US Woordfeeskortverhaalbundel
Die US Woordfeeskortverhaalbundel
het ’n literêre instelling geword
Die eerste US Woordfeeskortverhaalbundel, Bly, het in 2016 verskyn. Sedertdien het vier ander soortgelyke bundels die lig gesien. Ál ses bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang.
Die ervare uitgewersredakteur Suzette-Kotzé Myburgh was vanaf die eerste US Woordfeeskortverhaalbundel die sameroeper van die keurpaneel. Sy verduidelik as volg wat hierdie projek uniek en besonders in die landskap van die Afrikaanse letterkunde maak:
“Die US Woordfeeskortverhaalbundel is uniek in die opsig dat nuwe skrywers en gevestigde skrywers op gelyke voet meeding – omdat die keuring volkome anoniem geskied, is die speelveld werklik gelyk vir alle deelnemers. Trouens, sedert die instelling van die hoofprys van R30 000 was nog elkeen van die vier wenners ’n debutant. Daarby kry al die ander skrywers wat die bundel haal ’n vergoeding van R5 000, wat besonder ruim is in vergelyking met soortgelyke versamelbundels.
“Aan die begin van hierdie projek was die feesdirekteur Saartjie Botha se visie om met elke bundel ’n oes kortverhale te versamel wat sal dien as ’n soort literêre jaarboek wat iets van die spesifieke tydsgees weerspieël. En dit het ons as samestellers nog telkens gevind – dat daar te midde van ’n bonte versameling temas ’n kerntema uitstaan wat verskillende skrywers as hul onderwerp gekies het sonder dat daar enige voorskrifte oor ’n tema was. As sulks vorm die Woordfeeskortverhaalbundel inderdaad ’n waardevolle tydsdokument, op die beste moontlike manier: deur die kreatiewe insigte van skrywers wat deur hulle stories ons gedeelde werklikheid verbeeld.”
Dié projek lê direkteur van die Toyota US Woordfees, Saartjie Botha, na aan die hart: “Die Woordfees het ontstaan as ’n literêre fees en die woord en skrywers is steeds die hart van ons program. Die bundel is ’n uitbreiding daarvan en ook ’n poging om die buitestander dophouer en aantekenaar – soos skrywers dikwels is – in ons jaar- en feesprogram blootstelling te gee.
“Ons is trots op die ryk oes van stemme en stories wat hierdie projek reeds opgelewer het, en sien reikhalsend uit na nuwe verhale.”
Vind uit watter skrywers die 2022 US Woordfeeskortverhaalbundel gehaal het.
Wild - Kortverhaalbundel 2022
Die 2022 Woordfeeskortverhaalbundel kan elektronies bestel word. Dit kos R350. Stuur ’n e-pos na woordfeesbemarking@sun.ac.za. Bundels vir die jare 2017 tot 2021 is ook nog in voorraad.
2022-wenner: Lynthia Julius
Die wenverhaal van die 2022-bundel was: "Plat lê soos 'n Minora blade"
2021-wenner: Coen Basson
Die wenverhaal van die 2021-bundel was: "Eenzaamheid"
2020-wenner: Marie Toerien
Die wenverhaal van die 2020-bundel was: "Bitter Daisies"
2019-wenner: Hendie Grobbelaar
Enrique Grobbelaar se kortverhaal “Binnelandse Sake” is met finansiële ondersteuning van kykNET tot ’n kortfilm verwerk wat by die 2019 kykNET Silwerskermfees vertoon is.
2018-wenner: Clari Niemand
Haar wenkortverhaal, “Non(Kompos)Mentis”, is ook met finansiële ondersteuning van kykNET tot ’n kortfilm verwerk wat by die 2018 kykNET Silwerskermfees vertoon is.
2017-wenner: Michèle Meyer
Haar wenkortverhaal, “Langsaan”, is ook met finansiële ondersteuning van kykNET tot ’n kortfilm verwerk wat by die 2017 kykNET Silwerskermfees vertoon is.
Geen algehele wenner is in 2016 aangewys nie.
Die hoofprys is eers in 2017 ingestel nadat Du Toitskloof Wyne begin het om die prysgeld te borg.
Ondersteun deur:
Waar kry ek my Woordfeeskortverhaalbundel?
Indien jy die bundel wil bestel, stuur ’n e-pos na woordfeesbemarking@sun.ac.za. Bundels vir die jare 2017 tot 2020 is ook nog in voorraad.
Pryse:
2022: R350
2021: R300
2020: R150
2019: R100
2018: R50
2017: R50
2016: R50
R500 vir ‘n pakket van ses bundels: 2021, 2020 & 2019 + 2018/2017/2016
Algemene vrae
Die bundel word elke jaar in ’n beperkte oplaag uitgegee wat aanvanklik slegs by die Toyota US Woordfees te koop was. Die 2022-bundel, asook alle oorblywende eksemplare van die vorige ses Woordfeeskortverhaalbundels is by die Woordfeeskantoor beskikbaar om te koop.
Plaas ‘n bestelling by woordfeesbemarking@sun.ac.za
Die 2023-kortverhaalbundel sal by Woordfees 2023 bekend gestel word en die 2023-wenner sal ook by hierdie geleentheid aangekondig word.
Elke skrywer kry een gratis outeurseksemplaar by die bundelbekendstelling. Skrywer wat nie dié geleentheid kan bywoon nie, sal hul boeke per koerier ontvang. Die koerierkoste is vir die betrokke skrywer se eie rekening.
Hou die media en die Woordfees se digitale platforms dop vir aankondigings in dié verband. Jy kan hier op die Woordfeesnuusbrief inteken om op hoogte van die jongste feesnuus te bly.