CLASSICAL MUSIC
Klein appeltjie, groot gif
Produksie: Jazz at the Konserve: Schalk Joubert Band ft. Sima Mashazi & Jazz at the Konserve: The Melisizwe Plaatjie Collective
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Pierre Rommelaere
Die lank ongebruikte amfiteater by die US Konservatorium het die jazz behoorlik laat síng en die gehoor se voete laat jeuk.
Geïnspireer deur die Konservatorium se amfiteaterruimte wat al ’n lang tyd ongebruik staan, het Vicky Davis en Ramon Alexander besluit om dit weer ’n doel te gee en die spasie te laat herleef. Die uiteinde is jazz-sessies wat vanjaar die tweede keer aangebied word deur die Woordfees, in samewerking met die US se musiekdepartement.
Die sessies is, soos verlede jaar, baie gewild – die Woordfees moes nog kaartjies beskikbaar maak omdat die eerste lot uitverkoop het.
Die amfiteater het ’n klein verhoog, maar moenie sy vermoë onderskat nie. Klein appeltjie, groot gif. Die klank resoneer wonderlik.
Schalk Joubert Band ft. Sima Mashazi
Studente van die US Jazz-vereniging het die konsert geopen met drie liedjies waarvan hulle een self geskep het. Die solo van hulle tromslaner, Caleb Dlamini, het my mond laat oophang. Toe ek hoor hy is net 16 jaar oud, was my kakebeen op die grond.
Dit was verfrissend om die nuwe geslag musiektalent te beleef voordat die meer ervare band opgetree het. Albei ensembles se optrede was gevul met passie en emosie. ’n Mens kon duidelik sien hoe die musikante elke liedjie beleef, en jy kon op hulle gesigte sien hulle is op ’n diep vlak verbind tot elke noot en akkoord.
Saam met die band – Schalk Joubert (baskitaar), Blake Hellaby (klavier) en Kevin Gibson (tromme) – het Sima Mashazi (stem) ’n ou omie aan die dans gesit met ’n verwerking van Paul Simon se Diamonds on the Soles of Her Shoes. Die een oomblik sit hy nog en luister lekker, maar toe ek weer sien, skud hy litte agter die gehoor, daar waar genoeg plek is.
Dit is wat Schalk en Sima se chemistry aan jou doen. Die twee is ’n dinamiese duo wat die wêreld al platgetoer het met hulle musiek.
Die Melisizwe Plaatjie Collective
Die konsert is geopen met ’n ensemble van opkomende jazz-talent, gelei deur die musiekdepartement se artist in residence, Bheki Khoza. ’n Lekker interaktiewe vertoning waar die musikante saam-saam gespeel en inisiatief geneem het waar dit reg gevoel het. Dit is wat jazz so fantasties maak: Jy mag ’n bietjie off-script gaan.
Die hoofvertoning, Pieces of Me, het die gehoor weggeblaas met die instrumente. Die vertoning, onder leiding van Melisizwe Plaatjie, die musiekdepartement se eerste jazzpianis-student, volg Melisizwe se reis deur die lewe en musiek.
Die ensemble: Melisizwe Plaatjie (klavier), Kerwin Albertus (alt-saxofoon), Henco Bester (tenoorsaxofoon), Nande Mdlambuzi (tromboon), Pizzo Magatyana (baskitaar), Stuart Martin (tromme), en Khanyisile Mbukwana, Athule Tshiwula en Anga Bixa (stem.)
Die gehoor het die musiek só geniet dat hulle vir die grootste deel van die konsert op hulle sitplekke gehop en dans het asof hulle rooimiere in die broek het.
Die amfiteater is ’n gesellige buitelugspasie. Met die eerste aand se sessie was daar beanbag-stoele en kussings om op te sit. Vat wel ’n ekstra baadjie en ’n kombers saam, want die windjie kan skraal raak.
Daar is nog een jazz-sessie, en jy wil dit nie misloop nie. Bring jou instrument saam – ná die konsert is daar ’n gemeenskaplike jamsessie.
Jazz at the Konserve: Ramon Alexander Quintet – The Throwback Project
18 OKT 20:30
90 min | US Konservatorium-amfiteater
R130 | R160 by die deur