CLASSICAL MUSIC

‘Vrek interessant’ en groot scoop vir die Woordfees

Produksie: Sonografie: Grepe in roots en blues
Deur: Johann Nell
Foto’s: Verskaf

Sonografie, in mediese terme, is ’n diagnostiese toets wat hoëfrekwensie-klankgolwe inspan om beelde van liggaamstrukture te skep. Die resultaat is ’n sonogram, ’n beeld. ’n Kardioloog gebruik byvoorbeeld hoëfrekwensie-klankgolwe om ’n beeld, of prentjie, van ’n persoon se hart te sien. Gewoonlik word dit gebruik waar ’n pasiënt se hartspier beskadig is of indien daar abnormaliteite bespeur word. Dus: klank maak ’n prent. En “sonografie” is juis die skep en bestudering van hierdie proses.

Sonografie, in mediese terme, is ’n diagnostiese toets wat hoëfrekwensie-klankgolwe inspan om beelde van liggaamstrukture te skep. Die resultaat is ’n sonogram, ’n beeld. ’n Kardioloog gebruik byvoorbeeld hoëfrekwensie-klankgolwe om ’n beeld, of prentjie, van ’n persoon se hart te sien. Gewoonlik word dit gebruik waar ’n pasiënt se hartspier beskadig is of indien daar abnormaliteite bespeur word. Dus: klank maak ’n prent. En “sonografie” is juis die skep en bestudering van hierdie proses.

Dr. Carina Venter, ’n senior lektor in die US se musiekdepartement, vertel: “Ons maak hier geskiedenis. Dis die eerste keer ooit dat WOMAD, die US se musiekdepartement en die Woordfees bymekaarkom om ’n momentus-oomblik aan die suidpunt van Afrika te plant en aan die gang te kry. WOMAD is reeds gevestig in Johannesburg, maar dis absoluut onvermydelik dat hulle ook ’n voetspoor hier tussen die eikebome kom trap en hulle stempel stewig afdruk in Stellenbosch.”

WOMAD, of andersins “World of Music, Arts and Dance” is ’n internasionale stigting wat fokus op musiekoptredes, premières en werkswinkels. WOMAD se groot gebeurtenisse sluit unieke musiekervarings deur internasionale én plaaslike kunstenaars op een verhoog in. WOMAD het internasionaal miljoene volgelinge op sosiale media, en is reeds in 32 lande oor die wêreld heen gevestig. Hulle ondersteun kunstenaars van Brasilië, Spanje, Oostenryk, Nederland, Kanada, en nou selfs Suid-Afrika.

WOMAD kan nie genoem word sonder om oor die 74-jarige Peter Gabriel te praat nie. Gabriel was vroeër (1967-1975) ’n sangerlid van die groep Genesis, waarvoor hy liedjies geskryf het (“She is beautiful” was sy eerste treffer). Later in sy lewe, ná ’n roemryke loopbaan, het hy meer belangstelling begin toon in wêreldmusiek. Dit het beteken hy het nuwer klanke aan Westerse popmusiek bekend gestel. Sy invloed het so groot geraak dat hy uiteindelik die dryfveer agter die stigting van WOMAD was. Sy grootste triomf was om musiek van ander kulture bymekaar te bring. Een van die liedjies wat vir hom só uitgestaan het dat hy dit selfs op die B-kant van ’n plaat opgeneem het, was “Shosholoza”.

Vanjaar is dit die 40ste herdenking van aartsbiskop Desmond Tutu se ontvangs van die Nobelprys vir Vrede (1984). Om hierdie geleentheid te vier, word internasionale kunstenaars deur WOMAD na Kaapstad gebring waar hulle later hierdie week in die St. George-katedraal gaan optree. Enkele plaaslike deelnemers is Ladysmith Black Mambazo, PJ Powers en Arno Carstens. Internasionale kunstenaars sluit in bekendes soos o.a. Joep Pelt (Nederland), die Iskwew-sangers van Kanada (’n acapella-sanggroep), Livia Fred (Brasilië) en Francesca Biancoli (Italië).

