KINDERTONEEL

‘Grommels’ is allesbehalwe grommig!

Produksie: Grommels
Deur: Maliza Adendorff
Foto’s: Angelique Filter

Grommels nooi jou uit om terug te keer na eenvoud en stilte en bied lekker vinnige ontvlugting vir jonk en oud sonder om die kyker ooit te verveel.

In ’n klein, grys wêreldjie agter ’n grys muur woon twee kleurvolle grommels, Geelgrommel en Blougrommel. Meer verskillende karakters – in daad en wese – kan jy nie kry nie. Tog kan die een nie sonder die ander nie en mooi goed gebeur wanneer die twee bymekaarkom. Maar wat gebeur wanneer die muur skuif?

Dit help eintlik nie om ’n grommel te (probeer) definieer nie, maar Angelique Filter, skrywer en regisseur, beskryf dié twee as “dwergagtige narkarakters”. Die beter vraag is eerder: “Hoe is ’n grommel?”

Dan kan ’n mens antwoord dis die grommels se nuuskierige en speelse aard wat jonk en oud woordeloos voorstel aan die twee en jou meesleur in hulle denkbeeldige wêreld. Geelgrommel (beslis ’n oggendgrommel) en Blougrommel (presies die teenoorgestelde) se wêreld word omhein deur ’n digte grys muur, maar dit is juis hulle verskille en die akteurs se vernuftige uitbeelding daarvan wat dié produksie kleur gee. In ’n oomblik wanneer Geelgrommel in ’n poeletjie lig staan vir ’n bietjie sonskyn, kom ’n mens agter daar is iets spesiaals omtrent hierdie produksie.

Hoewel die storielyn effens lank neem om momentum te kry, is dit ’n goeie geleentheid vir die gehoor om die grommels en hulle geite te leer ken. Liggaamstaal het nog nooit so hard gepraat nie – dit is maklik en lekker om Angelique Filter en Robert Hindley se bewegings en gesigsuitdrukkings te volg.

Die stelontwerp en rekwisiete is eenvoudig, maar word effektief gebruik en dra by tot die uitbeelding van die karakters en die storielyn, maar sonder om dit te oordonder. Byklanke en beligting speel ook ’n belangrike rol. Soos die grommels se storie in ongeveer 40 minute ontvou, is daar selfs karakterontwikkeling in die grys muur wat in ’n skilderdoek verander.

In die donker vra ’n dogtertjie vir haar pa: “Mag ek maar lag, Pappa?” ’n Mens hoor die antwoord in die borrelende laggies van die kinders en grootmense.

In die donker vra ’n dogtertjie vir haar pa: “Mag ek maar lag, Pappa?” ’n Mens hoor die antwoord in die borrelende laggies van die kinders en grootmense. ’n Mens vind maklik aanklank by die twee en kom gou agter of jy vandag meer soos Geelgrommel of Blougrommel is.

Grommels nooi jou uit om terug te keer na eenvoud en stilte en bied lekker vinnige ontvlugting vir jonk en oud sonder om die kyker ooit te verveel. Wanneer die ligte in die Drostdy-teater weer aangaan en die grommels hulle buiging maak, kan ’n mens nie help om te wonder nie: Raas die wêreld nog altyd so?

***

Grommels

12 Okt. | 10:30

Drostdy Theatre

Facebook
Twitter
LinkedIn