KINDERFEES
Kinderlike verwondering oor ‘Die Towerfluit’
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Dominic Taylor en verskaf
Daar kan kwalik ’n beter keuse wees as Die Towerfluit van Mozart om almal, van kinders tot oupas en oumas, aan die wonderwêreld van opera voor te stel. Die storie is propvol fantasie, romanse en avontuur, die musiek meesleurend en presies nommerpas vir elke loflike, lieflike of lawwe karakter.
“ ’n Mens kan dit oor en oor kyk en elke keer verstaan jy ’n bietjie meer,” verduidelik Magdalene Minnaar, artistieke hoof van Kaapstad Opera. “Dis ’n ongelooflike veelvlakkige teks en die musiek – wat strek van lig tot donker – werk saam in daardie lagies.”
Haar mening word heelhartig beaam deur die regisseur van die produksie, Elizma Badenhorst. “Die Towerfluit is die perfekte opera om jong kinders en tieners aan opera bloot te stel. Dit was die eerste mini-opera wat ek as kind gesien het en wat die wêreld van opera aan my bekend gestel het. Dit is gewild om ’n rede. Dit sal altyd goeie materiaal wees om dieper te bestudeer, maar ook om nuwe gehore na opera toe aan te trek.”
Die Towerfluit is ’n “singspiel”, oftewel ’n opera waarin gesing én gepraat word, amper soos ’n musiekblyspel. Die storie is nie juis kompleks nie. Eintlik is dit ’n bekende storie, maar met ’n kinkel in die kabel. Die aantreklike prins Tamino is op soek na ware liefde en geluk. In opdrag van die Koningin van die Nag vertrek hy met ’n towerfluit as wapen om haar dogter, Pamina, te gaan red van die hoëpriester van Isis, Sarastro. Hy word op sy reis vergesel deur die koddige voēlvanger Papageno wat self baie hard op soek is na ’n vrou. Ná vele kronkelpaaie, lokvalle en uitdagings kom Tamino en Papageno agter die Koningin van die Nag was nie heeltemal eerlik nie.
Dáár lê die kinkel in die verhaal. Tog oorwin die liefde uiteindelik as Tamino en Pamina se liefde blom en Papageno ook sy sielsgenoot, Papagena, vind.
Om die storie selfs toegankliker vir kinders te maak het die stel- en kostuumontwerper van die Kaapstad Opera-produksie, Frankie van Straten, met die oorspronklike gedagte vorendag gekom om al die karakters voēls te maak. “Gewoonlik is al die karakters mense, behalwe Papageno wat half voël, half man is,” vertel Elizma. “In ons produksie was hy weer die enigste mens.”
Prins Tamino is ’n edele valk, die Koningin van die Nag is ’n uil, en haar dogter, Pamina, ’n uilprinses. Die hoëpriester, Sarastro, is ’n wyse sekretarisvoël en sy raadgewers kraanvoëls. Baie gewild was die vroue wat die Koningin van die Nag bystaan: Hulle is baie spoggerige aasvoëls en hulle blatante flankeerdery met die aantreklike valkprins het behoorlik die lagspiere gekielie. Magdalene sê hulle was haar seun Jacob (11) se gunstelingkarakters. Myne ook!
Dit was die eerste mini-opera wat ek as kind gesien het en wat die wêreld van opera aan my bekend gestel het. Dit is gewild om ’n rede.
Die keuse van haar sesjarige dogter, Emma, het glo geval op Papageno – sy was veral gek oor sy “naughty corner”, ’n voëlhok op sy kop wat gesluit is om hom stil te hou. Die kinders het baie daarvan gehou dat hulle deurgaans die dirigent kon sien, en in die opvoering wat ek gesien het, het maestro Jan Hugo aan die einde stewige applous van die kinders in die gehoor gekry.
Natuurlik is die oorspronklike opera byna drie uur lank, en dit sou nie vir kinders kon werk nie. Dit moes dus verkort word, ’n taak wat op Elizma se skouers geval het.
“Ek het nagte lank daarmee gestoei, ook omdat ’n paar karakters moes waai. Om te besluit wat bly en wat moet gaan, is nie so maklik nie. Dit het ook veroorsaak dat die volgorde van die liedere aangepas moes word om steeds sin te maak in die storie. Maar uiteindelik was dit ’n baie bevredigende taak.” Gelukkig is daar ’n verteller wat enige misverstande uit die weg kan ruim.
Die produksie is onlangs met groot welslae in die Joseph Stone-teater in Athlone opgevoer. “Die kinders was ongelooflik entoesiasties. Staande toejuigings en dawerende applous was elke keer aan die orde van die dag. Die musiek, al is dit opera, is toeganglik vir kinders. Dit daag hulle net genoeg uit, sonder om hulle te ‘verloor’,” sê Elizma.
As ’n opera-aanhanger kan ek nie anders nie as om alle ouers aan te moedig om hulle kinders na dié produksie te neem.
“My kinders kan letterlik nie ophou praat oor die produksie nie,” sê Magdalene. “Hulle het wel verskillende ervarings gehad as gevolg van hulle ouderdomsverskil, maar was absoluut gaande oor die wonderwêreld wat geskep is. Hulle neurie nou nog die deuntjies, en dít is presies wat ek wil bereik deur opera, musiek of teater vir kinders te skep, naamlik iets wat hulle verbeelding aangryp en hulle verstand besig hou vir weke ná die opvoering.”
Dit is tog wat elke ouer vir sy of haar kind wil hê.
***
11 OKT. 12:00 | 12 OKT. 12:00 | 13 OKT. 15:00 | 14 OKT. 11:00
90 min | HMS Bloemhof-sentrum