TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Die blouste blues van rock & roll

Produksie: Valiant Swart: Anderkant die donker vallei
Deur: Nadine Petrick
Foto’s: Nadine Petrick

’n Meisieskool se saal voel na die verkeerde plek vir wat hier moet gebeur. Waar’s die reuk van bier en sigaretrook dan? Vol heimwee luister NADINE PETRICK na die soundtrack van haar vergete sondes… en dan, skielik, weet sy: Dis oukei. Kyk hoe glimlag hy. Kyk net daar. Dis hy. Dis hy! Dis Valiant Swart.

Op die dansvloer staan Koos Kombuis laggend en wieg, met ’n bottel Tas in die een hand en ’n pyp in die ander. Ek en my vriende wieg saam. Ons vat slukke uit die bottel; ons is dronk van wyn en pure exhilaration. Ons is almal 18 en pas klaar met skool, en die Onverklaarbar op Hermanus – en die mense wat daar rondhang – is die dinge waarteen ons ma’s ons gewaarsku het. Ons het nie na hulle geluister nie. Ons ís nou daai mense. Ons drink wyn en rook pyp saam met die bekendste wit boemelaar in die land en ons voel vreesloos en rebellious en ons weet nie eens eintlik mooi hoekom nie, maar ons weet dit voel goed. Kyk, sê my een vriend, kyk wie sit daar. “Anyway, Alex Jay, het saam met my op die aerie gery, hey hey”, sing ons vir mekaar. Dis hy, dis hy, kan jy glo? Alleen, in die donkerste hoekie van die Onverklaarbar, sit hy. Valiant Swart. Toe hy sien ek kyk na hom, glimlag hy skamerig vir my.

***

Ek stap by die Hoër Meisieskool Bloemhof se sentrum in. Alles voel verkeerd. Die instrumente word verdwerg op die enorme verhoog. Die ligte is flashy soos by ’n Huisgenoot Skouspel. Dit ruik nie na bier en ou sigaretrook nie; dit ruik na niks. Dalk ’n hint of floral en tienerangs, soos dit ’n meisieskool betaam. Maar dit ruik nie na rock & roll nie. Dit maak my hartseer.

***

“En toe die nuwe oggend opstaan uit die berg, het grys voëls ons dopgehou…” En ons almal klap ons arms, soos grys voëls wat stadig opstyg en wegvlieg, die nag in. Soos waansinniges dans ons voor die klein verhoog waar hy staan met sy wit kitaar genaamd Ice Cream. Ek en Ronel vlieg, terwyl Dirk ons laggend en kopskuddend staan en dophou. Nagagent en Putu is ook hier. Wolf uiteraard ook. Hy staan by die bar, hy dans nie saam nie. Ons soek die Mystic Boer, week ná week, want ons weet mos al lankal dis ’n groot avontuur.

***

Soos waansinniges dans ons voor die klein verhoog waar hy staan met sy wit kitaar genaamd Ice Cream.

Om my sit ou mense en jong laaities. Die show begin laat en die tannie voor my vra vir die mannetjie met die rugbytrui langs haar: “Nou waar is Jinx?” Ek wonder ook, want op die verhoog verskyn ’n man met ’n bril en ’n skuifelstappie en ’n bokbaard, maar die skaam glimlag gee hom weg, en ek dink: Dis hy, dis hy, deur die donker vallei*. Onder ’n groot Skouspel-spotlight, in ’n saal wat ruik na hoërskool, vol mense wat sweerlik nog nooit Oppikoppi se stof uit hulle klere moes was nie en wat nie Northam óf Steak & Ale op Google Maps sal kry nie. Want dis nie meer daar nie; my jeug, my soundtrack is nie meer daar nie. Valiant se Ice Cream is weg. Ronel is dood. Die Nagagent is landuit. Niemand weet waar Wolf is nie.

