Reinet Nagtegaal-teksprys
Die grootste teksprys in SA, in samewerking
met die Toyota Stellenbosch Woordfees
In 2024 het die gesogte Reinet Nagtegaal-teksprys, voorheen bekend as die Nagtegaal-teksprys, herleef in samewerking met die Toyota Stellenbosch Woordfees. Dit is die grootste teksprys in Suid-Afrika en het vir groot entoesiasme in die teatergemeenskap gesorg.
“Nie net is daar ’n element van opwinding en die aanmoediging van substansiële prysgeld nie, daar is ook prestigewaarde en die geleentheid om werklik aan ’n teks te skaaf voor dit opgevoer word,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees.
Die prys is aanvanklik van 2002 tot 2010 toegeken en is geskep deur Dirk en wyle Reinet Nagtegaal. Ter ere van Reinet, is die prys in 2025 na haar hernoem vir haar filantropiese inisiatief en bydrae tot die teaterbedryf. Dit het ’n groot leemte gelaat toe die kompetisie in 2010 gestaak is. Die eerste wenner was Pieter Fourie vir Koggelmanderman, en ander bekende teaterproduksies soos Die naaimasjien (Rachelle Greeff) en Draadwerk (Daleen Kruger) is gebore uit hierdie kompetisie.
“Ons wil topskrywers lok om gehaltetekste in te skryf wat vir die verhoog ontwikkel kan word en uiteindelik op die planke gebring kan word,” sê Dirk.
Die algehele wenner ontvang naas prysgeld, ook mentorskap en ondersteuning met die finale afronding van die teks, en die moontlikheid van ’n speelvak by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Daar word verder twee naaswenners aangewys, wat ook prysgeld ontvang. Die wenner van die eerste Nagtegaal-tekprys in sy nuwe era, is Dianne du Toit Albertze met haar teks Huis van sand.
Inskrywings oop
Inskrywings vir die 2026 Reinet Nagtegaal-teksprys is oop tot 5 Desember 2025.