TOYOTA MUSIC FESTIVAL
’n Stem én ’n boodskap
Produksie: Hoort
Deur: Ilza Roggeband
Mans om tafels het haar wortels deurmekaargekrap, maar nogtans sal Stephanie Baartman staan.
Haar storie is dié van derduisende, sê Stephanie Baartman aan die begin van haar eenvrouvertoning Hoort – kinders met swart én bruin grootouers wat deur wetgewing in ’n sekere groep geplaas is. Net om jare later te besef jy is nie swart genoeg nie en ook nie bruin genoeg nie. Waar pas jy in? Waar hoort jy?
Dan vertel sy haar eie lewe tot nou met stories en musiek. Ja, sy is ’n aktrise bekend vir haar rol in Diepe waters, maar sy kán ’n storie vertel, iets wat akteurs nie altyd kan doen nie. Voeg daarby ’n stem wat jou tone laat krul van plesier en jy is in die palm van haar hand vir die volgende 80 minute. Janine Neethling verdien ook lof vir haar uitstekende begeleiding.
Stephanie is in 1985 gebore. Sy vertel van haar grootwordjare, oor haar ma en pa, boetie en sussie. Hulle eerste eie huis en hoekom die nommer 23 nog altyd haar gelukkige nommer is. Hoe geborge sy gevoel het met twee ouers, albei diep gelowig, wat haar en haar sibbe gekoester het en hoe sy van kleintyd af in die kerk gesing het.
Sy is beslis iemand wat meer geleenthede gegun moet word om haar talent te wys.
“Tuis is nie ’n plek nie, dis ’n gevoel diep binne jou,” sing sy in een van die liedjies wat sy saam met Johann Slabbert vir die vertoning geskryf het. Haar wonderlike humor skyn gereeld deur en haar storie oor hoe sy graag in die trompoppies wou wees en haar weergawe van “Don’t Stop Believing” is skreeusnaaks. Maar dan kan sy jou binne oomblikke neem na ’n plek waar sy vrae vra oor die samelewing se vergifnis en die ouma op wie se skoot sy nooit gesit het nie.
Stephanie is nie ’n nuwe kunstenaar nie, maar sy is beslis iemand wat meer geleenthede gegun moet word om haar talent te wys. In die eerste vertoning by die fees het die gehoor al voor haar laaste liedjie opgespring vir ’n staande toejuiging, weer gaan sit en haar toe wéér staande toegejuig. As jy nie reeds plan gemaak het nie, maak nou ’n plan om haar vertoning op 17 Oktober by te woon.
*
Hoort
17 OKT 16:00
80 min | Drostdy-teater
R190-R250 | R220-R280 by die deur