OPINIE

Hoe gemaak as ’n perd malkoeisiekte het?

Deur: Maliza Adendorff

Wat resensies uitdagend maak, is die wete dat die Kunstenaars (wat verkieslik geloof wil word), hulle trotse ouers én hulle vriende dit gaan lees. Daarom is dit so sleg om in ’n gehoor te sit wanneer iets glad nie vir jou werk nie, want dan moet jy daarna iemand se “talent” kritiseer volgens jou eie verwysingsraamwerk en smaak, skryf Maliza Adendorff.

Gewoonlik kan ’n mens aan die inleiding van ’n resensie begin werk vóór jy die produksie bywoon. Jy verduidelik vir die leser waaroor dit gaan, wie op die planke is, wie die regie, stelontwerp en rekwisiete behartig. As die gordyn gesak het, maak jy op jou geheue en aantekeninge staat om die leser in te lig oor of dit die moeite werd is. Een, twee, drie, dis ’n resensie dié.

Debuutproduksies kom soms soos ’n dark horse na jou aangestap. Ek dink terug aan een van my dosente, wat gereeld gesê het dit is makliker én lekkerder om ’n wilde perd in toom te probeer kry as wat dit is om ’n dooie perd aan die beweeg te kry. Vir een met malkoeisiekte is daar egter geen raad nie.

Binne die eerste vyf minute van wat Die Kunstenaar hulle debuutproduksie noem, krap ek my sorgvuldig nagevorste inleiding dood, want hier kom ’n ding, en dis nie mooi nie – al dink die gehoor duidelik anders.

’n Mens kry verskillende soorte applous: die applous wat lewens verander, en dan die beleefde applous uit ordentlikheid en nie noodwendig eerlikheid nie…

Die Kunstenaar spring weg en speel met oorgawe, maar slég. Herhalende, talmende note en akkoorde asof hulle ’n wysie probeer vang deur heeltyd dieselfde strik te stel. Sodra jy dink jy is gewoond aan wat jy hoor, verander iets en nou sit jy met iets wat voel soos aangename teleurstelling.

In hulle eerste komposisie nooi die kunstenaar die gehoor om bloot te luister. Hel, ek het probeer, maar ek hóór net. Ek hóór met soveel oorgawe, fokus en inspanning as wat ek kan, maar dis nie luister nie.

Binne die eerste vyf minute van wat Die Kunstenaar hulle debuutproduksie noem, krap ek my sorgvuldig nagevorste inleiding dood, want hier kom ’n ding, en dis nie mooi nie – al dink die gehoor duidelik anders.

In my aantekeninge skryf ek: “Jy is nooit heeltemal seker waarna jy luister nie, en jy is nooit heeltemal seker of jy daarvan hou nie. Is dit miskien die klank… van abstrakte kuns?”

Iemand draai ’n linkerpols na die blink glasgesiggie van ’n horlosie. Die musiek is maklik om na te luister, maar nie vir lank nie. Dis nie tegniese musiek nie – en dit hoef ook nie te wees nie… dis mos oukei as dit bloot luisterbaar is (wat hierdie nie is nie). Is daar nie waarde daarin om eerder met intensie aan ’n mooi, tegniese stuk te werk en dit met trots aan te bied eerder as ’n liedjie met lirieke wat voel soos warmgemaakte slaptjips saam met gisteraand se dronkverdriet nie? Is ek die enigste een wat voel dat ’n sekere soort volwassenheid in Die Kunstenaar se musiek ontbreek? Uit die hoek van my linkeroog probeer ek die gehoor opsom.

Hierdie musiek is “interessant”, het ek in ’n oomblik van vroomheid in my notaboek geskryf, maar daardie aanhalingstekens is definitief geniepsig en kwaadwillig, soos wanneer ’n mens iemand se neus as interessant beskryf.

