Boodskappe van ons borge
’N INSTRUMENT VIR NASIEBOU
LEON THERON
Senior visepresident: Verkope en bemarking Toyota Suid-Afrika Motors
Die 2026 Toyota Stellenbosch Woordfees is op ons – ’n goeie herinnering om weer weg te breek, te skep en bande te smee.
Ek het oor die jare talle groot kunstenaars waargeneem wat almal een ding in gemeen het: Hulle daag op met voorneme – nie net om op te tree nie, maar om ook die ingewikkelde verbondenheid van die mensdom ten toon te stel.
In Suid-Afrika het ons die voorreg van ’n uiteenlopende nasie, maar ons naasbestaan definieer steeds die essensie van “local is lekker”. Ongeag ’n mens se agtergrond, weerspieël alledaagse uitdrukkings soos “bathong” of “ma se kind” die uitruil van stories en liedjies oor ons diepe verbondenheid. ’n Mens hoef nie die taal te verstaan om ’n musiekuitvoering te geniet of verwonderd na ’n improvisasie te kyk nie. Hierdie voorbeelde wys nie net hoe musiek, kuns, kultuur en kreatiwiteit ons almal verbind nie, maar beklemtoon ook die belangrikheid van die bedryf as ’n instrument vir nasiebou.
Dit is binne dié ryk kulturele landskap dat Toyota Suid-Afrika Motors opgewonde is om die sewende agtereenvolgende jaar as die amptelike borg van die Stellenbosch Woordfees terug te keer. Vanjaar se tema – “Dis hoog tyd” – moedig ons aan om die kunste te erken; nie net as ’n instrument vir nasiebou nie, maar as ’n beduidende bydraer tot die ekonomie. Kunstenaars is meer as bewaarders van ons stories, erfenis of vermaak – hulle skep werk, stimuleer toerisme en bevorder inklusiewe groei.
Laat ons vanjaar by die 2026 Toyota Stellenbosch Woordfees vir kunstenaars die erkenning gee wat hulle verdien – nie net vir hul kreatiewe briljansie nie, maar ook vir die tasbare waarde wat hulle vir ons gemeenskappe en die land as geheel inhou. Wanneer ons in die kunste belê, belê ons in mense om sodoende potensiaal, waardigheid en geleenthede te ontsluit.
Kom ons eer die kunstenaars wat dit waag om te skep, te bevraagteken en te inspireer tydens die fees en daarna.
Dit is hoog tyd dat hul invloed erken word. Dit is hoog tyd dat hul waarde versterk word. En dit is hoog tyd dat ons saam vorentoe beweeg.
GEE AANDAG, RAAK BETROKKE
PROF. DERESH RAMJUGERNATH
Rektor en visekanselier, Universiteit Stellenbosch
Dis hoog tyd. Tyd om weer bymekaar te kom. Tyd om te luister, te kyk, te dink – en ook fees te vier. Die Stellenbosse lente bied soos gewoonlik die ideale agtergrond vir ’n fees wat nie net vermaak nie, maar ook verruim.
Sedert die Woordfees se ontstaan in 2000 het dit ontwikkel van ’n intieme viering van taal en letterkunde tot een van die land se voorste kunstefeeste vir teater, musiek, die geskrewe woord en visuele kuns. Dit is nou ’n plek waar menigte nuwe kreatiewe idees vorm aanneem.
Die tema spreek tot die oomblik waarin ons ons bevind. Dit is ’n uitnodiging, maar ook ’n uitdaging: om aandag te gee, betrokke te raak, en die rol van die kunste ernstig op te neem in hoe ons mekaar en die wêreld verstaan. In ’n tyd van vinnige verandering herinner die Woordfees ons aan die krag van verbeelding.
As gasheer en stigterborg is dit vir die US ’n voorreg om hierdie platform vir kunstenaars, denkers en gehore moontlik te maak. Ons glo dat die Woordfees nie net ’n viering van die kunste is nie, maar ook ’n bydrae tot ’n meer inklusiewe samelewing.
