TOYOTA MUSIEKFEES

Frank verruk met rock 'n roll

Produksie: Frank Opperman: Oppermanaf
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Wie en wat het hulle gehoop om te sien, het Ilza Roggeband gewonder voor Frank Opperman saam met die room – Mauritz Lotz, Schalk Joubert, Jonno Sweetman en Luna Paige – op die verhoog geklim en dit behoorlik aan die brand gerock het…

Die gehoor is grootliks in hulle jare. Gryskoppe wat sekerlik die beginjare van TV onthou asof dit eergister was. Dallas op ’n Dinsdagaand. Haas Das en Riaan Cruywagen. Ouboet en sy poeksie woepsie.

Is dít wie hulle gehoop het om te sien? Ouboet? Of dalk Pa Lourens van Nêrens, Noord-Kaap? Het hulle gehoop vir ’n Chris Blignaut-cover of twee? Ken hulle die Frank wat al jare musiek maak en in die rokerige kuiergate van Mellville gespeel het? Wat was hulle verwagting?

Frank, wat in 1999 die album Serial Boyfriend en in 2019 die album Let’s be Frank vrygestel het, het egter van die eerste noot in Oppermanaf presies gewys wat die gehoor te wagte kon wees. Daar gaan gerock word met ’n stewige skeut blues. Selfs reggae en darem om te wys dat sy moedertaal na aan sy hart lê, twee Afrikaanse liedjies – een uit sy dae as Ouboet en een wat Frank oorspronklik in Engels geskryf het, maar wat deur Francois Blom van die groep K.O.B.U.S. in Afrikaans vertaal is.

Saam met Frank op die verhoog was Mauritz Lotz op kitaar, Schalk Joubert op baskitaar, Jonno Sweetman op tromme en Luna Paige op klawerbord en agtergrondstem. Met ander woorde: die room. Dit was duidelik dat elkeen elke oomblik van die konsert geniet het. Met een van Mauritz se kitaarsolo’s het Frank toegekyk met ’n uitdrukking wat sê “ek kan nie glo wat ek sien en hoor nie” en jy kon nie Luna se permanente glimlag miskyk nie.

So gepraat van die musikante: Hulle was vir alle praktiese doeleindes ’n session band, die sogenaamde musicians for hire. Dis nie asof hulle elke naweek saam met Frank optree nie en vir dae kan repeteer nie. Maar as jy die bestes kry, gaan jy die beste gee. Goue diploma vir elkeen van hulle. Dit het geklink of hulle al jare saam speel en daar het nie een noot skeefgeval nie.

Ken hulle die Frank wat al jare musiek maak en in die rokerige kuiergate van Mellville gespeel het?

Frank se musiek, meestal liedjies wat hy saam met sy vriend Michael Maxwell geskryf het, is filosofies en vol lewenswaarhede. Wanneer hy sing “happy birthday, baby Jesus” is dit ’n soeke na vrede en liefde, en wanneer hy “I’ll be there one, two, three, forever” sing in die liedjie wat hy met sy dogter se geboorte geskryf het, raak hy emosioneel soos net iemand met hart en siel kan.

Dis moeilik om nié vir Frank met Tom Waits of Joe Cocker of singende akteurs soos Jeff Bridges en Kevin Bacon te vergelyk nie, maar een ding is maar wors: Frank is uniek. Nie net uniek Suid-Afrikaans nie, maar uniek. Hy is ’n ikoon, ’n legende in sy eie leeftyd. Daar is net één Frank Opperman, al het hy in die konsert gesê: “My lewe is een lang Ouboet. Fok.”

Hy is 65 jaar oud. Werk nog volstoom. Sy lyf is lenig en lééf die musiek. Wanneer hy aan die einde van die konsert sê hoe bevoorreg hy en die musikante is dat mense kom luister het, wil jy uitroep: Dis óns voorreg!

Asseblief, asseblief, moenie dat die Woordfees die laaste keer wees wat hierdie vyf op die verhoog klim nie. Long live, Frank, long live.

*

Frank Opperman: Oppermanaf
15 OKT 20:00
Daisy Jones

Facebook
Twitter
LinkedIn