Boodskappe van ons borge

KREATIWITEIT TRANSFORMEER

LEON THERON
Senior visepresident: Verkope en bemarking Toyota Suid-Afrika Motors

Lente is die seisoen van vernuwing en groei – ’n kragtige herinnering aan hoe kreatiwiteit ons kan inspireer, transformeer en verenig. Om hierdie rede is ons baie opgewonde om deel te wees van die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees, ’n stimulerende viering van kunstenaarskap.

Vanjaar is dit die sesde agtereenvolgende keer dat Toyota Suid-Afrika die Woordfees
borg – ons verbintenis daartoe om deel te neem aan aktiwiteite wat ruimtes skep waarin gemeenskappe bymekaargebring word. Vanjaar se feestema, “Deel”, het ’n diep en ryk betekenis wat die gees van ons reënboognasie vasvang. Met meer as 400 produksies wat die lewenskragtigheid van taal, kultuur en kuns ten toon stel, beloof die Toyota Stellenbosch Woordfees om ’n kruispad te wees van kreatiewe energieë – vir kunstenaars én feesgangers.

Terwyl ek hieroor nadink, word ek herinner aan die ou Engelse spreekwoord oor “deel” wat lui: “When you share, you multiply joy and divide your sorrow.” Ek meen dit is ’n belangrike waarheid en ’n herinnering aan almal van ons terwyl ons ons weg probeer vind in vandag se wêreld.
Laat ons die gees van eenheid en kameraderie met ons saamdra terwyl ons regmaak vir nog ’n aflewering van die Toyota Stellenbosch Woordfees.

Met ’n opwindende feesprogram wat voorlê, nooi ons jou om deel te word van ons poging om die kunste op die hande te dra, plaaslike talent te ondersteun en ’n feeservaring te vorm wat ’n blywende impak sal hê.

Ons sien uit daarna om jou by die fees te sien.

Lees meer

JY IS GEMAAK OM TE DEEL

PROF. DERESH RAMJUGERNATH
Rektor en visekanselier, Universiteit Stellenbosch

Wanneer die eikebome begin bot met die Stellenboschberge in die agtergrond, maak Matieland gereed vir die Toyota Stellenbosch Woordfees. Vanjaar se feestema, “Deel”, nooi jou om saam met ons te kom kuier, leer en ervaar.

Kom beleef die fees en vier die dinge wat ons deel, en besin ook, met deernis en respek, oor dit wat ons verdeel. Of jy nou kuns maak of kuns kyk, by die Woordfees is jy deel van iets groters – ’n viering van ons gedeelde menswees, ons stories en ons stemme. Soos een van ons akademici onlangs opgemerk het: Wanneer ons klaar na ons mikroskope, teleskope en proefbuise gestaar en die filosofie van die waarheid van hoek tot kant bepeins het, is dit uiteindelik die woord, die letterkunde en die kunste wat vorm en inhoud gee aan ons mensheid.

Die Universiteit Stellenbosch bly ’n trotse borg van die Woordfees en het die afgelope maande met ander staatmakervennote kragte saamgesnoer
om die fees uit te bou en vir ’n selfs voortrefliker toekoms te posisioneer. Ons nooi jou graag om die Woordfees én ons kampus te kom geniet. Want die Matiegees is immers gemaak om te deel.

Lees meer

KYK EN LUISTER FYN

HENRIËTTE LOUBSER
Hoofredakteur: Netwerk24

Die wêreld dra swaar aan verdeeldheid. Daarom is die tema van vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees so nodig. Ons moet saam brood breek en na die gemene delers soek.

Dit is immers die vermoë om te deel wat homo sapiens laat uitstyg het – spesifiek dat ons woor- de en taal kan inspan om saam te werk en kennis uit te ruil en na volgende geslagte oor te dra. Mededeelsaamheid kom egter nie altyd natuurlik nie: In ons drang om die botoon te voer is ons dikwels selfsugtig en eiegeregtig.

Kom ons luister en kyk dus fyn by vanjaar se Woordfees. Die insigte wat ons deur teater, kuns, musiek en diskoers kry, kan ons help om ons eie aandeel in verdeling te ondersoek en te erken. Kultuur is nie iets wat jy besit nie; dis iets waaraan jy deelneem. Hier kan ons saam skep en ervaar en die taalerfenis vier waarvan ons almal deelgenote is.

Netwerk24 doen graag ons deel om vanjaar se Woordfees te ondersteun. Sien julle onder die eike!

Lees meer

SÓ KWEEK JY KREATIWITEIT

ANNEBELLE SCHREUDERS
Besturende direkteur: Spier-gasvryheid

Die lente in die Kaap maak sy opwagting met dieselfde belofte wat die seisoen aan die Woord- fees bring – vernuwing, moontlikhede en stories wat wag om vertel te word. Wanneer ons wingerdstokke ontwaak en die plaas ’n ontploffing van lewe word, is Spier, as ’n Stellenbosse wynmakery met sy wortels diep in die kunste, trots om die Woordfees te ondersteun.

As een van Suid-Afrika se oudste wynplase het ons nog altyd verstaan dat dit tyd verg om iets te kweek. Jy’t geduld nodig daarvoor en moet doelgerig werk. Jy moet bereid wees om moue op te rol en moeite te doen. Maar as jy aanhou en uithou op hierdie pad, sal die vrugte wat jy uiteindelik pluk altyd van die hoogste kaliber en karakter wees.

Met kuns is dit presies dieselfde. Met die nodige aandag, toewyding en eindelose nuuskierigheid sal dit groei. Spier is die trotse tuiste vir een van Suid-Afrika se grootste kontemporêre kunsversamelings. Reg oor die plaas is daar kuns wat naas die alledaagse lewe bestaan – dit is oop vir almal, ingeweef in alledaagse ruimtes en kry lewe deur tentoonstellings en geleenthede. Met Growing for Good het ons toewyding aan die kunste ons geleer dat kuns tot sy volle reg kom wanneer dit gedeel word, net soos kos wat die heel lekkerste is saam met goeie geselskap.

In Oktober, wanneer Stellenbosch ’n verhoog word vir poësie, prosa, debat, drama en musiek, nooi ons jou uit om te deel in die gees van die Woordfees. Deel stories, idees, lag en nuwe perspektiewe. Deel ’n glas wyn, ’n oomblik van nadenke, ’n vonk van inspirasie.

Lees meer