RUBRIEK
Om die gras te laat ly
Produksie: Kompoun
Deur: Lynthia Julius
Foto’s: Gys Loubser
Nadat sy Ronelda S. Kamfer se Kompoun gaan kyk het, besin Lynthia Julius oor die sondes van die ouers en die stilbly wat die kinders erf.
Moenie ons hard maak nie. Ons is sag.
Hoor ek een van die karakters sê terwyl ek Kompoun kyk. Die kjeeners se hoofde is saf, moenie hulle hoofde in laat val nie. Moenie hulle behandel dat hulle opstandig word nie. Moenie hulle hartseer vuiste maak nie. Hulle is sag, moen jy hulle nie hard maak nie. Moenie groen druiwe eet nie. Die klô-goed se tande sal stomp raak.
In “New Day” van Jay-Z en Kanye West sê Jay vir sy kjeent: “Sorry, junior, I already ruined ya.” En my ma sê sy het al gesien by die klinieke wat sy in gewerk het dat ma’s nie hulle ARV’s drink nie dat hulle kjeeners kan in huisies in die Vrystaat (HIV) trek. Nog voor hulle gebore is. Dat hulle meer as net child support by Sassa pay. Laat die mâma’se disabillity kan pay vir hulle kjeeners. Dat hulle verder hulle vuil bloed aan hulle kjeeners oordra.
Moenie ons hard maak nie. Ons is sag.
En die hek in die teater hou aan hekker en my hart word al hoe papter en hulle praat van begrafnisse. Bruin mense se begrafnisse. Van kis dra en eerste skof en tweede skof. Op die wolke van die hemel sal ons Jesus weer ontmoet. Die dood is nie die probleem nie. Die kak kom in wanneer jy lewe terwyl jy al klaar gesterwe het.
Die oom vat aan my.
Die ma kyk see toe. Ek het jou gesê jy moet my nie in die skande steek nie. Maar skande is safter as ’n breek bestaan en skande tap die vuil bloed uit. En trauma is in die bloed. Dit braai binne ons soos uie in ’n Heart-pot. Dit maak kole van watte en hoe maak ons wanneer Sta-Soft ons nie meer saf kan maak nie.
Die dood is nie die probleem nie. Die kak kom in wanneer jy lewe terwyl jy al klaar gesterwe het.
Die oom vat aan my.
Warsan Shire kom sê: “I can make us loved, just say the word. Give them stumps for hands if even once they touched us without consent.” Maar die oom wat in die donker die kjeeners vang se hande word al handeder. Hulle val nie af nie. Hulle vingers word al vingerder. Al natter en die mâma’se sluk hulle tonge asof dit trifle op ’n Krismis is. Hou jou bek. Sluk jou pyn. Jy dra nie jou pyn soos ’n nuwe Krismisrok nie. Jou rok is in elk geval onner bloed. Jy het maan toe gegaan en ons vier dit nie. Jy is nou ’n vrou – pas jou koek op. En onthou: vroeg ryp, vroeg vrot. Die mense van die kerk sal ons skinner en maak vir jou brood en tee vanaand. Ek het ’n nuwe kerkrok vir die konferensie by Truworths gekoop. Hou jou bek. Sluk daai brood. Daar is honger kjeeners in Afrika.
En die kjeeners swyg en verwurg van al die liegte. Die liegte wat generasies in en generasies uit, die kjeeners afdrink. En hou jou bek, Phillip Larken. Jy lieg verder vir die klo-goed. Hulle moet in elk geval hulle bekke in ’n gatte steek. Lip kak, Phillip. Netnou begin glo die kjeeners jou:
They fuck you up, your mum and dad.
They may not mean to but they do.
They fill you with the faults they had
and add some extra, just for you.
But they were fucked up in their turn
by fools in old-style hats and coats,
who half the time were soppy-stern
and half at one another’s throats.
Man hands on misery to man.
It deepens like a coastal shelf.
Get out as early as you can,
And don’t have any kids yourself.
Moen hulle nie behandel dat hulle opstandig word nie. Wat? Ék hou hulle bekke vol kos. Hulle sleg pa’s soek hulle nie. Hulle pa’s het hulle weggegee soos klein jack russells wat hondsdolheid het. Wie wil ’n kjeent hê wat vrot na al die foute wat jy jou lewe lank gemaak het? ’n Vrot ding is ’n ding wat weggesmyt moet word. Die mense sal skinner. Ons is kaalgatte, maar ons is skoon en die dominee gaan nou kom. Jy hou jou bek oor jou pa. Jy hou jou bek oor jou oom. Niemand wil ’n kjeent hê wat nie sy bek in sy gat kan steek nie.
En die kis word gedra – in skofte gedra. Maar daar’s nie bemindes in die hemel nie. Die bemindes is op aarde en hulle is breek soos ’n Pep-bierglas. Maak jou hartseer stil. Ruil dit om soos ’n Lil-Lets unscented pad. Jy het gekies om jong meisie te word. Moenie laat jou bloed se stink my neusgate verstop nie.
When two elephants fight, it’s the grass that suffers.
Die oom wat in die donker die kjeeners vang se hande word al handeder. Hulle val nie af nie. Hulle vingers word al vingerder. Al natter en die mâma’se sluk hulle tonge asof dit trifle op ’n Krismis is.
Maar die kjeeners het nie gras nie. En almal is gemaak om te ly. Hulle het klaar nie eens genoeg water om hulle se lywe in skottels te was nie. Waarvoor moet daar nog gras wees? Daai is vir ryk mense met huise by die see. En daar word nie Kaap toe gegaan nie. Dis vir die ouers bedoel. Hulle gaan. Pas julle maar die huis op. Claudia en sy tikkop-man breek hoeka aande deur die mense se huise in. Hulle het nou die dag glad Doesie se 5 kg-hoennersak gesteel.
Ek kyk Kompoun en Grobz King se woorde aan sy dogter frommel my op soos ’n druiprapport: Ek vra vir God vir krag. Jirre, moenie dat ek haar fail nie en moenie dat sy ooit vir my sondes gaan kom pay nie.
My kjeent is saf, ek wil haar nie hard maak nie. Vir haar gaan ek leer om ’n swaard te word vir al die ooms wat die kjeeners in die donker vang. Vir haar Alula-melk met Shire se woorde ingee:
I’ll rewrite this whole life this time there’ll be so much love, you won’t be able to see beyond it… Maybe we’re okay, kid.
En Kompoun laat sit my met los trane soos onverwagte reëndruppels. Almal staan op en klap hande, maar ek sit nog. My ma se woorde messel my teen my stoel vas:
Lyntieja was my sagste kjeent. Die mense teen die pad het hom hard gemaak. Nou is hy só hardegat, ’n vlieg mag nie eens teen sy neus sit nie.
Ek staan op en klap met nat oë hande.
*
Kompoun
18 OKT 11:00 | 19 OKT 13:00
70 min | Adam Small-laboratorium
R180 | R210 by die deur