Woordfeesgangers op Stellenbosch gaan Joep Pelt te siene (en te hore) kry wanneer hy hierdie week in die Fismersaal van die US se konservatorium sy buiging maak. Die 45-jarige Pelt is ’n Amsterdamse sanger/liedjieskrywer/kitaarspeler wat sy inspirasie put uit delta blues, folk, ragtime en country-musiek. Hy beskou homself as ’n musikale “globetrotter”, want hy het grootgeword langs die walle van die modderige Mississippi- en Nigerrivier. ’n Amerikaanse en Afrika-inslag op sy uitvoerende werk is inherent aan sy gene en kultuur, veral nadat hy in 2004 en 2005 in Mali ’n sterk invloed van Afrikamusiek in sy repertorium begin insluit het.

“WOMAD op Stellenbosch is ’n klein begin, maar die potensiaal is enorm,” sê Carina. “Sonografie is ’n spin-off event te danke aan die Tutu-vieringe in Kaapstad. Ons wil iets hier in Stellenbosch plant wat gaan uitrys en gedy.”

Ek wil weet wat gehore gaan beleef as hulle na die aanbieding kom kyk.

“Die gehoor gaan lekker verras word met klanke. Die musiek sal byval vind by mense wat ’n breë belangstelling in musiek in die algemeen het. Nie net is die musiek vrek interessant nie, dit neem die konsertganger in sy vertroue. Die hoorders voel gekoester. Daar word tot die hart van die gehoor gespreek deur klanke en woorde.”

Sonografie is ’n spin-off event te danke aan die Tutu-vieringe in Kaapstad. Ons wil iets hier in Stellenbosch plant wat gaan uitrys en gedy.

Konsertgangers gaan hoor hoe Joep Pelt se Mississippi-blues, die onbegeleide Iskwew-sangers van Kanada en Ncebakazi Mnukwana saam met Garth Erasmus hulle na ’n nuwe wêreld van klank, ritme en stories neem. Inheemse klanke van Suider-Afrika, soos Garth wat op sy kalbasboog tokkel en sy saxofoon bespeel, vertel stories wat juis deur instrumente, musikale idiome en onderskeie wêrelddele bymekaar kom saam met die ander kunstenaars. Ons gaan stories hoor oor herkoms, geheue, die oorsprong van klanke en individuele vertellings. Maar niks staan los van mekaar nie. Klanke en note, woorde en verhale, tree in gesprek met mekaar. Hulle lewer kommentaar op mekaar, skep ’n nuwe musikale meta-taal, en maak vrye improvisasies wakker. Idees bons heen en weer. Wat op die verhoog gebeur, val sag en gemaklik op die oor.

Gehore gaan iets nuuts hoor, veral wanneer die stemkunstenaar Ncebakazi, wat ook ’n uitmuntende kenner van inheemse Xhosa-musiek is, aan die woord kom. Die verhoog gaan te klein wees vir die mengelmoes van die plaaslik Suid-Afrikaanse grein van klanke, en internasionale resonerende ritmes en harmonieë.

En WOMAD in die toekoms? “Die moontlikhede is onbeperk. Ons kan produksies internasionaal neem, en WOMAD gaan beslis in Stellenbosch investeer. As Sonografie goed ontvang word, is die wêreld ons oester. Ons is in voortdurende gesprek met mekaar. Die driemanskap tussen die musiekdepartement, Woordfees en WOMAD is ’n ‘match made in heaven’. Ons vertrou hierdie eerste event gaan op groot dinge uitloop.”

WOMAD het in Stellenbosch gearriveer! Hierdie stigting gaan die wêreld laat dreun met hulle aanbieding. Klanke, songs, ritmes en melodieë gaan beelde en prente maak. Dis hierdie prente en herverbeeldings van die hede wat jou gaan vasgryp soos jy nog nooit ervaar het nie. Saam met Garth Erasmus se Khoe-klanke, Joep Pelt se blues, Ncebakazi Mnukwana se unieke verhale, en die Kanadese vrystemme, gaan jou hartsnare tril. Kom toets jou hart met Sonografie.

*

Sonografie: Grepe in roots en blues
2 OKT 16:00
80 min | Fismer
R175-R210 | R205-R240 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn