SPIER TONEEL

Jy moet bokspring om by te hou

Produksie: Boklied
Deur: Diane de Beer
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Byna drie dekades nadat Boklied die eerste keer opgevoer is, bly dit steeds ’n raaisel of, soos Breyten Breytenbach dit self gestel het, “miskien karnaval, miskien revolusie”. Maar nou is die malligheid op die verhoog glad nie so verregaande nie, want selfs die euwels van die verlede vervaag in ’n wêreld wat tans sonder skaamte uitmekaar val.

“Ek weet ook nie wat dit beteken nie, maar dis hoe dit daar staan,” sê een van die karakters in Breyten Breytenbach se digte en destyds opspraakwekkende teks wat in 1998 die eerste keer by die KKNK opgevoer is.

Die stuk het 27 jaar terug die land behoorlik aan die gons gehad. Daar het nie veel verander nie – nie in die teks óf die land nie.

Boklied is nog net so groots. Om dit nou ’n tweede keer te beleef, weer onder regie van Marthinus Basson, bly dit steeds ’n raaisel of, soos die skrywer dit gestel het, “miskien karnaval, miskien revolusie”.

’n Groep spelers kom bymekaar in ’n groot ruimte. Wat dit is, is nie duidelik nie en maak ook nie saak nie. Hulle is kleurvolle karakters en die persoonlikhede word meer sigbaar soos die gebeure ontvou. Vir die oomblik is hulle veilig, maar daar is iets onheilspellends aan die gang net buite hulle bereik… vir die oomblik.

Laat die spel begin. Die verskillende karakters stel hulleself bekend, maar net soos jy dink jy kry ’n houvas, verander die spel en die persoonlikhede word rondgeskuif of selfs uitgeruil.

Hier en daar steek iets skielik kop uit en daar verskyn skaars vir ’n wyle ’n liggie, ’n vae gedagte, om net so vinnig weer te verdwyn saam met die vaste grond wat vir ’n oomblik dinge duidelik maak en ’n skyn-standvastigheid daarstel.

Wat wel die vastigheid vestig, is Breytenbach se spel met woorde. Dis moeilik om een sin te verwerk in jou kop, want die woorde tuimel vinnig die een ná die ander soos die sinne en spraak vloei. Dit hou jou vas, maak kort gedagtes duidelik, raap dit weer weg met die verskyning van ’n volgende gedagte en jy moet bokspring om by te bly. Jy moet voortdurend vastrap en konsentreer om by te hou, maar die wedren is uiteindelik die moeite werd.

As die lengte van die stuk jou dalk afskrik: Jy word glad nie tyd gegun om daaraan te dink nie. Jy wil net slegs byhou en saamspeel.

As die lengte van die stuk jou dalk afskrik: Jy word glad nie tyd gegun om daaraan te dink nie. Jy wil net slegs byhou en saamspeel.

Wat Basson met die spelers en die gegewe doen, is verbysterend. Eerstens is dit sy keuse van akteurs, iets wat niemand hom kan nadoen nie. Hy weet net hoe en waar om te pas en te skuif sodat die blokkies perfek inmekaar pas.

Dit begin met ’n briljante De Klerk Oelofse in die rol van “die skrywer”, die een wat die storie saamvat en skynbaar aan die stuur van sake staan. Hy is die een wat die toutjies trek, of so dink jy. Die res dans na sy pype en elkeen ken sy passies en voer dit uit met swier.

Miskien is tyd wel die gegewe wat die diepste sny. Toe die stuk aan die einde van die vorige eeu gedebuteer het, was dit ons land wat kop bo die ander uitgestaan het. Intussen, amper drie dekades later, kyk ’n mens na ’n baie wyer wêreld wat daarbuite spartel. Wie sou destyds ’n Trump of ’n Netanyahu kon optower? En nou is die malligheid op die verhoog glad nie so verregaande nie, want selfs die euwels van die verlede vervaag in ’n wêreld wat uitmekaar val sonder skaamte en vergrype wat niemand, nie eens die skrywer, sou kon voorspel nie.

*

Boklied
15 OKT 18.00 | 16 OKT 10.00 | 17 OKT 18.30 | 18 OKT 18.30 | 19 OKT 09.00
Open Window Filmstudio

Facebook
Twitter
LinkedIn