EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Poësie as binne-aarse voeding
Deur: Antjie Krog
Foto’s: Golda Simmers en Verskaf
Dankie, Saartjie Botha, vir die magtige lewensreddende organisme van taal-as-kuns wat jy in stand hou. Dankie, Bibi Slippers, vir ’n hoogs innoverende en briljant georganiseerde poësie-aanbod wat die fees diep binne-aars gevoed het, skryf Antjie Krog ná die eerste Dag van poësie by vanjaar se Woordfees.
Die hartkamers van poësie is klank. Dit weet ons. Maar liewe vader, op hoeveel heerlike maniere het dit nie op die Toyota Stellenbosch Woordfees na ons toe aangekom nie! Voorlees van gedigte, opvoer van gedigte, sing van gedigte, dramatisering van gedigte, gedigte as QR-kode agterop stoele, gedigte in weerklinkende stemme, raakvat uitvra oor die binnekante van gedigte, gedigte-presentjies in fyn koevertjies langs die melk en suiker, gedigte in bome, gedigte op pamflette, ’n skattejag na gedigte, rakke vol digbundels…
Ag, ons was in ekstase oor die onverwagte gedigte-weelde geskenk deur ’n nooit-genoeg-volprese Woordfees.
’n Dag van Verruklike Onderdompeling.
’n Dag van In Tale Praat.
’n Dag van In besit geneem wees deur poësie.
’n Dag van Asemsnak op taal-swenke.
’n Goeie gedig versnel jou bewussyn, intensifeer jou ervaring van menswees en bied verblindende insig in die onsêbare van jou daaglikse lewe. Het jy ooit hierdie versnelling meegemaak, hierdie insig, smag jy daarna soos ’n verslaafde. Dit is ons, so dink ek, digters en gedigliefhebbers.
’n Goeie gedig versnel jou bewussyn, intensifeer jou ervaring van menswees en bied verblindende insig in die onsêbare van jou daaglikse lewe.
Daarom was so baie van ons dáár op Sondag 12 Oktober 2025, die minder bekende digters, die nog nooit voorheen gehoorde digters, die verskillende variëteite digters, die skuwes, die hoopvolles, die vertaaldes, die saam oopsprei van talente, en die besonderse skare van gedigoproepers, gedigaanvleiers, gedigkenners en ja waarlik, selfs ’n ry skerpsinnige blinkoog studente!
En was ons verhonger! Televisie kies om ons te voer met die rou consumerism van proteïen-vulgêre kosvoorbereidings, rusbank-kakpraters en celebrity televisiehosts – dikwels met driewiel-breinselle. Is dit waaragtig moontlik dat in hierdie land televisie nie ’n enkele boekprogram kan voortbring nie, maar liewer week ná week onbeskofte bling van dekorgeobsedeerde kletssnaters aanbied vir wie die term onder-die-broodlyn die nuutste frase is vir ’n X-straalfiguur.
Die Afrikaanse radio het goddank nog die pragtigste poësie- en boekprogramme, veral ondersteun deur die talle wonderlik-aktiewe Afrikaanse leeskringe, boekklubs, uitgewers, skrywers, fondse en feeste waar Afrikaanse letterkunde geskep, opgevoer en bespreek word.
In die vyftiger- en sestigerjare wou almal digters wees. Digters het die taalvaardige begaafdheid verteenwoordig wat die siel aangryp en berge kon versit. In die tagtigerjare wou almal liewer rocksterre wees. Begin van hierdie eeu was dit rappers; deesdae is dit celebrities en influencers. Digterwees is op die periferie. Ons vertoon nie glansryk op sosiale media nie. Ons tragedies is ingewikkkeld. Ons is arm. Ons het geen invloed nie. Ons gedigte het geen fiskale waarde nie. Die Hollandse digter Geert van Istendael herinner ons dat visuele kuns ’n markwaarde het. ’n Gedig nié.
Maar hoe meer die gemeenskap obsessioneel raak deur geld en wins, hoe meer word die digter se werk irrelevant en daarom juis subversief. Van Istendael sê: Digters is die ware ketters van die wêreld.
Dankie, Saartjie Botha, vir die magtige lewensreddende organisme van taal-as-kuns wat jy in stand hou. Dankie, Bibi Slippers, vir ’n hoogs innoverende en briljant georganiseerde poësie-aanbod wat die fees diep binne-aars gevoed het.
Poësie is daar om onsself te red van barbare.
XIII
Toe jy kind was, het jy gedink:
daar sal groot dinge kom uit my,
groot dinge, grotes en goeies –
soos ‘n seun moet dink, natuurlik.
En: die groot is gesplits, én die goeie,
nou:
en in plaas van net groot en net goed,
het daar verskriklikheid en eenvoud
en boosheid en eenvoud
en eenvoud en nederigheid
– gesprikkelde sampioene,
deur die teer, uit die teer van die straat,
keiserlik rooi en wit
by die breuk uit wat jy is, kom peul. Die aarde is nie eenvoudig.
– N.P. van Wyk Louw
Annual crop
Don’t let me die in winter.
I choose apricot blossoms
preening pink and white
February vineyards
straining for relief
hide-and-seek citrus
scattering in May.
Harvest season falls
on a South African woman
every six hours
when a man who once loved her
reaps her life with his rage.
– Siphokazi Jonas
- ’n Gedeelte van die artikel het in PEN verskyn.