***

Ek ry Stellenbosch toe. “Kilometers vlieg verby, met ’n wicked, wicked backbeat.” Ek dink hoe melancholie en nostalgie en heimwee alles in een kort rit na die Wynland soos ’n teleurgestelde hart oopbreek. Ook hoe ek en Roof Bezuidenhout jare gelede gewonder het wat dit beteken om ’n lange te gooi, en dat ek gedink het ek moet hom tog hierdie week by die Woordfees vra of hy dit toe uiteindelik uitgefigure het. En is Pretoria Sodom en Johannesburg Gomorra? Of andersom? Ek weet nou nog nie, maar dit maak nie saak nie, want dit voel albei vir my na die hel. En dis Sondagmiddag, ’n mens het anyway al die feels, selfs al luister jy nie eens na Valiant nie. “Banneling, banneling, jou hart is seer, so tussen die duiwel en die donkerblou see.” Jirre, die duisendmylblues, al is dit net 90 km ver.

***

Schalk en Albert en Simon en Jorik hok hom in en hou hom vas. Dis mooi. Maar die verhoog bly te groot, al is daar vyf van hulle. Die gebrek aan ’n effens dronkerige gehoor wat die woorde ken en saamsing versmoor die klipharde gekreun van Frostie se kitaar. Die statiese lywe van die skuimkoppe wat ná “Gange van Babylon” bedeesd hande klap, verlam alle energie. Ek voel oud. Ek voel hartseer. Ek mis Café Barcelona en Katvrou en my twenties in Pretoria en ek wonder hoe de fok ek tjoepstil in ’n enorme skoolsaal in Stellenbosch sit en luister na die soundtrack van so baie van my vergete sondes. En waar is Vernon? Ek mis vir Vernon.

***

Ek kry vir Ilza in die dorp. Sy ry saam Bloemhof toe. Ons is albei opgewonde; hoe dan anders? Dis Valiant.

***

Ek mis Café Barcelona en Katvrou en my twenties in Pretoria en ek wonder hoe de fok ek tjoepstil in ’n enorme skoolsaal in Stellenbosch sit en luister na die soundtrack van so baie van my vergete sondes.

En toe… toe sak die son in Durbanville. Vier jong seuns, almal waarskynlik jonger as die 25 jaar van die album wat met die vertoning herdenk word, spring op en gaan staan voor die verhoog. ’n Meisiekind, dieselfde portuur, join in. Nog en nog mense, oud en jonk, staan op en gaan staan voor die man met die skaam glimlag. Daar is ’n herkenning, ’n lig wat aangaan. Die rug skielik regop. Sy dra te veel eyeshadow, en ek ruik die Jägermeister by die Klein Bar. “Sweet Stellenganga”, kitaar in die lug, soos van ouds. Al is nóg Ice Cream nóg Ronel daar. Ons soek die Mystic Boer, maar die mense wat vir dokter Jinx kom kyk het, verstaan glad nie die dans van die grys voëls nie. Maar, dink ek by myself, dis oukei, want kyk hoe glimlag hy. Kyk net daar. Dis hy. Dis hy! Dis Valiant Swart.

***

Hy staan alleen op die verhoog. Albert en Schalk en Simon en Jorik het verdwyn. Niemand roer nie.

“En ek dans in die strate en ek sing jou naam, daar’s ’n wind wat waai oor die suburbs vanaand. Daar’s liefde in die suburbs vanaand.”

Dis heilig, fluister Ilza.

So heilig as kan kom.

* Dis vanjaar 25 jaar sedert Valiant Swart se ikoniese album Deur die donker vallei uitgereik is. Ter herdenking daarvan het die album onlangs op viniel die lig gesien. By die Woordfees is dit gevier met ’n konsert waarin die oorspronklike orkeslede van die album gaan speel: Schalk Joubert, Albert Frost en Simon Orange. Die konsert word opgedra aan die ontslape tromspeler Vernon Swart, wat ook die ikoniese kunswerk vir die albumomslag geskilder het.

Facebook
Twitter
LinkedIn