COMEDY

Skerpskutter van die reënboognasie

Produksie: Marianne Thamm: Vuisvoos, maar nog regop (herlaai)
Skrywer: Johan van Zyl
Fotograaf: Nardus Engelbrecht

In die ondersoekende joernalis Marianne Thamm se Vuisvoos, maar nog regop (herlaai) vlieg die wyse woorde ta-ta-ta-ta-ta uit haar mond soos koeëls uit ’n AK47, maar pleks daarvan dat haar gehoor diep gekwes of poot in die lug eindig, bokspring hulle letterlik by die teater uit met nuwe hoop vir die reënboognasie.

Suid-Afrika is ’n land van mirakels, maar ook ’n boggher van ’n plek waar ons alles so gou as moontlik probeer vergeet om plek te maak vir die volgende tjorts smet. Marianne Thamm se “performance journalism” is daar om jou te help onthou.

Min ander mense sal jou binne minder as ’n uur só ’n slim, ingeligte en vermaaklike voëlvlug kan gee oor ons ergste politieke gruwels, absurditeite en teenstrydighede, en die bende skelm wetters daaragter. Gelukkig begin dié onverkwiklike spul se vet ál sneller uitbraai en nou wag Pappa boonop vir hulle – dis nou ons nuwe minister, “oom” Pieter Groenewald.

Nietemin, alle Suid-Afrikaners is deesdae óf op die spektrum óf heeltemal mal. En in die Covid-19-tyd het iedereen boonop leer smokkel, sommer via WhatApp. Dis ons diversiteit, veerkragtigheid, humorsin en veral ons Grondwet, fluitjieblasers en ondersoekende joernaliste wat ons van ondergang red.

In Vuisvoos, maar nog regop (herlaai) probeer Thamm die vraag beantwoord waaroor mense haar gedurig pols: Gaan dit erger word?

Sy herinner jou aan die geheime kernkragooreenkoms tussen oudpres. Jacob Zuma en Wladimir Poetin wat deur twee gewone Suid-Afrikaanse vroue gefnuik is, die Gupta Leaks, 15 jaar van staatskaping, die Zondo-kommissie en sy uiteindelike verslag met skoksyfers wat ’n onverbeterlike kuur is vir hardlywigheid.

Sy praat van die Freedom Farters en Lilian Ngoyi-straat in Johannesburg wat ontplof het weens die opbou van metaangas (goddank was dit nie Isis nie!), die Moer ’n boer-kompetisie (Waarom moet hulle ’n kompetisie hou – hulle kan mos maar net vir Julius Malema vra?), die brand in die Parlement, die Grondwet wat ons demokrasie beskerm (wanneer ’n regering bang is vir sy mense), the Zillenator en die lewendige muis wat in haar broekspyp opgehardloop het in Sheshego, Julius Malema se tuiste, Steinheist, Covid-19, beurtkrag…

Dis polsekou-materiaal, ja, maar as selfverklaarde anargis hou sy die affêre lig en sê vir die gehoor hulle moet net sê as hulle te veel lag, want sy kan hulle binne ’n oogwink “kakker laat voel”.

Dis polsekou-materiaal, ja, maar as selfverklaarde anargis hou sy die affêre lig en sê vir die gehoor hulle moet net sê as hulle te veel lag, want sy kan hulle binne ’n oogwink “kakker laat voel”.

Probeer ’n kaartjie opraap vir die laaste vertoning Saterdag. Die adjunkredakteur van Daily Maverick kan wragtie haarself – én haar vrypostiger stand-up-weergawe – as ’n boksie Xanax bemark.

Marianne Thamm: Vuisvoos maar nog regop (herlaai)
5 OKT 17:00
60 min | Eendrag-teater
R170 | R200 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn