EASYEQUITIES SKRYWERSFEES

Ontmoet ons by die rivier

Produksie: Alles wat ons deel
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Verskaf

Riviere het die geneigdheid om lande en gebiede te verdeel, maar Antjie Krog en Siphokazi Jonas duik kop eerste in riviere wat hulle verdeel en werk saam om die water in een stroom te herlei.

Antjie het in 1970 haar eerste digbundel gepubliseer, en Siphokazi debuteer 54 jaar later. Hulle stemme kom uit verskillende tydperke, ras- , taal- en kultuuragtergronde. Tog is die twee stemme soos ’n duet wat mekaar aanvul; en die gehoor hang aan elke lettergreep. Antjie, steeds outentiek en oorspronklik haarself; en Siphokazi, ’n opwindende nuwe stem vir digkuns in Suid-Afrika.

Party mense se wenkbroue kom op ’n knop op hulle voorkop bymekaar soos hulle aangedaan raak. Ander se wenkbroue sak soos gordyne oor hulle oogbanke. Party mense rus met hulle gesig in die hande, ander hou hulle hande oor hulle mond. Almal luister. Dan ’n paar oomblikke van stilte voor Siphokazi sê: “You are allowed to breathe.” Dan hoorbaar, ’n gesamentlike asemteug uit die gehoor.

Antjie, steeds outentiek en oorspronklik haarself; en Siphokazi, ’n opwindende nuwe stem vir digkuns in Suid-Afrika.

Antjie en Siphokazi bring hulde aan taal, aan die voormoeders van die Suid-Afrikaanse digkuns en brugbou-storievertel. Die uitruilings tussen dié twee digters is beeldskoon-broos met ’n stil, stil krag. Nie net is hulle fyn waarnemers van die wêreld om hulle nie, maar ook deelnemers. Antjie vertel hoe sy steeds leer om vir mense lief te wees, veral as sy saam met hulle in ’n oorvol bus in Berlyn staan.

Siphokazi is ’n ongelooflike storieverteller en laat die grense tussen Xhosa en Engels vervaag. Die vrae wat sy vra en kwessies wat sy aanroer, verander ook jou perspektief as jy in dieselfde asem dink aan die marmer waaruit Michelangelo se Dawid-standbeeld geskep is, en die marmer wat lemoensap-bevlek in ’n kombuis pronk.

’n Mens kan nie miskyk hoe Antjie en Siphokazi met teerheid en ’n diepgegronde begrip met mekaar omgaan nie. Dit is tasbaar. En dís mooi.

Facebook
Twitter
LinkedIn