TOYOTA MUSIC FESTIVAL

Wonderlike oomblikke, maar die snoeiskêr is nodig

Produksie: Een deel dit, een deel dat
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Gys Loubser

Hierdie produksie het sterk stemme en uitstekende musikante, maar soms word die bord net té vol geskep.

Om ’n verskeidenheidskonsert met iets vir almal saam te stel, sit nie in elke ou se broek nie. Janine Neethling is egter ’n ou hand en sy het die vermoë om vir ’n gehoor te gee wat hulle wil hê. Die groot saal by Bloemhof was nie naastenby vol nie, maar feesgangers wat Dinsdagaand Een deel dit, een deel dat gaan kyk het, het beslis waarde vir hulle geld gekry.

Eers net die stemme betrokke: Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Lynelle Kenned, Tasché, Timothy Moloi en Phoebe Mgxaji. In die orkes was Anjulie Nock, David Klassen, Mauritz Lotz, Concord Nkabinde, die 26-jarige jazzpianis Melisizwe Plaatjie en natuurlik Janine self.

Daar was wonderlike oomblikke in die konsert, met onder meer ’n mash-up van Cat Stevens se “Moonshadow” en The Beatles se “Here Comes the Sun”; Lynelle wat David Kramer en Taliep Petersen se “My broertjie, my bra” sing; ’n veeltalige “Summertime” met Concord, Amanda, Tasché, Lynelle en Phoebe; Amanda en Coenie wat die immergewilde “Ek loop die pad” sing; en Tasché en Phoebe se “River Deep, Mountain High” wat die verf van die mure laat afskilfer het.

Daar is nie een stem wat afgesteek het by ’n ander nie, en onthou gerus Phoebe se naam: Haar stem is soos vuurwarm vloeiende goud. Die musikante het hulle ook almal uitstekend van hulle taak gekwyt.

Die konsert, waarvan die tydsduur op die program as 90 minute aangedui word, het egter in ’n stadium begin trek. Selfs ná die 90 minute-merk het Amanda (love jou, Miss Mandy) op ’n leunstoel gesit en eers vir almal gevra waar en wanneer hulle begin sing het. “Ons het gaan kamp toe ek drie was en die tannie langsaan was ’n sangonderwyseres,” is nie noodwendig iets wat jy in ’n konsert wil hoor nie. Tien minute later het al die sangers uiteindelik ’n spreekbeurt gekry en kon daar weer musiek gemaak word.

Daar is nie een stem wat afgesteek het by ’n ander nie, en onthou gerus Phoebe se naam: Haar stem is soos vuurwarm vloeiende goud.

Terwyl ek nou mor: Kan “Paradise Road” nie vir eers op die rak gesit word nie, en sal sangers asseblief onthou dat “Vier seisoene kind” ’n teer liedjie is en nie uitgeskreeu moet word nie?

Die konsert is afgesluit met ’n keurspel wat “Joy to the World” en “Pata Pata” ingesluit het, en teen daardie tyd het die bestuurder van die pendelbussie wat my na my slaapplek moes neem, al ’n bekommerde boodskap gestuur. Amanda het nog “Rock in my taal” gesing toe ek myself saggies verskoon.

Toe ek terugkyk na die saal, was almal op hulle voete. Hulle het gekry waarvoor hulle gekom het.

Facebook
Twitter
LinkedIn