EasyEquities WRITERS’ FESTIVAL
'In elke wrede monster is ook ’n mens'
Fotos: Verskaf
Met ’n nuwe bundel tronkstories – een vir elke “vry” jaar – gedenk die skrywer, boekbemarker en aktivis Stefaans Coetzee sy nege jaar op parool. Hy het JOHAN VAN ZYL meer vertel oor Sel ses, sy solokortverhaaldebuut, waaroor hy op 3 Oktober by die Woordfees kom gesels.
Terwyl Stefaans Coetzee die nege tronkstories in Sel ses geskryf het, was hy telkens verbaas oor hoeveel hy reeds vergeet het van die lewe agter tralies sedert hy in Julie 2015 op parool vrygelaat is. Hy het altesame 18 jaar uitgedien van die 40 jaar tronkstraf wat hy opgelê is nadat vier mense dood en 67 beseer is toe twee tuisgemaakte bomme wat hy help plant het, op Oukersdag 1996 op Worcester ontplof het. Drie van die slagoffers was kinders.
“Die afgelope nege jaar,” skryf hy in ’n e-pos uit Klerksdorp, “het my vrou vrou, Deirdré, en drie seuns – Mani (10), Dian (9) en David (3) – die nagmerries wat my daarna so geteister het, met rustige drome vervang.”
Sel ses, wat die verhaal “een jaar sonder geweld” insluit wat in verlede jaar se Woordfeesbundel, Borrel, opgeneem is, is geïnspireer deur die nege verhale in Jeffrey Archer se Cat o’ Nine Tale. Hierin vertel Archer, wat self twee (van vier) jaar tronkstraf uitgedien het, gevangenes se stories. Terselfdertyd, sê Stefaans, wou hy nog altyd soos Athol Fugard met Tsotsi ’n boek skryf om lesers ’n kykie te gee in misdadigers se wêreld.
Stefaans wend hom die afgelope paar jaar toenemend tot fiksie omdat hy voel sy twee outobiografiese boeke, Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding (2019) saam met Alita Steenkamp, en Onbeskryflike genade (2023), het reeds daardie deel van sy lewe doeltreffend verwoord.
“Veral met Onbeskryflike genade het ek op ’n geestelike reis gegaan met myself en my verlede. Hoekom het dit my so gepla dat ek ’n bomplanter was? Waar en hoe sien ek myself nou? Waarheen is ek op pad, los van my verlede? Soos Roux Steyn, die hoofkarakter in Sel ses wat moet vrede maak met die monster wat in hom skuil, moes ek uiteraard met die bomplanter in my vrede maak. Deur die skryfproses het ek vrede gevind met my verlede, maar ek het ook ontdek mense het my lankal vergewe. Dit is ék wat uit skuldgevoel daaraan vasgeklou het.”
In die tronk was hy ’n getroue dagboekskrywer, sê Stefaans, “maar met ’n tronkjoernaal sou lesers dalk nogmaals ’n blik kry op my groei van bomplanter tot die gesig van versoening, plus dit sou hulle van die voorreg ontneem om aan die storie deel te neem.
“Dit is so maklik om te oordeel as jy nie al die legkaartstukkies het nie. Met fiktiewe verhale kon ek die lesers wat so vinnig oordeel en dan brutaal wreed word – ‘Hang hom!’ – in ʼn atmosfeer plaas waar geweld en selfs moord aan die orde van die dag is.”
Hy wou aanvanklik nie Roux Steyn se storie in die tronk laat afspeel nie, maar kon aan geen beter atmosfeer dink om lesers uit te daag nie. “Net die woord ‘tronk’ boesem vrees in. Dit is soos om lesers in ’n horror-fliek in ’n verlate huis toe te sluit – jy is heeltyd bang. Tog dink ek die geweld en moorde in die meeste krimi’s is meer skrikwekkend as dié in Sel ses.
“In elke wrede monster is ook ’n mens, en andersom. Ek hoop Woordfeesgangers gaan iets van Roux Steyn in hulleself herken,” sê Stefaans. “Die stories speel wel in die tronk af, maar deesdae is baie van die monsters op die sosiale media erger as dié in die tronk. Ek wonder gereeld wat die sosialemedia-boelies sou doen as die landswette hulle nie beperk het nie.”
Sy hoofdoel met die Woordfeesgesprek is om hopelik ’n ander betekenis aan manlikheid te gee. “Ons word van kleins af geleer jy is ’n ware man nadat jy jou eerste bok geskiet het, met bloed oor die gesig, of as jy rugby speel of grens toe is. Ná ons bomme is ek vertel ‘nóú is jy ’n mán’. Om in die tronk as man erken te word moes ek leer smokkel, ‘up’ [om dagga, selfone of kontant blitsig in jou agterstewe op te druk] en messe slyp. Eers toe ek buite was, het ek geleer ’n regte man kyk na sy gesin, erken as hy ’n fout gemaak het en verskil in vrede van ander. Geweld maak van niémand ’n man nie.”
Midde-in sy voortdurende geestelike transformasie raak Stefaans nie grond nie en bly doenig met ’n verbysterende verskeidenheid projekte – van ’n eerste jeugroman en eerste krimi, Bandiet 27 (die eerste in ’n drieluik wat hy reeds in die tronk geskryf het), tot ’n radiodrama, TV-reeks en ’n eerste boek in Engels, voorlopig getitel Heist.
“Ek is besig om deur die hoeveelste keurverslag van Bandiet 27 te werk en my grootste struikelblok is die atmosfeer. Ná nege jaar buite die tronk moet ek heeltyd Google en dan is die feite oud.”
Intussen het RSG ’n radiodrama aanvaar wat hy en Annerle Barnard saam geskryf het en waaraan hulle nog moet skaaf. Hy en Annerle poets ook aan ’n Engelse TV-reeks in samewerking met ʼn oorsese rolprentvervaardiger. Daar is ’n sterk moontlikheid van ’n verhoogproduksie “wat hopelik volgende jaar by die Woordfees en Aardklop gaan speel” en “my volgende saamskryfprojek is ’n krimi – die vier skrywers werk reeds deur die keurverslae”.
En hy is klaar lus vir nog ’n kortverhaalbundel: “Dink net: Roux op parool! Daai eerste paar maande waar almal dink hy maak dit, terwyl hy wonder of die tronk nie dalk beter is nie.”
*
’n Soen in die donker: Twee kortverhaaldebute met Stefaans Coetzee, Gaireyah Fredericks, skrywer van Een voet innie kabr, en Donovan Greeff as gespreksleier is by die Toyota Stellenbosch Woordfees te sien.
3 OKT 13:00
60 min. | US Museum-anneks
R80 | R110 by die deur