EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

As stories hulle eie kop volg

Produksie: Wisselwerk
Deur: Jo-Ann Floris
Foto’s: Pierre Rommelaere

Van die absurde tot ’n gehekelde sekspop in die rolverdeling – as skrywers moet wroeg om te skep, gee hulle die gehoor darem iets om oor te dink. En te lag. En soms selfs te hyg.

Met haar groot bek en mooi skoene sal sy nie ’n verskil maak nie, maar dis wanneer sy stil raak en skryf dat die rimpels op die water begin vorm. Só verduidelik die dramaturg Dianne Du Toit Albertze om soms verby die storm en drang te sluip en te skep. Luister maar, want sy is die ontvanger van die 2025 Reinet Nagtegaal-teksprys vir Huis van Sand, een van die produksies by vanjaar se Woordfees.

Hier, as deel van die EasyEquities Skrywersfees, gesels Dianne en haar medeskrywers Jolyn Phillips, Ingrid Winterbach en Danie Marais met Kabous Meiring oor die wisselwerking tussen die skrywer se werk – hoe dit begin en hoe dit soms ’n wil van sy eie kry en ’n ander rigting inslaan.

Al vier het produksies by vanjaar se Woordfees – óf van hulle eie werk óf, soos Jolyn, werk wat aan hulle toevertrou is om gestalte te gee aan ’n ander skrywer se woorde.

Ter agtergrond: Die idee van die gesprek het ontstaan by Willem Anker se boek Patmos, wat begin het as ’n toneelstuk en toe omskep is in ’n novelle – gewoonlik is dit andersom. (Willem kon toe nie die gesprek bywoon nie.)

Elke een in daai skrywerstoel kom met street cred – hulle het almal pryse of erkenning ontvang vir die pennevrug waaraan gehore en lesers so lekker kou en herkou.

Moet ’n skrywer dus altyd wroeg? Maak dit jou skyfwerk beter, wil Kabous weet.

Wroeging het sy plek, maar dit moet omgeskakel word in energie wat ander goed laat gebeur. Dianne verduidelik dit só: “Die idee van die tortured writer is daar, ja. Waar die wond in jou wese bloed drup op die blad. Maar nee man, ’n mens kan uitbloei. Dis ongesond.”

Dit sluit dan aan by die vorige stelling dat ’n mens moet stil raak om bewus te kan word van die dinge wat rondom jou gebeur. Daai stilte word aangehelp deur ’n groeiende selfvertroue in wat jy doen.

Nou is Jan en Maria oorgelaat aan die genade van ’n verstekeling aan boord wat óf slawe wil gaan verkoop óf dalk ’n kruidenierswinkel wil oopmaak.

Danie moes ook sy woorde vir ander gee om mee te woeker, vandaar die eenmanvertoning (Ek is nie Danie, met Albert Pretorius) met ’n keur van 21 van sy gedigte, saamgestel uit sy digbundels. Schalk Joubert kleur dit in met musiek.

“Ja, ek kan niemand in my lewe vir enigiets blameer nie, want ek kom uit ’n kerngesonde huis. Daarom verstaan ek nie hoekom ek so aangesukkel het in my lewe nie. Maar dis beslis nie hulle skuld nie.”

Hy dink wel die “deel van depressie kom van my ma af”. Hoe ook al, hy loop al vir ’n groot deel van sy lewe met onhutsende vrae.

“Die land is rof! Maar jy kom uit ’n gelukkige plek. Dan gaan jou oë oop en jy sien om jou dit gaan nie goed met almal nie. Dan begin die vrae, soos: ‘Hoekom word ek so baie dinge gespaar?’ ”

Sy jongste digbundel, ek en jy bestaan nie, waarvoor hy die eerste Breyten Breytenbach-prys vir digkuns ontvang het, hou hom goed besig met waar hy as wit man in Suid-Afrika rank moet skiet. En of hy hoegenaamd mag.

Waaroor nie gewroeg is nie, was die magic tussen Schalk op musiek, Albert as akteur en Niel van Deventer (konsep).

“Daar is ’n spesiale shorthand tussen almal; hulle vul mekaar perfek aan.”

Jolyn het wisselwerking op ’n ander vlak ervaar. Sy moes die bekroonde skrywer Ronelda Kamfer se Kompoun vir die verhoog verwerk. Eers het sy nee gesê, want “die werk is baie kompleks, en ’n mens krap nie aan ’n genius se werk nie”.

Uiteindelik het sy geswig, en die skrywer se tevredenheid met die eindproduk het al die gewroeg die moeite werd gemaak. Woorde soos dat sy wat Jolyn is die storie met respek en deernis vertel het, het haar laat besef sy het die regte rigting ingeslaan toe sy die karakters die septer laat swaai.

Sy moes met haar eie verhoogstuk Bientang (vir ’n vorige Woordfees) ook baie van haar eie vooroordele sluk namate sy dieper in die geskiedenis en oorsprong van die storie van “die laat Khoi-vrou” gaan delf het. Sy moes daarmee saam ook eers verby die kwaadword (van hoe geskiedenis en mense uitgebeeld word) skuur om die storie te kan vertel.

Net toe dit voel of wroeging wragtag al pad is vir ’n skrywer, dwarrel die Hertzog-pryswenner Ingrid Winterbach in met Moedswil en muitery. Waar ou Jan van Riebeeck (of dan J.R.) se vrou, Maria, deur ’n man gespeel word en ’n lewensgroot gehekelde pop “met ’n kunswerk van ’n vulva” dreig om plesierigheid se tone vanself te laat krul.

Iets om te beleef, beloof Ingrid.

“Ek het eers ’n storie geskryf oor Jan se reis. Dit was ’n ernstige stuk.

“Maar terwyl Jan reis, gebeur daar iets met my, en ek trek net los. Om daai geskiedenis met erns aan te pak vra vir ’n ander mindset as myne!

“Ek glo in Breyten Breytenbach se woorde: die bevrydende lag van die zen.”

Nou is Jan en Maria oorgelaat aan die genade van ’n verstekeling aan boord wat óf slawe wil gaan verkoop óf dalk ’n kruidenierswinkel wil oopmaak.

Die paadjies wat op een plek begin, vat inderdaad sy eie afdraaie. En dankie tog daarvoor, anders sou hulle nooit die onbekende verken het nie, stem die skrywers saam. En hulle het nie eens gewroeg oor die antwoord nie.

Facebook
Twitter
LinkedIn