KINDERFEES

Seebewaring ken g’n ouderdomsperk

Produksie: Captain Kwanda’s Fanplastic Adventures
Deur: Duné van Jaarsveld
Foto’s: Duné van Jaarsveld en Jeffery Abrahams

’n Mens is nooit te oud om te leer nie, maar as dit by seebewaring kom, kan jy ook nie te jonk wees nie. Want “almal verdien om ’n walvis te sien”.

Kaptein Kwanda stel ’n vraag aan die gehoor: “Wat is klimaatsverandering?” Ná ’n paar sekondes van kriek-kriek-stilte is die doel van die produksie klinkklaar: Bewustheid onder die jeug oor die erns van plastiekbesoedeling en seebewaring.

Jungle Theatre Company, ’n nieregeringsorganisasie wat daarop fokus om benadeelde kinders en jong mense te inspireer en te bemagtig, bied Captain Kwanda’s Fanplastic Adventures aan. Die produksie is gebaseer op die boek The Legend of Captain Fanplastic, wat spesifiek fokus op omgewingsbewustheid en die wêreld se afvalprobleem.

Kinders is nog nie noodwendig bewus van klimaatsverandering of aktief betrokke by die eko-kritiese landskap nie. ’n Mens kan wel nié te jonk begin dink en gesels oor hierdie belangrike onderwerpe nie.

Die gehoor sluit aan by ’n seevaart saam met Kaptein Kwanda en sy seeskilpadvriend, Fin. Die twee gaan op ’n reis om seediere te help wat deur plastiekbesoedeling beseer is. Die gehoor sluk hierdie bitter pil af met vlymskerp kletsryme, liedjies en danse. Só word die dieper erns van plastiekbesoedeling op ’n lighartige manier aan die gehoor bekend gemaak.

Die interaktiewe aard van die produksie maak dit maklik vir die jong gehoor om te konsentreer en die storie te volg. Buiten daardie aanvanklike vraag kon die kinders verder nie gou genoeg hulle hand opsteek of antwoorde uitskree nie! Verder maak die drietalige dialoog die produksie relevant vir ’n breë groep mense. Afrikaanse, Engelse en Xhosa-kinders kan hulle by die storie inleef deur hulle eie taal.

Rekwisiete en beligting word op ’n slim manier benut om die gevoel van ’n seevaart te skep. Werklike plastiekrommel word gebruik – ’n eenvoudige dog kragtige manier om bewustheid oor besoedeling by die jeug te kweek en gedragsverandering te bewerkstellig.

Die jeug is die toekoms, en verandering begin daar. ’n Mens is nooit te jonk om ’n verskil te maak nie!

“Ons werk saam met die volgende geslag sodat ons bewustheid aan die gang kan hou, want almal verdien om ’n walvis te sien!” sê Heather Gielink, regisseur en skrywer van Captain Kwanda’s Fanplastic Adventures.

*

Captain Kwanda’s Fanplastic Adventures

13 OKT 09:30

45 min | Drostdy-teater

R120-R160 | R150-R190 at the door

Facebook
Twitter
LinkedIn