EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Hollywood se Jozi-wortels

Produksie: Hollywood on the Veld
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Ilza Roggeband

Johannesburg was aan die begin van die vorige eeu ’n gewilde stad – nie net oor goud nie, maar ook oor sy fassinerende rolprentgeskiedenis, sê Ilza Roggeband.

In 1913 het ’n Amerikaanse miljoenêr wat sy geld uit versekering gemaak het, besluit as daar nou een plek is waar flieks gemaak moet word, is dit… Johannesburg.

Die verstommende feit is dat hy dit reggekry het. Daar was ’n era in Suid-Afrika se geskiedenis toe daar reusagtige filmproduksies op die Hoëveld gemaak is.

Die joernalis en skrywer Ted Botha, bekend vir sy boek oor die berugte reeksmoordenares Daisy de Melker, was in gesprek met die joernalis en skrywer Ilse Salzwedel oor sy boek Hollywood on the Veld wat die verhaal vertel van Isidore Schlesinger, onder vriende en familie bekend as IW.

As gevolg van die goudmyne en die soeke na rykdom was Johannesburg ’n gewilde stad. Om die inwoners besig te hou was daar teaters, bordele en kroeë, het Botha verduidelik. Schlesinger het aanvanklik dokumentêre films gemaak, en teen 1915 het hy meer as 40 teaters in Suid-Afrika besit. Hy begin ook die maatskappy African Film-produksies met kantore in Killarney, Johannesburg.

Schlesinger het aanvanklik dokumentêre films gemaak, en teen 1915 het hy meer as 40 teaters in Suid-Afrika besit.

In 1916 word De Voortrekkers vrygestel, die eerste volwaardige speelfilm wat in Suid-Afrika vervaardig is, met ’n rolverdeling van derduisende. Dit word selfs deur die Britse media as die grootste in die geskiedenis van film beskryf. Die man wat die rol van Dingaan gespeel het, het die filmspan by ’n polisiestasie in Stanger gekry, en hoewel dit ’n stilrolprent was, was daar glo nie een Afrikaanssprekende in die rolverdeling nie. Die draaiboek is wel deur Gustav Preller geskryf.

Daarna volg ’n magdom rolprente soos King Solomon’s Mines (1918), Copper Mask (1919), The Blue Lagoon (ja, die heel eerste weergawe is in 1923 al gemaak) en Moedertjie (1931).

Ek kry ’n terugflits na my jeug toe Botha noem dat Schlesinger die Colosseum-teater in Johannesburg gebou het. Ek onthou die sterretjiesdak met die flonkerende liggies en musiekblyspele wat Taubie Kushlick op die planke gesit het; iemand in die gehoor onthou hy het Petula Clark daar sien optree… Maar my grootste herinnering was toe ek in 1977 Suid-Afrika se eerste boy band, Rabbitt, saam met ’n duisend gillende flouvallende tienermeisies gesien het.

Terug na die gesprek: Botha sê dit was vir hom moeiliker om die storie van Schlesinger aan uitgewers te verkoop, maar hy het steeds hoop in sy hart dat hierdie boek van hom by iemand soos Martin Scorcese sal uitkom wat ’n hart vir filmgeskiedenis het.

Hierdie is ’n fassinerende stuk geskiedenis. Ná die gesprek het die mense wat dit bygewoon het, amper elkeen in die ry gestaan om ’n boek te koop. Ook myne is in my sak sodat ek dit kan lees wanneer ek weer by die huis is.

*

• Gaan kyk gerus De Voortrekkers op YouTube

Facebook
Twitter
LinkedIn