SPIER TONEEL
Wat die seun ’n man gemaak het
Produksie: Seun
Deur: Marina Griebenow
Foto’s: Jeremeo Le Cordeur
Hy skryf oor doodgewone mense, oor sy lewensreise op soek na die waarheid en na sin – en dít het van Dana Snyman volksbesit gemaak. In die eenmanstuk Seun lê hy sy siel bloot en deel dinge wat hom tot in sy diepste wese geraak het. Marina Griebenow meen die stuk sê vir ons baie oor mans.
Dana se boek Seun is biografies van aard. Hy lê as ’t ware sy siel bloot en deel dinge wat hom tot in sy diepste wese geraak het. In Seun praat hy vir die eerste keer oor sy oneervolle ontslag uit die weermag, probleme met sy geestesgesondheid, die taai verhouding met sy pa en die landspolitiek, sy meestal onsuksesvolle soeke na romantiese liefde, en hoe moeilik dit is om groot te word in ’n land en tyd wat jou nie ware volwassenheid gun nie en waar jy vir altyd ’n seun bly.
Left Foot Productions het dadelik raakgesien dat Seun potensiaal het om suksesvol in ’n toneelstuk omskep te word. Ná sy briljante verwerking van Mark Behr se roman
Johann se verwerking van Dana se prosa is teatermatig, respekvol en getrou aan die weerlose, introspektiewe toon van die oorspronklike. Hy sny tot by die kern van Dana se ervarings deur die fokus te plaas op die eenvoud van eerlike taal en rou herinnering. Dana se gereelde onderonsie met die storie oor die walvis wat vir Jona ingesluk het, span Johann knap in as ’n verlengde metafoor wat vir die gehoor deurgaans as punt van herkenning dien. Sodra dit opduik, voel dit amper asof die gehoor saam verligting ervaar, of ’n openbaring.
Hy skep egter ook genoeg ruimte vir stilte en vir wat ongesê bly, sonder om afbreuk te doen aan die emosionele impak van die gebeure. Kortweg, hy laat die gehoor ervaar hoe die menslike geheue werk. Tog beweeg dit verby blote herinnering en word dit ’n meditasie oor manlikheid, stilte, die genade en erbarming van liefde, die sondes van die vaders en wonde wat nie altyd sigbaar is nie.
Die gebruik van wit plastieksoldaatjies is een van die aangrypendste elemente in die produksie. Hulle simboliseer die oorgang van kinderlike onskuld na volwasse geweld, en herinner aan hoe jong mans van daardie era gevorm en vervorm is deur ideologie en oorlog.
Johann se sensitiewe verwerking, Nico Scheepers se ragfyn en deurdagte regie en ontwerp, en Wilhelm van der Walt se verbysterende spel vorm saam ’n produksie wat diep in die siel vasskop en nie laat los nie. Dit laat jou met dieselfde gevoel as die boek: jy wil Seun aan die hand vat en hom gerusstel dat alles op die ou einde ten goede sal meewerk.
Nico se regie is lig dog ferm, en hoewel sy ontwerp minimalisties is, is dit tog emosioneel ryk. Hy skep ’n verhoogruimte waarin geheue en hede ineenvloei. Hy gebruik net twee meubelstukke as dekor: ’n stoel en tafel, albei blou geverf. Jy wonder oor die blou, maar besef later dat die stel die kleure van die ou landsvlag weerspieël: oranje, wit en blou. Nico se tempo is delikaat maar geensins eenselwig nie. Stiltes is gelade en werk in teenwig met die oomblikke van hoë drama en intensiteit. Hy gee nie alles praterig weg nie, maar laat die kyker self die nodige verbindings maak.
Die gebruik van wit plastieksoldaatjies is een van die aangrypendste elemente in die produksie. Hulle simboliseer die oorgang van kinderlike onskuld na volwasse geweld, en herinner aan hoe jong mans van daardie era gevorm en vervorm is deur ideologie en oorlog. Hulle dien ook as stille getuies van die verloop van gebeure en in ’n stadium is hulle selfs Seun se trane wat spat.
Saam met Kate Borthwick se klankbaan wat die geheue prik en gevoelens aanwakker, is die plastieksoldaatjies en beligting die visuele senuweestelsel van die stuk – klein en eenvoudig, maar met ’n trefkrag wat jou lank sal bybly. Die beligting is eintlik ’n verteller in eie reg. In oomblikke van stilte en konfrontasie praat die lig en skep die spanning tussen vergeet en onthou.
Dis onmoontlik om Wilhelm genoeg lof toe te swaai vir sy vertolking van die hoofkarakter. Trouens, dis moeilik om te glo Seun is sy eerste eenmanstuk, want sy spel is meesterlik en sy beheer onberispelik, selfs toe die mikrofoon met die opening by die Woordfees kort ná die aanvang faal. Komplimente ook aan Nico dat hulle besluit het om die opvoering vinnig te onderbreek en die mikrofoon reg te stel. Dit was geensins steurend nie en Wilhelm se professionaliteit het gesorg dat die stuk met dieselfde intensiteit hervat kon word.
“Tot dusver was dit ’n ongelooflike reis met die stuk,” noem Wilhelm in ’n gesprek. “Dis darem nou al die vierde fees waar ons optree. Daar was ’n paar uitdagings, maar dit was hoofsaaklik net om myself te vertrou en oor te gee aan my ervaring. Ek het oor die jare al saam met ongelooflike akteurs, regisseurs en skrywers gewerk. Ek dink ek het sodoende ’n sterk performance muscle ontwikkel. Tog was dit maar moeilik om aanvanklik daarop te vertrou, want dit was my eerste eenmanstuk, en dít was nogal vreesaanjaend.”
Wilhelm oordryf nooit nie; alles is deurdink en deurleef. Sy stem en liggaam werk saam soos ’n goedgeoliede masjien om die lae van sy karakter te openbaar – van reddelose gebrokenheid tot meelewing en aanvaarding. Hy speel met ’n sterk teenwoordigheid en gee aan die karakter se innerlike wêreld tasbare gestalte. Sy veelsydigheid is verstommend en ’n mens verstaan waarom hy as akteur so hoog aangeskryf word.
Sy vermoë om die verskeidenheid karakters uit te beeld wat in Seun se dampkring voorkom, is merkwaardig. Hy maak hulle nie na nie, maar in sy vertelling sien jy elkeen, jy hoor elkeen en jy vóél elkeen. Daarna staan jy net verbaas oor hoe hy met perfekte aanvoeling terugkeer na die ingetoëndheid en skugterheid van die hoofkarakter.
Seun is ’n deernisvolle meesterstuk. Johann gee diepte daaraan, Nico gee dit vorm en struktuur, en Wilhelm gee dit bloed en asem. Seun herinner ons daaraan dat elke man, êrens diep binne, deels nog seun is wat probeer verstaan wie hy geword het.
*
Seun
17 OKT. 15:00 | 19 OKT. 10:00
75 min | Idasvallei Primêr
R200-R250 | R230-R280 by die deur