Miller is ’n nuweling by die Orrelweek. Sy indrukwekkende program bestaan uit vier Offertoriums van Michel Corrette, Théodore Dubois, Louis Vierne en Gervais- François Couperin, asook die Finale uit die 6de Simfonie van Charles-Marie Widor. Miller is orrelis van die Nuwe Apostoliese kerk De Kuilen.
Die tyd vir offergawe gedurende die erediens is die tyd vir gee, sodat gedeel kan word. Die Offertorium as musiekgenre het ontstaan uit die Offertorium-moment in die Katolieke liturgie. Offergawe-musiek in klassieke eredienste hoef nie ’n vervelige gestamel te wees nie. Veral Franse komponiste het die Offertorium-genre (in Frans Offertoire) aangegryp en opwindende werke geskep vol kontras in atmosfeer, tempo en virtuositeit. Elke orrelis se program bevat hoofsaaklik Offertoriums of Offertoires. Die besonderse Moederkerk-orrel se verskeidenheid van klankkleure word ten toon gestel, en nabybeelde van die orrelis se hande en voete word op die skerms vertoon.