Hulle “vingers ken die pad, opgesluit in wit en swart”, maar hulle hande hardloop weg. In die volgende liedjie verkondig die kunstenaar dat hulle uit die menigte instrumente wat hulle bespeel, hulle stem die liefste het. Dis hier waar ek agterkom dat die onkundige resensent van gisteraand nie meer die “musiek” as “komposisies” beskryf nie.

“Dié kunstenaar is net so bevoeg…” Wag, nee, die woord “bevoeg” is met twee strepe doodgetrek, die papier het omtrent geskeur. In sy plek is die woord “gemaklik”. Dit lees nou: “Die Kunstenaar is net so gemaklik agter die klavier as agter die kitaar.” Hoe verduidelik ’n mens op ’n diplomatiese manier dat “bevoeg” en “gemaklik” nooit verwar moet word nie? Dis is altyd dié wat nié die aanmoediging nodig het nie, wat aangemoedig word.

In my aantekeninge skryf ek: “Jy is nooit heeltemal seker waarna jy luister nie, en jy is nooit heeltemal seker of jy daarvan hou nie. Is dit miskien die klank… van abstrakte kuns?”

Die Kunstenaar vertel hulle hou van musiek en stories wat mense diep tref. Daar lei my aantekeninge van gisteraand my voor die vuurpeloton. Ja, asseblief, tref diep in die middel van my voorkop. Skiet raak, skiet dood, moet my asseblief net nie verveel met jou oorspronklike musiek wat alles dieselfde klink nie.

Die idee van “potensiaal” los altyd ’n vreemde gevoel op die krop van my maag, want dit voel gelyk soos ’n klap deur die gesig en ’n soen op die voorkop. Dit voel of jy op ’n plek begin waar jy graag wil wees, nie waar jy jouself op die huidige oomblik in jou lewe bevind nie. Dis ’n grys, wollerige area waaraan jy nie vatplek kan kry nie, waar Die Kunstenaar nog na hulle stem soek. ’n Mens kan egter nie potensiaal verkoop nie, nie in Cyril se ekonomie nie.

Talentvol is hulle beslis. Entoesiasties ook. Hulle het alles in hul arsenaal om hulleself te bewys as ’n kragtige stem in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Die Kunstenaar is wel nog ’n ongeslypte diamant wat die ongeoefende oog maklik vir ’n kleibaksteen kan aansien. Soos ’n mens wag vir Die Kunstenaar om jou verkeerd te bewys, wag jy die hele vertoning lank vir iets groots om te gebeur, in morbiede nuuskierigheid vasgevang tot die produksie end kry. Dan móét jy eenvoudig ontsnap voordat hulle dalk ’n encore aanbied. Jy prewel iets soos “Ek moet dringend by ’n volgende show uitkom” soos jy verby die omie by die deur skuifel, so grasieus soos ’n gewonde pikkewyn.

Wat resensies so uitdagend maak, is die wete dat die Kunstenaars (wat verkieslik geloof wil word) én hulle trotse ouers én hulle vriende dit gaan lees. Daarom is dit so sleg om in ’n gehoor te sit wanneer iets glad nie vir jou werk nie en dan iemand se “talent” uitmekaar te trek volgens jou eie verwysingsraamwerk en smaak

Maar wie de hel is ek dat mense na my moet luister? Waddehel weet ek? Is ek braaf genoeg om myself te bewapen met ’n instrument en voor mense te staan om te sing? Definitief nie. Miskien het ek slegte smaak. Miskien hou ek my fênsie? Miskien weet ek niks. Miskien val hierdie net nie in my smaak nie. Is dit gemik op ander mense? Ja, nie mense soos ek is nie. Mense met ’n vriendeliker binnestemmetjie en notaboek as ek moet maar daarna gaan luister as hulle wil.

Ek is amper bang Die Kunstenaar kom op die stukkie werk in my notaboek af. Nou-nou kom sing hulle vir my, want dan is waansin en misdaad moontlik in orde.

Facebook
Twitter
LinkedIn