LIFESTYLE
Bierbere en voëls van alle vere
Produksie: Bier-uur met Beer
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld
Bier-uur met Beer: Die samekoms van ’n klomp grootmense wat met vreemdelinge, ’n koue bier en ’n hand vol useless trivia-kennis hulle intellek ten toon stel.
Onder die gladde en effens ondeunde leiding van Beer Adriaanse, een van VIA se speletjiesmeesters vir die show Slim vang sy baas, is spanne uitgedaag met 30 quizvrae. Die vrae was skerp, die kompetisie skerper, en elke deelnemer se kennis is getoets deur ’n bier of twee.
Die aankondiging van die deelnemende spanne se name was omtrent ’n vertoning op sy eie. Die name was kreatief en snaaks, regte crowd-pleasers. Van my gunstelinge was die Bierbere, Dagligte en Algemenekenners (die Pantoffelvlooie en Mengelmoeskardoesies is ook noemenswaardig).
Dit is vir my merkwaardig dat mense van all walks of life by die RSG-ATKV-vierkant bymekaarkom om ’n speletjie te speel. Dit klink so eenvoudig en ek het aanvanklik nie veel daarvan gemaak nie, maar toe Beer die spanne aankondig en die hele gehoor saam lag en spot, het ek heeltemal verstaan. Kultuur, bier en gemeenskap – die drie pilare van ’n suksesvolle Woordfees-ervaring.
Dit is ’n lekker item om by te woon om ’n slag die Woordfees-ys te breek voor die ander vertonings wat jy bywoon. As jy vroeg genoeg opdaag, kry jy ’n gratis bier.