Ons storie
Die Toyota Stellenbosch Woordfees
Die lekkerste “deel”
Die Toyota Stellenbosch Woordfees is ’n smeltkroes van uitdrukking en kultuur wat jaarliks die diversiteit en invloed van die kunste in Stellenbosch saamsnoer. Met vanjaar se tema, “deel”, vier ons 25 jaar van daad by dié woord voeg deur stories, sinergie en samewerking. En almal kan deel wees van die ervaring. Lees hier meer oor hoe jy jóú aandeel in die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees kan kry. Van 11 tot 19 Oktober 2025 hou ons groot jolyt in die Eikestad met ’n smaak vir elk en ’n storie van almal. Met meer as 400 produksies vind en vier ons mekaar in ’n warrelwind van energie, kreatiwiteit, boeke, skrywers, teater, musiek, kuns, dans, diskoers, films en soveel meer.
Stellenbosch Woordfees NPC
Die Woordfees het in 2000 by die Universiteit Stellenbosch (US) ontstaan as ’n deurnagviering van Afrikaanse woordkuns. En oor die laaste 25 jaar het ons gegroei tot een van die grootste kunstefeeste in Afrika met omtrent 50,000 jaarlikse feesgangers.
In 2024 het die fees oorgegaan na ’n niewinsgewende maatskappy (NPC) met sy eie bedryfstrukture buite die US.
Dié struktuur stel die fees in staat om besluitneming vaartbelyn te maak, kostedoeltreffendheid te verbeter, en langtermyn-volhoubaarheid te verseker te midde van veranderlike befondsing vir die kunste.
Terwyl die administratiewe- en jurisdiksieraamwerk ontwikkel is, het die fees se visie, span en identiteit onveranderd gebly. Asook al die borge en vennote het hul steun aan die Woordfees in hierdie nuwe formaat voortgesit.
Ons impak
Die Woorde Open Wêrelde-projek (WOW) kweek by leerders ’n liefde vir woorde deur leesbevordering, spelkompetisies, skrywersbesoeke en slypskole vir kreatiewe skryfwerk. WOW bereik jaarliks meer as 2 500 skole en 270 000 leerlinge dwarsoor Suid-Afrika.
Die WOW-projek open ook die wêreld van tersiêre opleiding vir leerlinge uit voorheen benadeelde gemeenskappe deur beurse, akademiese ondersteuning en mentorskap te verskaf om hierdie jong mense nie net toegang tot tersiêre geleenthede te gee nie, maar om hulle ook só te ondersteun dat hulle hul studies suksesvol kan voltooi.
Gedurende die Woordfees word ’n WOW-program aangebied wat lesers, onderwysers en skoolhoofde in die wynlande geleenthede gee om aan verskeie gesprekke en akademiese debatte deel te neem en ook ’n hele aantal uitvoerings by te woon wat liefde vir die geskrewe en gesproke woord stimuleer en bevorder.
US-koor
Die Woordfees bestuur en koördineer die gevierde Universiteitskoor Stellenbosch (US-koor) wat in 2018 skoonskip by die prestige-ryke Llangollen Internasionale Musiek-eisteddfod in Wallis gemaak het deur al drie kategorieë waaraan hulle deelgeneem het (Jeugkore, Gemengde kore en Oop kore) te wen. Die koorleier, André van der Merwe, het die Jayne Davies-prys vir beste dirigent by die Llangollen-eisteddfod ontvang. Die US-koor is sedert 2012 nommer een op die Interkultur-wêreldranglys van ’n 1 000 internasionale kore.
Hierdie merkwaardige koor bestaan uit 120 US-studente uit alle akademiese dissiplines wat saamgesnoer word deur hul liefde vir musiek en sang.