KINDERFEES
Leer terwyl jy jil en gil
Produksie: Woordedief
Deur: Ilza Roggeband
Foto’s: Natalie Gabriels
Daar is net iets aan kinderteater wat ’n huppel in jou stap sit. Woordedief is so ’n produksie, skryf Ilza Roggeband.
Kleintjies sit op hulle ouers se skote. Ander staan op hulle stoele (om beter te kan sien, my kind). Wanneer daar van hulle verwag word om saam te praat, jil en gil hulle soos ’n nes vol spreeus. Woordedief is ’n kinderproduksie wat amper al die boksies tiek.
Die gehoor ontmoet aan die begin van die konsert vier kabouters – gespeel deur Mia van der Merwe, Wian Taljaard, Kerscha Titus en Eldon van der Merwe – wat van meet af aan sing en dans en die jong gehoor by hulle wêreld intrek.
Die vier spelers word egter deur die loop van die volgende uur ook ánder karakters, soos Robbie Robot, Hendrik Haan en Paul Pou. Taljaard is selfs in ’n stadium ’n koei op hakke.
Wat stel en die kostuums betref, is daar nie afgeskeep nie, en die oorspronklike liedjies wat spesiaal vir die produksie geskryf is, dra by tot die plesier.
Of die groot saal by Bloemhof egter die regte plek is vir ’n produksie soos hierdie, is ’n ope vraag. Die akoestiek laat dit soms sukkel om elke woord te hoor en die spelers is net te ver van die kinders af. Nie dat dit die jong gehoorlede Sondagmiddag gekeer het nie. Hulle het ywerig deelgeneem van waar hulle gesit het. Getrou aan ’n kindergehoor het hulle gewaarsku as daar gevaar op pad was en woorde uitgeroep wat op kaarte gewys is.
Laai jou kar vol kinders – pik sommer sommer ’n paar langs die pad ook op – en gaan kyk.
Taljaard, wat ook in die eenmanvertoning Ont- en die groot dramaproduksie Boklied te sien is, het amper my hart laat staan toe hy op ’n kol – in die rol van Woordedief – van die verhoog af gespring het. Die eerste ding wat deur my kop gegaan het was: Sê nou hy breek ’n enkel? Maar dis nou maar fees en die weerbastigheid van die jong spelers. Ook Van der Merwe was later die aand in Annie+Helen op die verhoog. Die veelsydigheid van die talent in hierdie land slaan soms die asem weg.
Daar is nog twee vertonings van Woordedief oor. Laai jou kar vol kinders – pik sommer sommer ’n paar langs die pad ook op – en gaan kyk. Daar is oorgenoeg vir kinders én volwassenes om te geniet.
*
15 OKT 09:30 & 11:00
60 min | HMS Bloemhof-sentrum
R110-R160 | R140-R190 at the door