die donkie (of is dit toe al die tyd ’n lipizzaner?), ’n wonderlike ding.
Trou Koek/Tert
5 OKT | 20:00
50 min | HMS Bloemhof-skoolsaal
R180 | R210 by die deur