SPIER TONEEL

Net ’n wonderwerk red jou van verlies

Produksie: Liefde, Lafras
Skrywer: Marina Griebenow
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Twee veteraanakteurs span ná 10 jaar weer saam om die aard en gevolge van verlies te ondersoek in Liefde, Lafras. Moenie vir Antoinette Kellermann en Gerben Kamper misloop nie, sê Marina Griebenow.

Hoe gemaak as jou eggenoot van etlike dekades skielik te sterwe kom? Is ’n mens ooit gereed vir die skok en trauma van so ’n gebeurtenis? Wat maak jy met jou verdriet? Wat van al die onafgehandelde sake en gesprekke? Hoe leef jy verder in die huis waar julle ’n leeftyd saam deurgebring het? Dit is alles vrae en probleme waardeur Gertie (Antoinette Kellermann) in die gesig gestaar word as haar geliefde Lafras (Gerben Kamper) sterf en sy alleen agterbly.

Wat verbasend is omtrent dié verhaal, geskryf deur Caitlin Wiggil, is hoeveel daarvan ’n mens eintlik goed ken: die skok van ’n geliefde se heengaan, die begrafnisreëlings wat getref moet word, vriende en kennisse wat kos en blomme aandra, die begrafnis of roudiens, die oorweldigende hoeveelheid administrasie en rompslomp wat wag op wie ook al agterbly, en so kan ’n mens aangaan. Die persoonlike is in hierdie geval universeel, hoewel die uitkoms wat Gertie vir haarself kies, dalk nie almal sal welgeval of aanstaan nie. Trouens, daar was ’n paar stewige meningsverskille terwyl die gehoor die saal verlaat.

As Gertie ná Lafras se begrafnis na haar huis terugkeer, wag daar ’n verrassing op haar. Om die waarheid te sê is dit aanvanklik moeilik om te bepaal of dit nie dalk eerder as ’n skok kwalifiseer nie. Haar gemoed is nog swaar ná die huldeblyk wat sy by die begrafnis gelewer het en die spyt wat sy uitgespreek het oor Lafras nooit in die lewe vir haar gesê het hy is lief vir haar nie, en daar staan hy reg voor haar, lewensgroot en oënskynlik springlewendig.

Sy kan eers nie haar vreugde beteuel nie, maar dan skop die werklikheid in en volg ’n komiese verifikasieproses. Deel van die verifikasieproses is dat hy uiteindelik, asof met ’n post-mortem, sy ewige liefde aan Gertie verklaar. Hulle berus uiteindelik daarby dat hy immers nie soos ’n spook lyk nie en nog minder na een voel. Aangesien Lafras nog lewe, besluit hulle hulle kan met hulle lewe voortgaan soos voorheen, met een belangrike verskil: Lafras mag nie die huis verlaat nie, want niemand anders mag weet hy het “uit die dood opgestaan” nie.

Gerben en Antoinette is ’n merkwaardige span. Soos Antoinette sê: ‘Lyk my ons speel so elke 10 jaar of wat teenoor mekaar!’ Sy verwys natuurlik na hulle seminale vertolkings as Gregor en Josefine Samsa in ‘Samsa-masjien’ van Jaco Bouwer wat in 2015 op die planke was.

Lafras verval soms in selfbejammering en vertel aan Gertie dat hy nie meer in God glo nie, want toe hy by die poorte van die hemel aankom, was niemand daar om hom te ontvang nie, nie eens Petrus nie. En hy het baie vrae, mor hy. Gertie protesteer floutjies en dring daarop aan dat sy in iets móét glo, maar dis duidelik dat Lafras se sterk standpunt en ontsteltenis op vrugbare grond val.

Hulle lewe gaan vir ’n ruk lank voort op sy gewone trant, behalwe dat hulle moet wegkruip vir die buurvrou wat kruideniersware aandra, en dan kom hulle agter Lafras kan nie meer buitentoe gaan, onder meer om lukwarte te pluk om konfyt en blatjang te maak, nie.

