SPIER TONEEL
Ek wil die res van my lewe stories vertel
Produksie: Boklied
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht
Boklied is die talentvolle Keagon Cochrane se eerste volwaardige professionele verhoogproduksie, maar kritici en feesgangers sê reeds dis beslis nie sy laaste nie, skryf Ilza Roggeband.
Soos soveel suksesverhale begin hierdie een ook met ’n ouma en ’n juffrou. Eerstens is daar ouma Mercia du Plessis by wie die 24-jarige akteur Keagon Cochrane gebly het vandat hy vier jaar oud is.
Tweedens is daar juffrou Estelle Jacobs, Keagon se Engelsonderwyseres aan die Hoërskool Montana in Worcester. In 2020, sy matriekjaar, het sy vir Keagon ’n kaartjie gegee om saam met ander leerlinge en juffrou Carmen Roets na die Woordfees op Stellenbosch te kom.
“Dit was my eerste keer op Stellenbosch én die eerste keer wat ek ’n teaterproduksie gesien het,” vertel Keagon by ’n ronde tafel in Erfurthuis waar die kantoor van die Toyota Stellenbosch Woordfees is. “Die stuk wat ons gesien het, was
Marthinus het byvoorbeeld vir my geleer jy moenie ’n kombers van emosie oor die gehoor gooi nie, jy moet oomblikke van emosie skep.
Keagon staan op en wys presies hoe hy dit onthou. Hoe Chris die lantern gelig, sy lyf gedraai en van een karakter na die ander gegaan het.
“Dit is toe dat ek besef het dít is wat ek in my lewe wil doen,” sê hy vol verwondering. “Ek was nooit weer dieselfde nie.”
Ná skool is hy eers na ’n privaatinstelling om drama te studeer, maar sy ouma se pensioen kon dit nie bybring nie. Hy is vir drama aan die Universiteit Stellenbosch gekeur, het in 2022 ingeval en was hy onder meer deel van die studentproduksies Jantjies and the Pearls en Su’Walla Kassam. Maar ná agtien maande op universiteit het hy gehoor sy ma is baie siek en is hy terug Worcester toe. Sy ma is op 1 April 2024 oorlede.
Dit was in die studenteproduksies waar die regisseur Marthinus Basson hom raakgesien het. Toe Keagon se lektor Elana Snyman hom vroeër vanjaar op Instagram kontak om te hoor of sy telefoonnommer nog dieselfde is, het hy niks daarvan gemaak nie.
“Maar toe kry ek ’n boodskap van ’n Saartjie om te sê ek moet haar kontak. Die enigste Saartjie wat ek ken, is Saartjie Botha,” lag Keagon.
Keagon is ná ’n oudisie die rol in Boklied aangebied en hierdie week by die fees kan kritici en feesgangers nie uitgepraat raak oor die talentvolle jong akteur nie.
“Toe ek sien Marthinus Basson is betrokke, het ek dadelik ja gesê. Ek het navorsing oor die stuk gedoen en geweet wat dit gaan verg om daarin te speel. Ek het geweet die rol gaan kalmte, tegniek en harde werk nodig hê.”
Keagon sê hy kan nie vir Marthinus op sy naam noem nie. Hy noem hom “sir” of “meester”.
“As dit vir ons spelers so moeilik was om die teks te interpreteer, hoe moeilik moet dit nie vir hom wees om al die drade bymekaar te bring nie,” sê Keagon vol verwondering.
Oor sy rol en alles van dit van hom vereis – ’n digverweefde teks, ’n rolverdeling met gevestigde spelers asook naaktheid – sê hy benewens Marthinus se regie leer hy ook by sy medespelers en vriende in die bedryf.
“Marthinus het byvoorbeeld vir my geleer jy moenie ’n kombers van emosie oor die gehoor gooi nie, jy moet oomblikke van emosie skep. Maak besluite waar jy dit wil gebruik. Artikulasie is geweldig belangrik. Elke mens in die gehoor moet elke woord hoor. Ek speel in Boklied verskillende karakters en elkeen moet ’n ander kwaliteit aan sy stem hê.”
Oor die naaktheid het hy van die begin af veilig gevoel. “Marthinus is ’n mentor en hy sal niks doen wat nie gedoen moet word nie. Hoe jy sit en staan, hoe jy ’n stok vashou, hoe jy praat. Sy notas is deel van my eie notas. Die voorbereiding was natuurlik intens en ek moes belê in die emosie van die karakters. Teen week 5 van ons repetisies was ek paniekerig, maar ek het besef die karakters moet so in my wees dat niks my van stryk kan bring nie. Ek speel mense wat ver verwyder is van my as mens. Ek is die karakter en in die teater is daar geen vernedering wat te ondraaglik is nie.”
Dit het my deel gemaak van ’n produksie wat opgeteken sal word. My naam sal altyd daar staan. Dis die onsterflikheid van ’n kunstenaar.
De Klerk Oelofse, wat saam met Keagon in Boklied speel, is ook ’n leermeester. “De Klerk is baie snaaks, maar ek leer soveel by hom. Sy ego kom nooit in die pad nie. Hy help my om met my stem te werk – waar om asem te haal, waar om die aksent te sit, hoe om my stem op te pas. Die hele rolverdeling is so ondersteunend.”
Ouma Mercia is 70 jaar oud en ’n afgetrede verpleegster. Sy het reeds
Keagon is die middelboetie van drie. Sy ouer broer, Querin, woon en werk in Gqeberha en jonger boetie, Gianté, het verlede jaar matriek geskryf en woon nog by Mercia in Worcester. “Ek hoop Gianté kan volgende jaar universiteit toe kom om iets te studeer wat met sport te doen het. Hy het al van gr. 8 af provinsiale kleure in hokkie en is ’n baie talentvolle sportman.”
Hy wil vir die res van sy lewe stories vertel, sê Keagon. “Daar is soveel beauty in stories wat ons kan vertel. Ek wil nie ’n gangster speel nie. Jy weet, dis waar ek vandaan kom. Om van kleintyd te weet jy moenie in die nommers (soos die bendes bekend staan) verval nie en wegbly van die drugs. Ek wil by die hart van stories uitkom sonder om in die clichés te verval. As ek ’n loopbaan daaruit kan maak, sal ek vir die Here dankie sê.”
Hy het onlangs ’n agent gekry en hoop om meer TV- en filmwerk te doen, maar teater sal altyd vir hom die begin en die einde wees.
Hoe het Boklied sy lewe verander?
“Dit het my deel gemaak van ’n produksie wat opgeteken sal word. My naam sal altyd daar staan. Dis die onsterflikheid van ’n kunstenaar. Dis ’n groot stuk vir ons almal, maar veral vir my. Hierdie is vir my in die sterre geskryf.”
*
Lees die resensie
Boklied: Agter die skerms
Boklied
17 OKT 18.30 | 18 OKT 18.30 | 19 OKT 09.00
Open Window Filmstudio