OPINIE

Laat die kunstenaars na my toe kom

Deur: Lynthia Julius
Foto’s: Nardus Engelbrecht

“Every child is an artist. The problem is how to remain an artist once he grows up.” – Pablo Picasso

Ek kuier gister by antie Ingrid (Winterbach) by haar huis. Met die intrapslag sê ek: “Gôt is in dié huis.” Maak nie saak waffer Gôt nie. Die ding is: Gôt is. Ek loop en kyk kuns. Ek loop en sien kuns. Haar kuns. Oom Andries se kuns.

My dogter, Aria, se dummie is weg en antie Mac, haar oppasser, sê sy soek haar “dum-dum”. Gôt. Ek bly met my broer op die foon en vra verskoning oor ek op my foon is en antie Ingrid worrie nie daaroor nie. Sy sê ek moet seker maak als vir Artjie is okay. Sy vra of sy vir my tee kan maak.

Ek sê: “Antie Ingrid, ek is nog te jonk vir tee drink.” Ons al twee lag. Voor ek loop gee sy vir my ’n geskenk. ’n Geskenk vir Artjie. ’n Boek met kryte. My hart smile. My smile en my oë spring tou. Op die geskenk skryf sy:

Vir Artjie
Want elke meisie moet
vroeg begin teken
Van antie Ingrid

Ek hou my hart met my spoeg in plek.

Som mense is nie grootgemaak deur bruin anties nie en it shows. ’n Bruin antie het geen respek vir jou gevoelens nie. Sy sal die waarheid vir jou gee met ’n stainless steel teelepel, soos kasterolie, al wil jy ook kots soos jy sluk.

Toe my eerste bundel publiseer is, het ek dit weggesteek vir my ma. Ek kom terug van Bloemfontein af en my suster sê my ma het die boek gesteel en gelees. Ek wil weet hoekom sy dit gedoen het. Sy sê: “Jirre, is daai nou die boek wat ek nie mag gelees het nie? Daai boek? Daar gaan da fokkol in daai boek aan nie.” Ek begin lag. Waffer resensent in die land kan dít beat?

Ek vat my goïjna. Aamekaar. Ek is vroeg geleer mens mag nooit op resensies reageer nie. Nooit nie. Orraait. Maar ek mag darem seker die mens in my kop vloek? Jy mag, sê my voorgangers vir my.

My hart slat af soos fase ses-beurtkrag. My hart slat af oor die kuns op die verhoog deur ’n kjeent geskep ís. ’n Dogter geskep is.

Iemand stuur vir my ’n resensie oor Kinderlê deur revoirreview op Instagram aan. ’n Goïjna is ’n ding wat moet gevat word. revoirreview skryf: “Dit gesê, die stelontwerp is amper meer tragies as die verhaal self. Op die verhoog sien jy ’n patetiese poging van ’n 2D boom gemaak van karton, wat, sonder om te oordryf, lyk asof dit deur ’n graad 7 kunsklas geverf is. Die 2D kartonrots bespreek ek nie eers nie, ek is bang dit begin by my spook, so onooglik is dit.”

My hart slat af soos fase ses-beurtkrag. My hart slat af oor die kuns op die verhoog deur ’n kjeent geskep ís. ’n Dogter geskep is. Ek dink aan Aria wat my notaboeke vol skryf en my mure en die toilet en my hande en sit verf op die stoep tot haar gesig donkerpers is en haar skouer geel. Antie Ingrid se woorde kom na my toe:

Want elke meisie moet
vroeg begin teken

Die ís ’n meisie wat vroeg begin teken het, antie Ingrid. Haar oë het geblink soos dassie-oë in die nag, toe sy terugstaan en na haar werk kyk. Die werk wat haar vingers gekraam het. En wat. Wat as daai kjeent, daai skeppende kjeent, daai resensie iewers moet lees? Jirre, ek is da nou ’n ma. Wat maak ek as Artjie sit huil as die juffrou haar skildery in die klas uitgelag het. Of gesê het sy moet eerder op die wiskunde fokus.

Ek reageer nie op resensies nie. Maar daai babatjie kan dit gelees kry en stale manna en dooie kwartels sal uit die hemel val. Haar wêreld sal niks anners as eindes wees nie. Ek is nou ma. Ek het vir Artjie. Hoe sit ek haar in ’n boks waar die lewe haar nie kan skaad nie? Hoe vat sy weer ’n verfkwas uit my hand as sy laat glo is om te skep is nie vir haar gebêre nie. Onooglik. My hart kry sepsis.

Gôt vergewe ons baie, maar hy vergewe nie grootmense wat kjeeners vir hulle kuns breekmaak nie.

Facebook
Twitter
LinkedIn