Dit word duidelik dat die huis letterlik hulle werklikheid vashou, maar alles is tydelik, want Lafras is besig om sy kragte te verloor en te vervaag. Dit laat albei vreesbevange – vir Gertie, want sy wil nie sonder hom lewe nie, en vir Lafras omdat daar volgens hom niks aan die ander kant is nie. “Die dood pyn soos eensaamheid,” meen hy.

Gertie is uiteindelik die een wat beheer oor die situasie neem. Sy verduidelik aan Lafras dat sy “opstanding” ’n wonderwerk was, en hoewel ’n mens nie wonderwerke kan kies nie, sê sy nou daarvoor “fok dit” en gaan haar eie wonderwerk bewimpel om te sorg dat sy nie sonder hom hoef te lewe nie. Om meer van die storie te vertel sal die einde bederf. Dit dus daargelaat.

Die Woordfees as vervaardiger van Liefde, Lafras het besluit om twee bekroonde veteraanakteurs vir die rolle van Gertie en Lafras te gebruik. Die drama, oorspronklik in Engels geskryf en vertaal deur Antoinette Kellermann, klink dalk eenvoudig, maar dit is beslis meer kompleks as wat ’n mens aanvanklik dink en daarom werk dit om twee ervare akteurs in dié rolle te plaas. Wolf Britz is die regisseur.

Hoewel Lafras selfs in ’n stadium bloei as hy hom per ongeluk raaksny – wat kwansuis daarop dui dat hy werklik lewendig is – glo ek alles wat plaasvind vandat Gertie vir Lafras ná die begrafnis in hulle huis kry tot sy haar eie wonderwerk skep, haar manier om die vraagstukke wat in die inleiding genoem word te konfronteer. Daarin lê ook die slimmigheid van die teks. Die enigste vraag wat vir jou as gehoorlid oorbly, is om te besluit watter vorm jou wonderwerk gaan aanneem.

’n Mens geniet die “ligter” rolle wat Antoinette deesdae speel, soos onder meer in Die stoele verlede jaar waarvoor sy welverdiend ’n Fiësta-toekenning ontvang het. Sy is ongetwyfeld ons voorste vertolker van formidabele vroue soos koningin Lear, Prospera in The Tempest, Anna van Wyk en dies meer, maar juis daarom is dit heerlik om haar te sien as sy guitig is of ’n bietjie flêrrie of selfs net diep hartseer raak oor sy haar man verloor het en hy nooit vir haar gesê het hy het haar lief nie. Jy gun vir Gertie haar wonderwerk.

Gerben en Antoinette is ’n merkwaardige span. Soos Antoinette sê: “Lyk my ons speel so elke 10 jaar of wat teenoor mekaar!” Sy verwys natuurlik na hulle seminale vertolkings as Gregor en Josefine Samsa in Samsa-masjien van Jaco Bouwer wat in 2015 op die planke was.

Gerben raak net al hoe beter namate die jare verbygaan. ’n Mens geniet veral sy vaardige manier om ’n komiese lyn uit te rek tot op die presiese punt wat dit gesê moet word sodat hy die maksimum effek daarmee bereik. Hy beskik egter oor al die wapens in sy spel-arsenaal om ewe goed komedie en patos te speel, en hier in Liefde, Lafras gebruik hy dit omtrent in gelyke mate.

Dalk is die les van Liefde, Lafras dat dit goed en nodig is om in wonderwerke te glo, nes Gertie, en om, anders as Lafras, in die lewe jou liefde teenoor jou geliefdes te verklaar.

*

Liefde, Lafras
16 OKT 16:30 | 17 OKT 16:30 | 18 OKT 20:30 | 19 OKT 10:00
80 min | kykNet Rhenish Girls’ High
R215-R320 | R245-R350 by die deur

Facebook
Twitter
LinkedIn