TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Ziets piets met die waarheid

Produksie: Vier Panado’s en ’n chardonnay
Skrywer: Ilza Roggeband

As daar een mens is wat haarself nie net kan herdefinieer nie maar ook relevant hou, is dit Elzabé Zietsman. Sedert die begin van haar loopbaan, wat David Kramer-musicals, Shakespeare, werk by die destydse streeksdiensterade en die begindae van TV in Suid-Afrika ingesluit het, het sy keer op keer gewys dat sy een van ons land se beste all rounders in die vermaakbedryf is.

Die ding met Ziets is ook dat sy van ’n uitdaging hou. Knyp die begroting effens? Begin beskuit bak. Is daar nog ’n gaatjie om toe te stop? Begin pajamas en klere maak. (Volg haar op sosiale media om meer uit te vind.) Is daar ’n kind wat hulp nodig het? Maak hulle groot en skep vir hulle geleenthede.

Wanneer dit by haar werk op die verhoog kom, is dit selfs duideliker dat sy haarself die hele tyd uitdaag. Jaar ná jaar kom sy met ’n nuwe produksie. Of dit nou ’n eenvroudrama soos Routrip is of ’n nuwe kabaret soos Vier Panado’s en ’n chardonnay.
(Albei is op vanjaar se Woordfees te sien.)

Wat is dit met Suid-Afrikaners wat maak dat ons keer op keer op keer opstaan, die stof van ons knieë afvee en net aangaan?

Vir Vier Panado’s en ’n chardonnay het sy weer kragte saamgesnoer met die pianis Tony Bentel, en Johann Slabbert is die regisseur en skrywer. Daar is bekende liedjies soos “Willkommen” uit Cabaret en “Happy Days are Here Again” deur onder meer Barbra Streisand, maar dis die nuwe oorspronklike liedjies deur Slabbert plus haar eie stories wat jou laat regop sit met hulle hardslaan-waarheid. Wat is dit met Suid-Afrikaners wat maak dat ons keer op keer op keer opstaan, die stof van ons knieë afvee en net aangaan? Met ’n lied in die hart en ’n Suid-Afrikaanse vlag wat wapper.

Wat sê haatlike kommentaar op sosiale media oor ons mense? Ons is tog nie almal so nie, is ons?

“Ek is 63 jaar oud,” sê Ziets in Vier Panado’s en ’n chardonnay.
“Hierdie plooie is myne. As jy my probeer beledig, weet net dat dit meer sê van jou as van my.”

Vier Panado’s en ’n chardonnay het – welverdiend – die Kanna vir beste musiekaanbieding gewen by vanjaar se KKNK. Daar is nog twee produksies oor by die Woordfees. Moenie twyfel nie: Gaan koop dadelik jou kaartjies.

Vier Panado’s en ’n chardonnay
4 OKT 16:00 | 5 OKT 10:00
75 min | Drostdy-teater
R180-R250 | R210-R280 by die deur
Geen o.16 (T)

Facebook
Twitter
LinkedIn