Geniet die fees!
HOOG TYD, GEWIS
HENRIËTTE LOUBSER
Hoofredakteur: Netwerk24
Dis dringend noodsaaklik dat ons ’n land word waar mense vol hoop kan lewe en toekomsdrome kan koester. Waar jy kan staatmaak op ’n plaaslike en nasionale regering wat belastinggeld vir dienslewering (en werkskepping) gebruik en nié vir selfverryking nie.
Die tyd is ryp dat ons ophou om klakkelose en eendimensionele menings uit te spreek, mense in enkelvoudige boksies sit en te lui is om genuanseerd te dink en te doen oor die wonderlike maar ingewikkelde wêreld waarin ons leef.
Dis die regte tyd om ’n bymekaarkomplek soos vanjaar se Woordfees te gebruik om die kreatiewe en verbeeldingryke te stimuleer en jouself aan ander en anderster bloot te stel.
Netwerk24 help graag hiermee deur as Woordfees-borg kunstenaars te ondersteun – hulle wat oor intellek en emosionele intelligensie beskik, wat die wêreld, die self en ander verstaan, maar ook spel en innovering en sommer ook entrepreneurskap en ondernemingsgees alles saamgooi. Met ons gespreksreekse wil ons feite van fopnuus onderskei en dieper boor in vraagstukke wat saak maak. Kom kuier saam en vind mekaar by die Netwerk24-feeskafee.
Onthou, hoe groter die uitdagings, hoe groter ook die geleentheid vir vernuwing. Dis hoog tyd!
LIG JOU GLAS OP DIE KUNSTE
ANNEBELLE SCHREUDERS
Besturende direkteur: Spier-gasvryheid
As een van Suid-Afrika se oudste wynplase begryp ons wat die waarde is van volharding en veerkragtigheid. In die landbou, kultuur en gemeenskap word dié eienskappe geslyp deur langtermyn-toewyding eerder as korttermyn-gebare.
Ons ondersteuning van die kunste is geanker in dié veronderstelling.
Dit is vir ons aangenaam om ’n driejaar-ooreenkoms te bevestig as platinumborg van die Woordfees. Die Woordfees het oor baie jare gewys wat volgehoue toewyding aan die kunste is – deur deurlopend ruimte te skep vir skrywers, kunstenaars en gehore en ’n betekenisvolle bydrae te lewer tot Suid-Afrika se kultuurlandskap.
Ons betrokkenheid weerspieël ’n doelbewuste keuse om instellings te ondersteun wat doelgerig en met groot ywer deurlopend goeie werk doen.
Ons sien daarna uit om dié Oktober betrokke te wees by ’n program wat gaan oor idees, taal en lewendige gesprek – en om dié gesprek aan te bied in ’n omgewing wat geslyp is deur kreatiwiteit, kunstigheid en goeie wyn.
DIE FEES IS PERSOONLIK
CAREL NOLTE
Bemarkingshoof: EasyEquities
By EasyEquities is dit vir ons ’n voorreg om weer deel te wees van die Toyota Stellenbosch Woordfees as ’n platinumborg. Ons betrokkenheid strek oor jare, en soos die fees gegroei het, het ons doelbewus ons rol verdiep. Dankie aan elke kunstenaar, organiseerder en besoeker wat hierdie fees moontlik maak. Julle skep iets besonders.
Vir my is ons betrokkenheid ook persoonlik. Ek het op Stellenbosch gestudeer en woon nou weer hier. Die dorp met sy energie en kreatiwiteit maak die Woordfees werklik uniek.
Daar is ook ’n interessante verband tussen kuns en belegging. Albei vra geduld, nuuskierigheid en die vermoë om anders te kyk. Kuns vorm hoe ons dink, en hoe ons dink, vorm weer hoe ons belê.
By EasyEquities glo ons in toegang – nie net tot markte nie, maar tot idees en geleenthede.
Geniet die fees. Mag dit inspireer.