OPINIE

Die borrel oor Botmaskop

Stellenbosch-dorpsgesprekke: Die slag van Botmaskop
Deur: Ruhan Fourie
Grafika: ChatGPT

Wat hom totaal omkant gevang het by die Dorpsgebrek oor Botmaskop is hoe die kritici van die ontwikkelaar eintlik in wese met hom saamstem, sonder dat hulle dit noodwendig agterkom. Die konsensus was sterk dat ontwikkeling in wese goed is, en dat die rykes wat die dorp begin omsingel ekonomiese groei bring en werk skep. Watse stront is dit, vra ’n moerige Ruhan Fourie.

Dis nie net dorpskinner as iets omstrede op Stellenbosch gebeur nie. Die hele land raak sommer opgesweep. As ’n gesuipte wit laaitie sy been lig teen ’n swart student se goed, is die nasionale blaaie vol opinies, maar sluipmoordpogings op Oos-Kaapse kampusse is vir die nasionale media en hulle stedelike lesers net ’n blurb of twee werd. Maar dis seker wat gebeur as ’n plek só ingat raak, en in só ’n bubble leef, dat selfs die Stellenbossers dit nie eens ontken nie.

Stellenbosch het veral die afgelope jare ’n shining city on the hill geraak vir effektiewe bestuur wat groot geld na die dorp lok. Toeriste en ekonomiese migrante wie se rykdom nie vinnig genoeg in die noorde kon groei nie, stroom hierheen. Dié dinge maak maar die Stellenbossers wat hier grootgeword het, of vele dekades al hier woon, ongemaklik. Uitbreidings teen die hange van die berge begin die dorp omring, en die verkeer hoop soggens en smiddae al hoe meer op. Vir dié Stellenbossers is die ongedefinieerde “dorpskarakter” al hoe meer in gedrang.

Niks het die afgelope jaar hierdie ongemak getrigger soos die ontwikkeling teen Botmaskop nie. In die koerante en op die sosiale media is dit belangegroepe teen die ontwikkelaar, die ontwikkelaar teen die omgewingskenners, en soms sommer almal teen die munisipaliteit. Soveel so dat Carte Blanche al ’n draai kom maak het om te hoor wat aangaan. Myns insiens is die reaksie en organisering teen die ontwikkeling ’n teken van gesonde aktiewe burgerskap! In baie dele van die land gooi mense op plaaslike vlak gou tou op, maar hier was mense moerig genoeg om groot te gaan teen wat hulle glo onreëlmatig is.

G’n wonder dat die Netwerk24 Diskoerstent met die eerste Dorpsgesprek oor Botmaskop volgepak was nie. Op die verhoog sit die gespreksleier, Kabous Meiring, met die ekoloog Brian du Preez. Dinge in die tent was maar tense. Saartjie verduidelik voor die gesprek toe dié onderwerp gekies is, was dit nog net ’n vurige debat op die dorp was. Nou is daar ’n hofsaak, wat beteken dat die betrokkenes nie eintlik oor alles kan praat nie. Tog sit van hulle in die gehoor, en Saartjie sê om gemoedere in toom te hou gaan sy op die verhoog bly sit en intree as daar appels geswaai word. Dit het gewerk. Saartjie kan nou bouncer ook op haar lang lys van bekwaamhede skryf.

Kabous laat waai met ’n uittreksel uit ’n artikel deur die ekonoom Johan Fourie wat die saak vir die ontwikkeling stel. Dis moedswillig. Sy wil die dorpenaars skietgoed gee. Toe laat waai Brian met die ekologiese impak van die ontwikkeling, en die burokratiese opgeruimdheid wat die ontwikkeling laat voortgaan het. Die gehoor knik saam met die Brian se verstaan van die saak.

Die vark in die verhaal, die ontwikkelaar, Handré Basson, sit tussen hulle. Hy kry toe ’n kans om sy saak te stel. Hy oortuig nie noodwendig die gehoor dat die ontwikkeling die regte kanale gevolg het nie. En sy soetsappige verhaal van die arme Johannesburgers wat op Botmaskop wil kom woon en nou ander planne moet maak, wen ook nie simpatie nie. Tog is daar ’n klompie feite opgeklaar deur ’n paar heen en weer kommentare van Brian, Handré en kenners van die saak in die gehoor.

Myns insiens is die reaksie en organisering teen die ontwikkeling ’n teken van gesonde aktiewe burgerskap! In baie dele van die land gooi mense op plaaslike vlak gou tou op, maar hier was mense moerig genoeg om groot te gaan teen wat hulle glo onreëlmatig is.

Die grootste klarigheid – en dis iets om te verwelkom in die breër debat – is dat Handré die stuk grond ’n dekade en ’n half terug gekoop het met al die regte vir die ontwikkeling reeds in plek – hy is dus gevrywaar as daar iets dodgy tydens die proses om die regte te bekom gebeur het. Dit het voor sy tyd gebeur en almal het dit bevestig. So gesprek is maar geskoei op reaksies en teenreaksies en veral vooropgestelde idees.

Wat my totaal omkant gevang het, is hoe die kritici van die ontwikkelaar – en glo my, hulle was moerig! – eintlik in wese met hom saamstem, sonder dat hulle dit noodwendig agterkom. Elke liewe persoon wat iets uit die gehoor sê, het begin met “ek is nie teen ontwikkeling nie, maar…” Die konsensus is sterk dat ontwikkeling in wese goed is, en dat die rykes wat die dorp begin omsingel ekonomiese groei bring en werk skep. Watse stront is dit?

As daar ’n plek in hierdie land is waar hierdie logika al moes werk, is dit Stellenbosch. Die huidige ekstreme ongelykheid blyk nie te verminder met die rykes wat intrek nie. Dis amper asof die dorp se ongelykheid nie is as gevolg van brandarmes wat nóg armer word nie, maar die handjie vol rykes wat al hoe meer word!

Vir die bywoners van die Dorpsgesprek is ongebreidelde oorheersing van die rykes aanvaarbaar, solank dit net hou by die estetika van die dorp. Dís waar Botmaskop skeefgetrap het. Hierdie verknogtheid aan ekonomiese dogma wat ongevraagd aanvaar word, maak my nie net de moer in nie, maar vrek bang.

Facebook
Twitter
LinkedIn