EASYEQUITIES SKRYWERSFEES
Om te suffer vir jou salaris
Produksie: Hunger Games: How Writers Survive
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick
Hoe gemaak met kunsmatige intelligensie wat al die kreatiewes se werk steel? ’n Paneel van mismoedige skrywers het probeer oplossings vind.
Dis nou waarlik ons arme ou bliksems se realiteit, nè? Die KI-storie. Mense verloor regtig hulle werk. Hulle moet hulle huise verkoop, hulle het skaars geld om te eet. En dis nie jongetjies wat pas afgestudeer het en wat met sterre in die oë hulle skryfdrome vir counter jobs in viswinkels moet opgee wat só lamenteer nie – dis bekroonde joernaliste en skrywers aan die woord.
Ilse Salzwedel, RSG-omroeper, joernalis, ‘n vrou met vele hoede op, het ’n paneel van woordenaars, onder andere Karin Schimke en Jolyn Phillips, by die EasyEquities Skrywerskamer ondervra om te hoor presies hoe modderig en bloedbelope dit deesdae in die loopgrawe lyk. Die prentjie wat geskets is, is ongelukkig geweldig droewig.
Om te hoor hoe die bekroonde wetenskapjoernalis Leonie Joubert haar stories letterlik nie eens meer verniet kan weggee nie, sorg nie vir ’n vrolike agtermiddaggesprek nie. Dis nou dieselfde persoon wat vir National Geographic geskryf het, etlike kere as Vodacom Joernalis van die Jaar bekroon is en wat vir meer as 20 jaar vir verskeie publikasies, onder meer Daily Maverick, Sunday Independent en die Mail & Guardian, haar kant gebring het.
Om te suffer vir jou kuns is een ding, maar om te moet bloedtrek vir ’n salaristjek sodat jy vir jou kind kan kos koop, is pure waansin.
Karin Schimke, boekredakteur en readingdarling, soos sy op Instagram bekend staan, se storie het dieselfde ongelukkige strekking. Kunsmatige intelligensie het uiteindelik haar werk as vryskutjoernalis gesteel, en as enkelma moes sy skielik planne maak wat sy nooit voorheen nodig gehad het om te doen nie. Voor Covid kon vryskutjoernaliste baie geld verdien indien jy bereid was om hard te werk. Nou moet jy nie nét meeding met KI nie, maar ook met influencers, en elke Jan Rap en sy maat met ’n slimfoon wat dink hulle is ’n Pulitzer-joernalis met ’n geldige opinie.
Jolyn Phillips, skrywer, akademikus, musikant, digter en wenner van die Eugène Maraisprys, se paadjie van swaartrek lê ook vol dorings, maar dis als deur haar eie toedoen, reken sy. Sy het aanhoudend verkeerde keuses gemaak, tot hier waar sy nou sit met ’n PhD, maar geen werk of vaste inkomste nie. As dit nie was vir ’n genootskap en post-doktorale studie wat haar die volgende paar jaar gaan besig hou nie, en die voorturende selfvernuwing in teater- en musiekruimtes nie, was dinge aansienlik moeiliker as wat dit reeds is. Want let’s face it, die kunste in die land sorg nie werklik vir ’n gemaklike aftrede nie.
As jy ’n skrywer is, is jy gelukkig om R10 per eksemplaar te ontvang vir elke boek wat jy verkoop (maak daai som met ’n oplaag van 300 digbundels); as jy ’n praatjie doen by ’n kerk, word jy waarskynlik betaal met ’n bord kerrie en ’n leë koevertjie en soms, as jy werklik gelukkig is, selfs met ’n bietjie petrolgeld en drie avokadopere. ’n Mens wil lag, maar dis nie regtig snaaks nie, nè? Om te suffer vir jou kuns is een ding, maar om te moet bloedtrek vir ’n salaristjek sodat jy vir jou kind kan kos koop, is pure waansin. Veral as ’n mens hoor hoeveel die Vlaamse skrywer Frederik De Backer, wat ook saamgesels het, in kontras met ons plaaslike skrywers verdien. Daar was ’n hoorbaar klipharde gesnak na asem.
Hier moet woordmense aanhou vernuwe, aanhou pivot, pivot, pivot, soos Ilse spottenderwys gesug het. As jy ongelukkig is, kan jy soos Leonie Joubert maande lank skryf aan ’n selfgepubliseerde boek en dan slegs 100 eksemplare verkoop, en uiteindelik jou huis van die hand sit om te oorleef. As jy gelukkig is, kan jy soos Karin Schimke ’n Substack-rekening oopmaak, hoop vir die beste en uiteindelik, ná jare van bid en skryf, jou kind se universiteitsfooie in Amsterdam bekostig.
Ek kan nou ook vir Chat GPT vra om ’n paar oplossings vir hierdie knellende probleme te bied, maar ek gaan nie. Ek suffer eerder so ’n bietjie vir my kuns.
*
13 OKT 14:30
EasyEquities Skrywerskamer