SPIER TONEEL

‘Die koning en sy bruid’: Wie dra werklik die kroon?

Produksie: Die koning en sy bruid
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Dis 1745 en die trouklokkies lui in die Kaap van Goeie Hoop. Groot voorbereidings is getref en daar word gróót fees gevier vir die vereniging van twee families. Nou wag die hemelbed (met sy spierwit lakens)…

Kyk, in 1745 is dit miskien nie so maklik om iemand te blok en cancel soos wat dit vandag is nie. Maar selfs in 1745 is daar ’n paar lesse te leer oor romanse. Spits dus jou ore; Die koning en sy bruid laat jou dink en wonder, en boei jou van begin tot einde – dis soos om ’n ongemaklike blind date in ’n kafee af te luister.

Hier volg ’n paar hot dating tips uit 1745.

Dames en here, die huweliksbed is miskien nie die beste plek vir ’n eerste afspraak nie. Maar in 1745 het die vooruitstrewende boer Willem Aarde (Heinrich Wentzel) en die baie beskeie Amélie Bruére (Jeanne-Marié Koekemoer) nie veel van ’n keuse nie. Agter geslote deure word die hemelbed ’n slagveld waar die onvermydelike en bindende plig die twee jong mense in die gesig staar

Daar is talle oomblikke in en om die hemelbed wat die gehoor laat skater, veral met Angelique Filter se ondersteunende rol as die diensmeisie wat sorg vir nog komiese oomblikke. Die klein rukkie wat sy op die verhoog te sien is, laat jou wens vir meer.

Meneer, dit is miskien ook ’n goeie idee om mooi te kyk wie en wat agter die sluier skuil voordat jy jou mantel en kroon oorgee. Koekemoer is oortuigend as Amélie: gretig-beskeie en onderdanig, maar agter die sluier en weggesteek in die trousseau wag daar iets anders op boer Willem: “koning” wat eintlik nog ’n kind is. Wentzel vertolk hierdie onskuldige, kwesbare rol gemaklik en met opregtheid. Daar is talle oomblikke in en om die hemelbed wat die gehoor laat skater, veral met Angelique Filter se ondersteunende rol as die diensmeisie wat sorg vir nog komiese oomblikke. Die klein rukkie wat sy op die verhoog te sien is, laat jou wens vir meer.

Jy mag ’n dame dalk imponeer met ’n sappige lemoen; maar as ons begin gesels oor grond en afkoms, hou jy dalk haar aandag vir ’n oomblik of twee langer. Die toneelstuk bespreek kwessies wat al van toentertyd af krap, maar hoewel die stuk komies is, dryf dit nie noodwendig die spot met hierdie kwessies nie. Inteendeel, ’n mens sien dit steeds op ’n daaglikse basis: afkoms, besittings, herkoms en wat ’n mens het om op terug te val. Die toneelstuk raak ook aan stukkies geskiedenis, onskuld en menslikheid wat duidelik in die regie deurskyn.

Die akteurs agter hierdie boeiende produksie maak enige kunsteaanhanger opgewonde oor teater en drama. Gaan kyk gerus dié skerpsinnige toneelstuk by die Spier-ouditorium vir nog dating tips uit die Kaap van Goeie Hoop. En onthou: Jy slaap in die bed wat vir jou opgemaak is…

*

Die koning en sy bruid

13 OKT 10:00

60 min | Spier-ouditorium

R160-R210 | R190-R240 at the door

No u.16 (S)

Facebook
Twitter
LinkedIn