OPINIE

En daar verloor ek toe my shit

Deur: Ilza Roggeband
Grafika: ChatGPT

Hóéveel jaar word daar al mooi gevra, gepleit, gesoebat, gedreig, gepreek en geskel oor selfone in die teater. Dan, op ’n dag gebeur dit: Iemand verloor hulle shit. Soos (die minlike) Ilza Roggeband, deesdae ook bekend as (die nare) Lize van Loggerenberg…

Ek het geweet dit gaan eendag gebeur, want hierdie situasie krap al lank aan my. En toe is dit op Woendag 15 Oktober 2025, kort voor halfdrie die middag, dat ek my shit geheel en al verloor.

Dis die selfone, sien. Hóéveel jaar al word gesmeek. Sit dit af. Sit dit op silent. Sit dit in jou sak en zip dit toe. Los dit in die kar. As daar dan nou werklik ’n krisis is, “gaan kamerverlaat”: Vat jou foon, stap so saggies uit as wat jy kan en gaan kommunikeer wat skynbaar op daardie presiese oomblik gekommunikeer moet word. Moenie die ervaring vir die res van ons in die donker teater bederf nie, maar meer nog: Moenie dit vir die kunstenaars op die verhoog onsmaaklik maak nie.

By die Drostdy-teater, daar waar ek my shit verloor het, is daar selfs ’n opname van Chris van Niekerk se beautiful stem wat voor elke vertoning gespeel word waarin hy mooi vra jy moet jou foon afsit. Uit respek vir jou medeteatergangers en die kunstenaars, vra hy. Dis tog nie moeilik nie, is dit?

Gewoonlik kners ek op my tande as iemand se foon in ’n vertoning pla. Of ek sal iemand saggies op die skouer tik. Maar Woensdagmiddag het iets net geknak…

Dit was nie beplan nie en ek het dit selfs nie sien kom nie. Ek is by Stephanie Baartman se wonderskone produksie, Hoort. Sy vertel haar storie, sy sing dat jou hart swel, sy gee jou hoop, sy straal liefde uit.

Ek sit redelik agter, en voor my is daar drie – ja, dríé! – fone wat deur die loop van die vertoning ’n steurnis veroorsaak: Twee vroue wat boodskappe lees en ’n derde een wat met haar foon onder haar stoel ’n gesprek voer. Om dit erger te maak is dit nie ’n kort gesprek nie. (En dit maak nie saak of die foon onder die stoel is nie; die lig skyn nogtans deur die stoel se bene.)

‘Het jy niks uit hierdie show gekry nie?’ vra die vriendin vir my. Kwáái.

Soos ek sê, ek het dit nie beplan nie, maar toe die staande ovasie vir Stephanie uitdoof en die ligte aangaan, sê ek vir die drie vroue hulle moet asseblief in die vervolg hulle fone in hulle handsak los.

Maar vererg die vriendin van die een wat die lang boodskap gestuur het haar vir my! Nie die skuldige nie, die vriendín. Asof dit ék was wat op my foon was. Een van die ander skuldige vroue wil nog iets sê, maar duidelik het sy besluit sy moet eerder haar mond toezip soos sy haar selfoon moes toezip en skarrel vinnig weg.

“Het jy niks uit hierdie show gekry nie?” vra die vriendin vir my. Kwáái.

“Ek het baie hieruit gekry, dankie, maar dit verander niks aan die feit dat die selfone steurend was nie,” antwoord ek. (Ek moet net noem dat ek eerder ’n malvapoeding sal probeer bak as wat ek enige konfrontasie sal uitlok. Moenie my verkeerd verstaan nie; ek kán kook, dis net dat malvapoeding my keer op keer onderkry.)

“Weet jy waardeur hierdie vrou is?” vra Kwaaitjie. Die skuldige staan net grootoog daar.

“Ek is regtig jammer, maar gaan dan eerder uit die teater as jy boodskappe móét stuur,” sê ek.

“Weet jy nie ons is almal brose glasborrels nie?” sis Kwaaitjie.

Kwaaitjie – ek skat haar vroeg in die dertig – stap weg, gaan staan weer, lig haar selfoon en neem ’n foto van my. En dít van my slegte kant!

Ek dink dis hier waar ek my oë gerol het, want toe sê sy: “Ek gaan jou glas breek!”

Nee, ek weet nie hoe nie en wou ook nie vra nie.

Ek probeer wegkom en stap vooruit, loop mense raak wat ek ken. Maar Kwaaitjie is nog nie klaar nie. Sy volg my, stap op my af en vra: “Wat is jou naam?”

Ek antwoord my naam is Ilza Roggeband.

“Lize van Loggerenberg,” sis sy.

“Nee, Il-za Rog-ge-band,” spel ek die klanke uit.

“Ek het vriende in die media,” sê sy. Ek wil nog sê “jy gaan my nou nie glo nie…” maar bedink my. Ek wil nie verder olie op die vuur gooi nie.

Kwaaitjie – ek skat haar vroeg in die dertig – stap weg, gaan staan weer, lig haar selfoon en neem ’n foto van my. En dít van my slegte kant!

Ek weet nie of sy intussen gekalmeer het nie. Tot dusver is daar darem nog nie ’n saak aangemeld nie en sover my kennis strek, is ek ook nog nie by die owerhede aangegee nie.

Maar hiermee wil ek net sê: Sit asseblief julle fone af gedurende ’n show of bêre dit só diep dat dit niemand sal steur nie. Ons is regtig nou gatvol gevra.

By voorbaat dankie.

Lize van Loggerenberg

*

Ns. Volgende kom ek vir julle met daardie horlosies wat elke 15 minute laat weet jy moet nou staan of spring of asemhaal of iets. Of waarvan die liggie aangaan as jy net jou hand beweeg. Wees gewaarsku.

Nns. Stuur asseblief ’n resep vir ’n flatervrye malvapoeding.

Nnns. As die grootoogvriendin dalk hierdie lees: Ek hoop alles is oukei.

Facebook
Twitter
LinkedIn